Dit was ‘n tawwe paar dae. Of eerder ‘n paar weke.
Dinge verander in ‘n oogwink, en waar jy een oomblik nog besig is om te ‘deal’ met die een ‘issue’ duik die ander een op.
Dit het gevoel soos een baie lang rollercoaster ride, en ek wou net skreeu ‘stop, laai my net hier af’.
Maar, ongelukkig is die alledagse lewe nie so eenvoudig nie, waar jy nie net kan skreeu stop nie.
Met al die kwaad, irritasie, angs en hartseer wou ek net in ‘n bolletjie iewers opkruip, en net so bly totdat ek weer mens voel.
En nee, daar het niks erinstig gebeur nie. Maar then again, moet ek myself bietjie slack gee, want na amper 10 maande het ek weer begin werk, in dieselfde bedryf wat ek gedink het, ek het ‘retire’ van. (Binnekort sal ek bietjie meer vertel).
Maar nietemin, dit het net gevoel niemand sien of hoor my nie. Ek dra almal se sorge op my skouers, en ek wou net vra, maar wat van my?
Hoekom kan iemand nie net sien en my vra, is jy okay? Is jy regtig okay?
Ek sou tien teen een in trane uitbars, maar ek wou net hê daar moes iemand, veral die mense naaste aan my, moet ook so ‘in tune’ wees met my belange soos ek met hul sin is. (Bietjie selfish,ja, ek weet)
Ek’t so vasgekyk dat niemand rondom my vir my raak sien nie, of belang stel in hoe ek voel nie, dat ek amper daardie een persoon misgekyk het wat my wel raak sien, en wat my belange op Sy hart dra.
Jesus.
In die Bybel, talle kere kom sê Hy vir ons, Hy is lief vir ons, en Hy hoor ons, en Hy is daar vir ons.
Vir hierdie stuk, wil ek net drie verse uitsonder.
1 Petrus 5 vers 7 sê, ‘Werp al julle bekommernisse op Hom, want Hy sorg vir julle.’
En ekt altyd na hierdie vers gekyk, en besluit dat ek kan net na die Liewe Heer toe gaan met my ‘groot bekommernisse’, soos sal ons dit finansieël maak die maand?
Ek’t sommer besluit Hy wil tog nie hoor hoe my man of my kinders my vanogend kwaad gemaak het net omdat hulle nie hul wasgoed opgetel het en in die wasmandjie gegooi het nie.
Maar Hy wil. Hy wil deel wees van elke liewe moment van jou lewe. Hy wil hê ons moet alles met Hom deel, die goeie, die slegte en selfs die ‘in-between’ oomblikke ook.
Hy is mos tog die Een wat my aanmekaar geweef het.
Ek het dit baie mooi kom besef toe ek in hierdie tyd voel ek kan net huil, en daar is niemand rondom my waarmee ek wil of kan deel wat my nie gaan ‘judge’ nie.
Want dit het ook al ‘n paar keer gebeur – waar ek net wil praat of vra vir hulp, net om geignoreer te word. Maar Liewe Jesus doen dit nie. Hy judge nie soos mense sal judge nie, Hy ignoreer my ook nie.
Dit bring my na die volgende vers.
Psalm 139 vers 16 sê ‘U het my al gesien toe ek nog ongebore was, al my lewensdae was in U boek opgeskrywe nog voordat ek gebore was’.
En ook in dieselfde gedeelte, vers 2 sê ‘Of ek sit of ek opstaan, U weet dit, U ken my gedagtes nog voordat hulle by my opkom’.
Daar is absoluut niks wat in ons lewens gebeur wat die Here nie van weet nie. Niks.
Hy weet ook presies waarmee ons kan ‘deal’ en wat nie. Hy ken ook wat is die beste vir ons, (al voel dit nie altyd soos die beste nie).
En dan ten laaste in Matteus 11 vers 28, sê Jesus vir ons, ‘Kom na My toe almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.’
Dit is so ‘n mooi uitnodiging, hier waar ek uitgeput en oorlaai is, kan ek na Jesus toe gaan, en Hy sal vir my rus gee.
Ek leer myself nou dat ek nie terug na my ‘default settings’ sal gaan, en in ‘n bolletjie wil opkruip en toe laat dat die wêreld met al sy lelik my net nog platslaan, maar dat ek eerste na Jesus sal hardloop.
En Hom sal alles vertel wat op my hart is, en dit alles by Sy voete sal neerlê (dit daar los), en Hom sal vertrou dat maak nie saak wat gebeur nie, dit alles ten goede sal uitwerk.(Romeine 8:28).