ʼn Heilige skêlwoordjie

So paar dae terug, gooi ek myself op my bed, moeg na 'n dag se struikelblokke en moeilikhede. Op my werkstafel lê my hoop papiere en knipoog vir my, vol wetend vir die werk wat vir my wag. Met ʼn kreun draai ek op my ander sy, trek die kussing oor my kop en gryp my getroue lewensmaat – my selfoon (maar ook net vir so lank af wat die battery vol is).


Ek gee gewillig in tot my media rituele en maak Facebook eerste oop. Tussen al die “ek is verloof” en “ons is so lief vir mekaar” het daar een video my oog gevang. Die video het 'n pa met twee klein dogtertjies, besig om inkopies te doen. Die jongste reik toe uit om 'n speelding te vat wat gewoonlik op die grond te vinde is toe die oudste die boks uit haar hand slaan en hard skree “NEE, jy mag nie kry nie”. Die pa was woedend en vereis onmiddellik dat die oudste omverskoning moet vra vir die jongste, maar sy wou nie dit doen nie. Die jongste het na 'n rukkie aan haar pa se mou getrek en gesê dat “dit okay is” en dat sy haar suster klaar vergewe het. Die pa skud net sy kop en antwoord: “Dis goed dat jy haar vergewe het, maar dis nie waaroor dit gaan nie. Jou suster moet leer om omverskoning te vra wanneer sy iemand seer gemaak het”. Na 'n rukkie en nadat die pa die oudste geleer het hoe om jammer te sê, loop daar 'n vrou verby (mandjie in hand en selfoon teen oor) en stamp die oudste uit die pad uit. Natuurlik het die vrou nie omverskoning gevra nie en toe hy omdraai, kyk hy in sy oudste vas wat vra: “Hoekom moet ek jammer sê, maar nie sy nie?”


Die video het my omkant gevang en ek onthou hoe ek gedink het, “hoekom vra sy nie net omverskonning nie?”, maar ek wou my hoed meer afhaal vir die pa en die verduideliking en lesse wat hy moet doen en probeer leer. Ek dink baie ouers kan saam stem dat dit nie altyd maklik is om die wêreld se nonsens vereenvoudig te verduidelik nie. Tog, een vraag het my bygebly; hoekom is dit so moeilik om jammer te sê? Hier moet ek ook byvoeg, ek verwys nie na die maklike “ek is jammer” wanneer jy perongeluk in iemand vasloop nie. Ek verwys ook nie na die “jammer” wat jy vir jou ou of meisie gee net om hulle gelukkig te hou nie. Ek verwys na daardie “jammer” waar jy weet jy was verkeerd en waar jy jouself moet bring om die “jammer” te bedoel.


Dalk het dit te doen met die feit dat ons selfsugtige mense van hart is. Alles wat ons doen, moet ons bevoordeel op die een of ander manier. Om jammer te sê, en dit te bedoel, beteken ons met erken dat ons die skuldige is. Ons moet erken dat ons verantwoorlik is vir iemand anders se grief en ongelukhede en ons moet ons nederig oorhandig aan daardie persoon vir sy/haar oordeel.

Sjoe, nê? Dit klink nie lekker of reg nie. Ek meen, hoekom moet ek myself oorgee aan Karen se oordeel wanneer sy voor my ingery het? Sien julle wat ek daar gedoen het in daardie sin? Een woord – selfregverdiging. 'n Giftige woordjie volgens my. 'n Woordjie wat die top punt van die eie ek verteenwoordig. Dalk wil ons nie die skuldige wees nie, want die skuldiges lyk nooit goed in die publieke oog nie. Ons kan maar net na jou algemene klein dorpies toe gaan om hierdie perfek in aksie te sien.

“Het jy gehoor dat...hulle verneuk...weet haar...”


Ek dink julle kon daardie dialoog self invul. Ons skinder en hou ook baie daarvan om eerder oor iemand anders se tekortkominge te praat as ons eie. Die ding is, ons hou ook nie rekenskap vir wanneer ons die ontvanger raak vir daardie einste skindertonge nie. Ons hou nie rekenskap vir wanneer ons in 'n winkel instap en al die oë volg jou soos 'n valk sin nie of wanneer ons in 'n kamer instap en almal bly eweskielik stil nie. Dis 'n ander tipe aaklige gevoel.


