ñ Knap Vrou
Die verwagtinge van ñ vrou en mamma kan soms veeleisend wees. Nie gepraat van die druk wat van sosiale media of die daaglikse samelewing kom nie.
Jou moed sak as jy die perfekte prentjie sien van ‘n mamma met ‘n opgeruimde huis en skoon uitgeblaaste hare. En jou omstandighede lyk dalk anders - die wêreld druk op elke manier. Finansies, huwelik, kinders, die lys gaan aan. Maar daardie prentjie wat jy sien - dalk lyk hul omstandighede nog erger. En dis hier waar ek besef hoe vatbaar ons as mens is, om onbewustelik te wil vergelyk en jouself te bevraagteken:
Is ek genoeg? Is ek ‘n goeie mamma? Is ek genoeg vir my man? Gee ek my alles in ons huwelik? Is dit wat ek daagliks doen werklik wat my gelukkig maak?
En dis hier waar dit my tref - geen mens se pad is dieselfde nie. Dadelik kom Spreuke 31 by my op - ‘n knap vrou word hier in al haar glorie beskryf. Toe ek hierdie Skrifgedeelte lees is dit asof iets nuuts in my wakker word. ñ Gevoel van hoop, vertroue en motivering. ñ Tipe rustigheid om te weet God het my presies gemaak soos Hy wil, ek moet dit uitleef.
Dit is in ons vrouwees natuur om haar lewensmaat in alles te ondersteun, haar kinders beter as haarself te versorg en streef elke dag na uitnemendheid binne haar huis en gemeenskap.
Vir my voel dit of dit die bevrediging van ‘n behoefte is; om iets te beteken vir ons binnekring maar ook vir ons gemeenskappe en die wyer samelewing. Jy wil iemand wees om na op te kyk, ñ opregte vriendin, ñ goeie mamma en die perfekte lewensmaat vir jou man. Om die knap vrou van Spreuke 31 te word is nie ‘n onklimbare berg waarvan jy sal aftuimel as jy probeer nie, inteendeel, dit sal voel soos ‘n uitdaging van iets wat jy wil en sal vermag.
Hier in Spreuke 31 is die aanwysings baie duidelik vir ons uiteengesit hoe om so vrou te wees. Daar vind jy die balsem vir jou siel wanneer jy die lewe se seer moet trotseer, daar vind jy die woorde wat jy oor ander uitspreek en daar vind jy die Lig wat jou wys waar om te trap wanneer dit donker is.
Vrou, Mamma, Eggenoot - watokal jou titel is. Jy word daagliks gevorm, en dié is ñ lewenslange proses en jy moet elke dag aan God vasklou. Wanneer jy eendag jou oë vir ‘n laaste maal toemaak en afskeid neem van hierdie wêreld, dan is jy uiteindelik die knap vrou waarna jy gestreef het en sal jou toewyding tot in ewigheid beloon word.