ñ Engel op aarde
Die reis deur moederskap is ‘n uitdaging, propvol onsekerhede, beproewings, twyfel, maar in al hierdie oomblikke, is daar meer geleenthede om op God te vertrou.
As ek terug kyk na die dae toe ek nog onder my ouers se vlerk was, wens ek, ek het meer geluister of ten minste probeer verstaan wat hulle vir my op daardie oomblikke wou leer. Ons dae het aangestap en vandat ek uit die huis is, is daar nie ‘n dag wat ek nie aan daardie dae dink nie.
Ek dink meer aan daardie dae omdat ek besef watter belangrike fondasie my Ma in my lewe gelê het om nou toe te pas in my dogtertjie se grootmaak dae wat voorlê. Dis asof ek nou myself begin sien in hierdie klein 2-jarige se lyfie. (Ek weet dis nog “early stages” maar die tiener fases kom nog)
My tiener-self het meeste van die tyd gedink my Ma kerm en kla net, partykeer het ek sommer gedink sy is net onnodig. Ek moet mos leer, of hoe? Soms wanneer ek vir my dogtertjie iets probeer leer, is dit asof ek my Ma sê stem net hoor.
‘n Ma en dogter verhouding is iets van onskatbare waarde. ‘n Band wat regtig vir die res van jou lewe gekoester moet word.
Ek en my Ma het ‘n baie kosbare band, ek kan sê dat sy my heel beste vriendin is, ek het die wêreldse respek vir haar.
Enige vrou het ‘n moederfiguur in haar lewe nodig. Ek ken nie elkeen se pad nie - jou moederfiguur mag dalk anders lyk as myne, maar daardie vrou het, en speel dalk steeds, ‘n enorme rol in jou lewe. Sy het jou gevorm en gemaak wie jy vandag is, sy het die waardes vir jou geleer wat jy toepas op jou kinders. Sy het jou geleer hoe om lief te hê, hoe om ‘n huishouding aan die gang te hou, vrede en vreugde te bring. By haar het jy geleer hoe om ‘n goeie vrou vir jou man te wees. Sy het jou geleer hoe om konstant op jou knieë te veg, altyd aan God vas te hou, want dis waar jou kragte lê.
Vandag wil ek vir jou sê - koester hierdie verhouding. Dit is nie ‘n verhouding wat jy by ‘n vriendin gaan kry nie, hierdie is iets diepers waar jy lewenswysheid geleer het en dalk steeds doen.
‘n Ma se hande staan vir absoluut niks verkeerd nie, haar deur sal altyd vir jou oop staan, sy sal altyd jou oproep antwoord, sy sal raad gee, saam lag en saam huil. Sy sal haar lewenswysheid met alle eerlikheid deel sodat jy nie dieselfde foute maak nie, sy wil die beste voorbeeld vir jou stel en die beste vir jou hê.
Vandag, 26 jaar later, kan ek met ‘n knop in my keel sê as ek die helfte van my Ma eendag kan wees, sal ek meer as tevrede wees. Want alles wat ek is en nog gaan wees is te danke aan haar.
Mamma is ons engel op aarde!
Dankie, Mamma