Okay, so, ons skinder, ons selfregverdig en ons sê jammer net wanneer dit ons kan bevoordeel, maar wat sê die Bybel oor omverskoning vra? Met die hulp van Happy, healthy and prosperous.com, kon ek die antwoord kry. Volgens die skrywer, staan daar nêrens is die Bybel “ek vra omverskoning” nie, maar die aksie en raad van omverskoning te vra voorkom regdeur die Bybel.

  1. Die eerste ding wat jammer vereis is nederigheid. Nederigheid vereis dat jy jouself nederig en besef dat 'n situasie nie net oor jou gaan nie, maar oor die ander persoon ook. Albei van julle is in 'n onsmaaklike situasie en daardie persoon mag dalk groter probleme hê as jou gekneusde ego. Daar word reeds gesê, jy weet nooit waardeur 'n persoon gaan nie tot jy vra of 'n myl in hulle skoene loop nie.


“God weerstaan hoogmoedige mense, maar aan nederige mense gee hy genade.”

- Jakobus 4:6

“Al is die Here hoog verhewe, gee Hy om vir die nederiges, maar trotsaards ken Hy van ver af” – Psalm 138:6


  1. Jammer vereis dat jy moet besef dat jy gesondig het en dat jy tenminste moet probeer om dinge reg te maak. Konflik is nie iets wat God vir jou toewens nie. Dis onplesierig en het ook die manier om jou dag te versuur en ek dink ook ons kan besef hoe konflik jou familie negatief kan beïnvloed. Ek sê nie jy moet besef dat jy alleen die skuld moet dra nie en ek dink ook nie dis wat God wil hê nie. Hy wil net hê dat jy jou deel in die konflik moet aanvaar en omverskoning vra vir jou deel daarin. God wil daarna net hê dat jy teminste moet probeer om die konflik op te los sodat jy weer kan terug gaan na jou lewe toe. Hy wil nie hê dat jy die las of nagevolge van die konflik moet dra nie. As jy dink dat jy net kan vergeet van wat gebeur het, glo my, jy doen nie. Al ons oplossings is tydelik, maar die Here sin is verewig.


“Daarom moet julle julle sondes teenoor mekaar bely en vir mekaar bid sodat julle gesond kan word. Die gebed van iemand wie se saak met God reg is, het 'n kragtige werking.” – Jakobus 5:16


“As ons egter ons sondes bely, Hy is betroubaar en regverdig om ons sondes te vergewe en ons skoon te maak van alles wwat verkeerd is.” – 1 Johannes 1:9


  1. Bekering is 'n vereiste vir 'n opregte omverskoning. Ons almal het al iemand hoor sê “moet nie jammer sê nie, wys my eerder hoe jammer is jy”. Klink bekend? Dis eintlik wat God ook wil hê. Vir 'n opregte jammer, moet jy ook poog (en slaag) daarin om weg te draai van jou sondes en jou gewoontes te verander soadat jy nie weer hoef jammer te sê vir dieselfde ding nie. Dit beteken ook nie dat jy 'n vrye pas kry vir ander gewoontes nie. Jy moet van jou ou weë wegdraai na God toe.


“Van toe af het Jesus begin om God se boodskap aan te kondig met die woorde: ‘Kom tot inkeer! God se koningsheerskappy gaan nou enige oomblik begin!’” – Matteus 4:17


“Kom tot inkeer en maak reg met God sodat Hy julle sondes sal uitgewis.” – Handelinge 3:19


Ek dink vir julle wat nog twyfel, bly die vraag nog staan: “hoekom moet ek jammer sê wanneer ander nie wil jammer sê nie”? Daar is geen maklike antwoord nie en om jammer te sê gaan ook nie makliker word hoe meer jy dit doen nie, maar God werk in snaakse maniere.

