52 lewenslesse vir 'n betekenisvolle 2023
Ek is seker dat elkeen van ons in 2022 baie voorspoed en teenspoed beleef het. Ons het waarskynlik baie sukses stories op sekere gebiede en liederlik gefaal op ander.
Ons was by tye uit ons vel van opgewondenheid en ander kere diep teleurgesteld. Ons was hoopvol en het baie kere op moed-verloor-se-vlakte gekuier.
Met ‘n splinternuwe jaar wat verwelkomend en vol opwindende avonture en senutergende uitdagings lê, wil ek graag 2022 se duur, waardevolle en soms bittersoet lesse met julle te deel.
Daar is geen nut daarin dat ons almal dieselfde foute maak nie. Ons hóéf ook nie oor en oor dieselfde foute te maak nie. Ons kan soveel by mekaar leer en vir ons self baie hartseer spaar.
Hier volg 52 lewenslesse - een vir elke week:
Daar is n handjie vol mense wat vir jou kaalvoet oor die Drakensberge sal stap. Stap die pad saam met hierdie soort mense, en wanneer dit jou beurt raak om die berge uit te klim, trek jou skoene ook uit vir hulle.
Ware vriendskap lê dieper as oppervlakkige gesprekke en goeie tye. Dit is ‘n plek waar seer harte heel word en waar die waarheid met n reguit hou geslaan word. Dit is n veilige hawe, maar ook die vertrek punt na n beter jý.
Wanneer mense jou nie kan beheer nie, sal hulle alles in hulle vermoë doen om te beheer hoe ander mense jou sien. Pasop vir sulke mense.
Wees versigtig vir iemand wat konstant ander in ‘n slegte lig by jou plaas - hulle plaas jóú waarskynlik in dieselfde lig tydens hul volgende gesprek.
Aksies praat harder as woorde. Oordeel mense op dit wat jy van hulle gesien het (karakter), en nie op dit wat jy by ander van hulle hoor nie (opinie).
Besin oor waarom mense juis aan jóú deur kom klop met die vars gebakte skinderbrokkies. Eet jy alles vir soetkoek op, deel jy ook graag soetkoek uit of eet jy gretig saam sonder om te sê dat soetkoekies nie na jou smaak is nie?
As jy nie deel van die oplossing is nie, is jy deel van die probleem.
Daar is 'n verskil tussen jaloers wees en afgunstig wees. Jaloesie is wanneer jy iets begeer wat iemand anders het. Afguns is wanneer jy wens dat hulle dit nie gehad het nie. Loop lig vir afgunstige mense, hul het geen gewete nie.
As jy iemand se hart ken, sal jy nooit hulle motiewe hoef te bevraagteken nie. