Sosiale media maat ma-wees so moeiteloos lyk, dit skep die perfekte wêreld, maar tog weet ek en jy dat dit nie eintlik die geval is nie.
Ek verkyk my altyd aan die “reels” op instagram, waar mamma’s in hul mooiste klere op videos verskyn saam hul kinders. Vreesloos vry op die strand hardloop, in die mooiste kafee ‘n koffie en groot stuk koek geniet. Moet my nie verkeerd verstaan nie - ek sien die mooi hierin raak. Maar, hoe sal ons reaksie wees as ons sosiale medie gevul is met die “raw & real” van ma-wees?
Deesdae as ek in die publiek gesien word is daar ‘n 90% kans dat my klere kolle op het van my 8-weke oue reflux baba, my oë lyk moeër as gewoonlik en ek gaan jou nie noodwendig dadelik herken nie. Bloot vir die feit - my moeg is moeg. In hierdie nie-so-mooi deel van mamma-wees, het ek boonop nog ‘n peuter wat se emosies te groot is om te hanteer en die aanpassing van die enigste een kind na die oudste kind is oorweldigend.
Ons mag dalk ‘n episode in die winkel hê waar sussie huil omdat sy nie iets kan kry nie, mamma moet ferm nee sê en dan merk ek ‘n tannie op wat haar wenkbroue lig. Want hoe kan mens nee sê vir so klein mensie? Ja tannie, ons het perke en sussie moet leer dat sy nie altyd haar sin kan kry nie.
Sou dit vreemd wees om hierdie oomblikke ook af te neem en vir die wêreld te wys? Ons wil die idee skep dat alles mooi en maklik is, maar dit is nie die geval nie.
Ek het koffie gedrink saam ‘n vriendin en sonder om oor my woorde te struikel het ek gesê ‘sommige dae is vrek moeilik, ek sukkel!’
Toe ek dit hardop sê, het dit gevoel ek doen iets verkeerd, maar hierdie vriendin is ook ‘n mamma en sy ken die ins & outs al te goed - want, ja, ons sukkel al lyk dit nie so nie.
Mamma-wees voel dalk of jy nooit rus nie - jy moet bont staan vir alles - enige tyd! Jy moet net reg wees. Dadelik.
Mooiste-mamma , sosiale media skep ‘n beeld van Ma-wees. Ja, ons het daardie oomblikke ook. Maar die agter die skerm oomblikke waar jou klere bemors is, jou skouers hang en jy voel jy kan nie meer nie, hierdie is die oomblikke wat in my oë mooier is.
Jy gaan nie jou vuil klere, deurmekaar hare of kort-humeur onthou nie. Jy was daar in die oomblik, jy het jou alles gegee vir die kleinste mensie wat op jou staat maak. Hulle maak nie staat op ons om die perfekte video te maak nie. Hulle gaan onthou hoe was daar gespeel en gelag, saam geleef in die oomblik.
Mamma - al is jou dae nie die perfekte instagram reel nie, jy doen goed. Jy bou aan God se koninkryk, en jou chaos is perfek, al voel dit meer oorweldigend as enige iets anders.
Neem jou chaos in, neem dit ook af - want daarna gaan ons die meeste verlang!
Voor jy jou oë uitvee bly jou klere skoon, en jy tel nie meer speelgoed en kinderskoene op wat die huis vol lê nie.