So twee jaar terug, toe ek 'n tweede jaartjie was, het ek 'n roommate gehad. Sy was hoflik en vriendelik en ons het meestal baie goed oor die weg gekom. Wat gehelp het, was dat ons twee verskillende rigtings geswot het en dus het ons mekaar net gemis by die woonstel. Sy wou haar stilte hê en ek wil my stilte hê. Dit was perfek vir twee vreemdelinge wat eweskielik by mekaar moes bly, maar ek was 'n sondenaar wat haarself flous in Christenskap en sy was 'n goeie Christen. Sy het floreer en weeklikse Bybelstudie groepies gehou by die woonstel en ek het gekripeer onder my eie wil en stres van die lewe. Die uiteinde was dat ek dinge vir haar baie moeilik gemaak het om God te aanbid in haar eie woonstel. Ek moet bieg, dit is iets waaroor ek tot in die toekoms sal skaam wees, maar dankbaar dat ek nie dieselfde persoon is nie.


Terug by die storie, sy het toe op die ou einde die studiegroepies verskuif na 'n ander plek toe en na die jaar verby was, het ons ook net stilletjies verdwyn van mekaar af. Tot en met hierdie jaar. Sy het my altyd genooi na haar Bybel groepies toe, maar ek het net altyd nee gesê en sy het ook opgehou na al ons konflik begin het oor Christenskap. Ek kan nou terug kyk en sê, die feit dat sy rondom my was, was seker 'n bedreiging vir die duiwel. Ek het seker so aggressief reageer teenoor haar geloof in God omdat ek bang was vir wat dit vir my kon beteken het. Hierdie jaar, na twee jaar van stilte, kontak sy my weer en vra of ek die groepie wil bywoon. Ek het uiteindelik in gestem en mense...ek het nooit weer terug gekyk nie. Om deel te wees van 'n groep wat oop is om enigeiemand te aanvaar en hulle te help met hulle terug keer na God – ek het nie woorde vir my ervaring nie. Tog, was daar nog een ding wat oorbly, my onopgeloste konflik teenoor haar. Die Here het ons konflik op my hart gedruk en ek weet ek moes my trots sluk om omverskoning te vra. Ek het die foon opgetel en kon net na die foon staar, ongewillig om verder te gaan. Na 'n paar minute, besluit ek om 'n voicenote oor WhatsApp te stuur en ek gooi 'n stort vloed van emosies deur die foon na haar oor hoe jammer ek vir my optrede was.


En toe kom die stilte, die wag, die gedagtes vir hoe sy sal reageer aangesien ek ou koeie uit die graf gaan uitkrap. Sy kom online en luister.


Wat daarna gebeur het, is iets wat net God kan regkry. Sy antwoord my terug, maar in plaas van 'n uitskêl of 'n koue antwoord, vra sy omverskoning vir my ook omdat (volgens haar) sy ook onverskillig teenoor my opgetree het. Op die ou einde, is ons twee meisies wat teenoor mekaar huil en lag oor gedane sake, maar uiteindelik die olifant in die kamer aanspreek en die konflik oplos. Toe ons uiteindelik die konneksie verbreek en ek my foon neersit, was dit asof 'n groot las van my skouers af gelig word en vir die volgende paar dae was dit asof ek op 'n wolkie rond sweef, totaal en al vry en verlos van my eie gevangenis en het ek sommer 'n vriendin ook bygekry.


Ek sê nie dat alle jammers so gaan verloop nie, maar om jammer te sê is beide vir jou soveel as wat dit vir die ander persoon is. Deur vas te hou aan jou woede, sondes en oorweldigende emosies, sit jy jouself meer in 'n tronk as wat jy die ander persoon straf. Glo my wanneer ek sê, jy voel eers nie die las nie en dan verneuk jy jouself deur te dink alles gaan reg uitdraai en dat niks verkeerd is nie. Hoe langer jy jouself flous met daardie gedagte, hoe swaarder word jou las en hoe meer versprei die gif en versuur ander gedeeltes van jou lewe. Om te dink, soveel nagmerries kan vermy word deur net jammer te sê. Dis nie altyd lekker nie, en verseker nie maklik nie, maar die beloning wat jy aan die naderkant van die jammer gaan kry kan nie vergelyk word met jou las waaraan jy so gretig vasklou nie.


Marianne Hennig

635 views0 comments

Recent Posts

See All

“Attitude is a choice. Happiness is a choice. Optimism is a choice. Kindness is a choice. Giving is a choice. Respect is a choice. Whatever choice you make makes you. Choose wisely.”
― Roy T. Bennett

Cape Town

All rights reserved © 2020 by Mooistevrou

  • Black Instagram Icon
  • Black Pinterest Icon
  • Black Facebook Icon