EK HET GELEER OM MYSELF LIEF TE HÊ. JY KAN OOK!’ - ANRI
Leer om jouself lief te hê. Deesdae sukkel baie van ons in hierdie gebied. Daar is baie faktore wat hier ‘n rol speel en dit maak dat ons nie onsself kan liefhê soos ons moet nie.
Wat beteken dit nou regtig om myself lief te hê? Praat mense van bubble baths, 'n manikuur of komkommermaskers? Dit blyk dat daar soveel meer is aan selfliefde as om onsself te pamperlang.
Ek het geleer dat selfliefde nie 'n bestemming is nie; dit is 'n oefening. Selfliefde is die fondament waarop ons 'n gelukkige lewe bou. Ware selfliefde gaan nie oor enigiets wat jy kan koop nie. Daarom is dit vir almal beskikbaar. Selfliefde begin van binne.
Dis iets waaraan ons daagliks moet werk. Vir iemand wat nog altyd hiermee sukkel, sal dit nie oornag gebeur nie. Wees lief vir wie jy is, foute en al. Dit is moeilik, maar dit beteken nie dat jy nie waardig is nie.
Ons is geneig om toe te laat dat ander mense ons selfwaarde bepaal. Ek is self skuldig daaraan en ek het besluit om my voet neer te sit. Ek is wonderlik, net soos wat ek is, en ek hoef nie vir ander mense te verander nie. Die regte mense gaan van die ware ek hou.
'n Gebrek aan selfliefde beteken ook 'n gebrek aan motivering en selfvertroue. Ons grootste probleem in die samelewing is dat ons almal volgens die perfekte prentjie wil lewe. Vergelyking en negatiwiteit steel soveel van ons eie geluk.
Selfvertoue, selfrespek en selfwaarde. Daar is 'n rede waarom hulle almal met "self" begin. Jy kan dit nie in iemand anders vind nie.
Hoeveel keer gaan staan jy voor die spieël en vertel jouself een ding waarvoor jy lief is van jouself? Daar sal 'n paar wees wat nie 'n antwoord daarop sal kan gee nie. Jy hoef nie alles van jouself lief te hê om selfliefde te ontwikkel nie. Al wat jy nodig het is aanvaarding en positiwiteit.
Aanvaar jouself net soos jy is. Skep gewoontes wat gesond is, nie net geestelik nie, maar ook emosioneel. Prioritiseer jou drome en maak 'n poging om dinge te doen wat jou inspireer in die lewe. Besluit om tyd te spandeer met mense wat jou ondersteun, aanmoedig en motiveer om die beste weergawe van jouself te wees.
Neem besit van jou gedagtes en moenie toelaat dat ander mense dit beïnvloed. Wanneer ons onsself uiteindelik liefhet en respekteer, is ons vry van twyfel en eindelose bekommernis.
Ons vertrou ons gevoelens en besluite, en dit laat ons dapper en outentiek voel.
Ek het geleer om myself lief te hê. Dis nie die moeite werd om toe te laat dat ander mense se opinies jou vorm en afbreek nie. Alles kom van binne af. Ek het ruimte gemaak vir gesonde gewoontes, ek het begin oefen, en dit laat my goed voel oor myself. Ek het uit my gemaksone geklim en nuwe dinge aangepak.
Wees avontuurlustig. Wees spontaan en dra daai rooi lipstiffie. As jy 'n rede soek om te verander, verander om 'n beter jy vir God te wees. En wees lief vir jouself!