Liefste, mooiste vrou
Lees hierdie WEER, hard op! “Jou identiteit word nie gevind in jou deurbraak nie”. Geduld is ‘n wagwoord. Een van die moeilikste, mees senuweetergende werkswoorde wat ek dink ooit sal bestaan.
‘n Seisoen van wag – glad nie opwindend nie. Jou emosies ry wipplank. Dit word keer op keer gevul met hoop wat omskakel in teleurstelling wanneer jou hartsbegeerte nie vervul word nie. Dit voel of daar nie ‘n doel in die lewe is nie.
Die vrae warrel deur jou kop. Hoelank nog Here, hoekom moet ek wag? Voor jy jou kan kry word jou identiteit aangetas. Ons laat toe dat ons etiekette dra van ‘kinderloos, enkelopend of selfs weduwee. Ons identiteit word egter nie gevind in ons deurbraak nie, want God het reeds ons storie geskryf. God weet wat jy nodig het en wanneer jy dit nodig het. Jy word nie gedefinieer deur ander se opinie oor jou nie. Jy is wie die Woord sê jy is.
“Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak”-Spreuke 3:5-7.
MATTHÉÜS 11:28-30. “Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is, en Ek sal julle rus gee. Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele; want my juk is sag en my las is lig”.
Verder sê God in Jesaja 60:22 "Wanneer die tyd reg is, sal Ek God dit laat gebeur". Die Here is getrou, en plant ‘n begeerte in ons harte vir ‘n rede. Dit is nie altyd nee nie, maar net nie nou nie, want ons weet: swaarkry kweek volharding, en volharding kweek egtheid van geloof- Romeine 5:3-5.
Mag jy, mooiste vrou ook volharding leer wanneer jou seisoen van wag moeilik raak, hetsy jy ‘n gebroke hart en ‘n leë baarmoeder het wat smag om ‘n bondeltjie liefde in jou arms vas te hou, of hunker na die verlange van ‘n sielsgenoot en lewensmaat wie se hand perfek in joune pas.
Geniet die nόú, en laat jou hart op God vetrou, terwyl jy wag vir God om jou gebed te verhoor.