Ek weet nie van julle nie, maar ek is klaar met lysies. Aan die begin van 2022 is daar ‘n kleurvolle A3 papier op my eensaam-koshuismuur geplak met doelwitte wat ek graag wou bereik. Doelwitte soos “neem deel aan Mej Oosterhof” of “staan vir HK” is so vinnig soos wat hulle teen die muur vasgeplak is, weer afgehaal en in die asblik gegooi. Semester 1 was nog nie eers halfpad nie, en my sogenaamde bucketlist was alreeds 2022 se gister.
Fast forward na die 2023-ek wat vandag hier sit en skryf – ek is ‘n finalis vir Mej Oosterhof 2023 en wanneer ek na die HK’s se moeë gesiggies kyk kruip daar ‘n dankbaarheid in my hart dat 2022 nie noodwendig verloop het soos wat ek gedink het hy sou nie. Ek sê nie dat ons sonder planne, doelwitte en drome deur die lewe moet gaan nie. Ek persoonlik het doodeenvoudig net opgegee om myself te straf wanneer my jaar nie volgens sy lysie verloop nie. My en God se bucketlist verskil hemelsbreed van mekaar. Hy het geweet ek was in 2022 nog nie reg vir ‘n uitdaging soos ‘n Mej Oosterhof kompetisie nie. Hy was toe nog besig om aan my te werk. Hy was besig om my bietjie vir bietjie te breek en my sterker aanmekaar vas te plak sodat my vlerke vandag kan vlieg.
Ek dink ons vergeet partymaal dat vandag se glimlag ‘n jaar gelede se gebed is wat uiteindelik uitspeel soos wat God dit beplan het ... nie soos wat ons dit toe wou hê nie. Nee, erken dit nou maar aan jouself, jy sou nie toe reg gewees het vir ‘n nuwe kêrel of ‘n nuwe werksgeleentheid nie. Jy sou nie toe gelukkig gewees het as jy daardie keuse op jou eie geneem het en jou lysie gevolg het soos wat jy alleen hom beplan het nie. Al het jy toe gedink jy sou. Hy het anders gedink.
Liewe Vrou, laat Hom toe om namens jou te beplan. Glo my, dit sal jou van soveel onnodige stres verlos. Sy bucketlist word in elkgeval gevolg, so waarom jouself uitput deur jou eie een op te stel en jouself keer op keer teleur te stel wanneer jy hom nie afgehandel kry nie? Leer jouself om verras te wees oor wat volgende op jou “lysie” afgetik word. Leer jouself om toevallig (of sal ek eerder sê “Godvallig”) op doelwitte af te kom en dit dan as dankbaarheid neer te pen, eerder as om jouself moeg te maak en te stres oor wat jy nog (volgens jou lysie) moes bereik.
Liewe Vrou, raai wat ... jy vorder goed. Jy voltooi elke dag nog ‘n item op God se lysie, omdat jy staatmaak op Sy wil en Sy pas.