Hierdie tyd van die jaar pronk die Weskus behoorlik met ‘n skouspelagtige kleurskema van veldblomme. Die een dag is die veld vaal en verbeeldingloos en die volgende dag staan jy verbaas oor hoe die blomme skielik kop uit steek – kompleet asof dit oornag daar geplant is.
Iets magies le verskuil in die plate wit, oranje en geel blomme met die see wat op die horison blink. Daar is iets in die natuurprag wat jou kop tot stillstand roep en die gedagtes van jou hart roer. Dit is iets wat mens ten minste een keer in jou lewe moet aanskou en beleef.
Deur die oop bakkie venster, by ‘n afdraai in die Weskus Nasionale park sien ek hoe ‘n groep toeriste afgemat by hul voertuie staan terwyl twee jongerige vroue mekaar in stilte vashou. My hart vertel my instinktief dat hierdie mense van iemand kom afskeid neem het en dat hulle nie met dieselfde opgewondenheid as ons deur die park ry nie.
Die dood is nie iets waaraan ek graag dink nie en die afgelope tyd is ek baie gekonfronteer met die onsekerheid van wanneer, waar en in watter omstandighede ek die mense vir wie ek lief is sal moet groet. Die nuus van ‘n jong seun wat sy stryd teen fase 4 kanker begin, en die 30jarige man en pa van twee kleuters wat sy stryd teen kanker verloor het, breek my hart.
Die sekerheid dat die lewe kort is en dat elke asemhaling en sekonde van lewe regtig net genade is, tref my opnuut. Maar die hou wat die seerste slaan is die gedagte aan spyt. Dit kom gewoonlik te laat.
Ek wonder hoeveel mense op hul sterfbed lê of langs ‘n sterfbed staan en wens dat hulle net nog ‘n bietjie tyd gehad het. Nie tyd vir Facebook scrolling nie. Nie tyd vir stertjies by stories aanlas of nie beter vir ander gun nie. Nie tyd vir nog ‘n vergadering of om nog iets by die werk af te handel nie. Nie tyd vir diete en ‘body shamming’ nie. Nie tyd vir kwaad wees en wrokke hou nie.
Net nog ‘n bietjie tyd om jou man vas te hou en sy warmte teen jou vel te voel en koffie op sy bedkassie neer te sit.
Net nog ‘n bietjie tyd om jou kleuters op die sitkamer mat te kielie en te sien hoe lyfies krul en te hoor hoe hulle skaterlag die huis vul.
Net nog ‘n bietjie tyd om jou tiener seun te herinner aan die beginselvaste jong man wat hy is.
Net nog ‘n bietjie tyd om jou dogter te sien trou of jou kleinkinders te bederf.
Net nog n bietjie tyd vir Sondagmiddag kuiers by jou ma en pa.
Net nog ‘n bietjie tyd vir jammer sê. Dankie sê. Te vergewe.
Net nog ‘n bietjie tyd vir blomme kyk, reën op jou vel voel en vars see lug in asem.
Net. Nog. ‘n. Bietjie. Tyd.
Mooiste vrou, dalk veg jy of iemand wat jy ken vandag teen ‘n genadelose diagnose. Dalk het die dokter saam met daardie diagnose verduidelik presies hoe groot jou uurglas is, en beraam teen wanneer daardie uurglas gaan leeg loop. Dalk is jy trots en tevrede met die lewe wat jy geleef het. Dalk besef jy dat die skoonheid, rykdom, status en doelwitte wat jy na gejaag het sinneloos was en geen ewigheidswaarde in hou nie. Dalk wens jy jy het jou kosbare tyd anders spandeer.
Die harde werklikheid is dat verlore tyd nie teruggekry kan word nie.
As jy van iemand moes afskeid neem voordat jy die besluit kon neem om die lug te suiwer en reg te maak waar jy verbrou het, bid ek dat jy jouself sal vergewe. Dat jy sal toelaat dat God jou vrymaak van skuldgevoelens. Dat jy bitterheid by Sy se voete sal los en jou sake sal vol maak met Sy vrede.
Mooiste vrou, ons het die genade van lewe en alhoewel ons nie weet hoeveel asem in ons longe oor is nie, kan ons vir onsself 3 dinge belowe:
1. Dat ons ons lewe voluit sal leef soos wat dit die Here behaag en die geleenthede wat Hy vir ons gee sal aangryp. Dan sal ons nooit met berou en spyt van hierdie wereld of ‘n geliefde afskeid neem nie.
2. Dat ons nie op 30 of 40 of 50 sal ‘dood gaan’ en eers op 80 begrawe word nie. Dan sal ons opstaan wanneer die lewe die mat onder ons uittrek, na beter streef, kanse vat wanneer ons moet en die volheid van die lewe ervaar.
3. Dat ons vrygewig sal blomme uitdeel aan almal met wie ons paaie kruis. ‘n Bos blomme opgemaak met dankbaarheid. Inskiklikheid. Vriendelikheid. Diensbaarheid. Saamgevat met ‘n lint van liefde. Dan sal die blomme wat ons op ‘n kis neerle uit eerbied wees en nie uit selfverwyt nie.
Mag ons aan die einde van ons lewe ook soos Paulus sê: “I have fought the good fight, I have finished the race, I have kept the faith. Now there is in store for me the crown of righteousness, which the Lord, the righteous Judge, will award to me on that day.”