In die week het ek my verjaarsdag gevier. Natuurlik was my dag vol bederf, boodskappe en mooi wense wat instroom, en 'n paar geskenkies. Later die aand toe ek nou so by myself sit, wonder ek net waarom ons verjaarsdae vier. Ek word geluk gewens en kry geskenke omdat ek ouer word en nog 'n jaar oorleef het, maar ek het nie werklik 'iets' gedoen nie, dis bloot net genade wat my nog 'n jaar deur gedra het, en dit het my aan die dink gesit vir 'n paar dinge wat ek in my nuwe jaar wil onthou:
Om nog 'n jaar gespaar te word, is net die Here se genade. Aan die einde van my verjaarsdag het ek 'n punt daarvan gemaak om die Here te dank dat Hy my nog 'n jaar deurgedra en bewaar het. Sê ek vir die Here genoeg dankie? Daar is soveel om voor dankbaar te wees, maar hoe vinnig kla ons nie. Kla oor ons werke, ons mans, ons kinders, ons huistake. Maar in dit alles is soveel seëninge en genade. Ek wil meer en vinniger begin dankie sê as wat ek kla.
Terwyl ek die mense se boodskappe lees van " 'n mooi, sagte hart", " 'n inspirasie", "bly soos jy is", is ek amper verbaas want ek voel meeste van die tyd asof ek so hard probeer om 'n beter mens en vrou van God te wees, maar meeste van die dae misluk. Ek besef ek is soms te hard op myself, maar erken ook daar is sekere areas in my lewe waaraan ek moet werk en verbeter. Hierdie boodskappe motiveer my om werklik daardie vrou te word wat ander sien. Een wat opreg liefhet, vir ander omgee en hulle belangrik laat voel, 'n inspirasie en 'n voorbeeld is, en in al my dade en woorde vir ander Jesus wys.
Ek het my man ontmoet net voor my 26ste verjaarsdag. Dis agt jaar later en al wat ek kan sê is dat die tyd behoorlik gevlieg het. Ek voel soms of ek baie geleenthede deur my vingers laat glip het en ook dat ek jare gemors het deur te sukkel met dinge soos bitterheid. As ek nou terugkyk voel ek asof dit alles so onnodig was en ek kon soveel meer mooi herinneringe eerder geskep het. Ek wil nie meer oomblikke laat verby gaan nie, ek wil bietjie meer waag as dit by my drome kom, en ek wil die hier en nou geniet en ten volle leef, want net so is dit ook verby, en ek wil nie meer spyt wees nie.
'n Verjaarsdag is soos Nuwejaar. Maar dis jóú spesiale skoon bladsy. Ek begin nou weer met my 365 (+1 vir volgende jaar) dae en ek wil hulle elkeen laat tel. Tyd gaan te vinnig en die lewe is te kosbaar. Ek plaas my jaar in die Here se hande. Mag Hy vooruit gaan en my lei na waar Hy my wil hê.
Gelukkig is ons nooit te oud vir die Here om ons te gebruik of ons lewe te kom verander nie. En solank as wat Hy my nog 'n dag gun, wil ek dit voluit vir Hom leef.