Hierdie jaar is beslis een van my mees uitdagendste jare. Ek is beslis ouer, gryser en die lyntjies in my gesig bietjie dieper. Ek voel so effe moeg en moedeloos en die feit dat ek byna 8 maande swanger is help beslis nie met minder moeg wees nie. Ten spyte van die rowwe jaar, voel ek absoluut geseënd om die voorreg te hê om nog ‘n babatjie te kan dra. Dankie Here!
Ek voel moeg vir uitdagings. Sodra jy dink die een is verby staar die volgende een jou vierkantig in die oë, dan kan mens nie help om te wonder, “hoekom Here?” Ek worstel met vrae en die antwoorde kom nie. Party dae is lank en die nagte nog langer, maar steeds kom die son môre op en steeds is ek staande. Nou die dag vra ek myself af, “hoe het ek tot hier gekom?” En daar hoor ek God se stem, “deur my, die Here.”
Deur al my swaar tye probeer ek regtig hard vasklou aan my geloof, natuurlik is ek net mens en ek vra die vrae, hoekom, waarom, maar dit keer my steeds nie om met God te praat nie. Al is ek hoe kwaad en hoe seer, ek praat met Hom. En wys jou, hier is ek vandag steeds staande na alles wat die jaar met my en my familie gebeur het. Soms kan ek nie glo dat ek wel steeds die moed en krag het om aan te gaan nie, maar deur God se genade en liefde is ek hier!
Wow… dis hoe ek voel!
Só my doel is vandag om vir jou liewe leser te sê, met God aan jou sy, sal jy staande bly. Al is jou lewe of omstandighede hoe moeilik, al verstaan jy nie hoekom jy daardeur moet werk nie, al is jy moeg en moedeloos – God sorg vir Sy kinders. Hier is waar jou geloof regtig getoets word. Geloof is ‘n woord wat maklik gebruik word, maar ek dink ons vergeet soms die diepe betekenis van “geloof.” Geloof is ongelooflik groot!
Ek is geen pastoor of predikant nie, net ‘n dood gewone vrou wat harde klappe van die lewe ontvang, nes jy, maar ek glo aan God. Ek dink baie keer dink mense dat as jy een van God s’n is dat daar nie slegte dinge met jou kan of gaan gebeur nie, maar ongelukkig is dit nie die realititeit nie. In teendeel lyk die ongelowiges se lewe soms baie mooier en lekkerder as ons s’n, dan troos ek my daaraan dat daar iets is soos die ewige lewe en dit is al wat saak maak!
Daag jy jouself uit dat as die lewe vir jou weer ‘n harde klap uit deel, jy net so hard in jou geloof sal baklei. Lees nog meer Bybel, praat nog meer met God. Wys die duiwel dat jy nie onder die druk van jou slegte omstandighede sal faal in jou geloof nie, maar sterker ander kant sal uitkom.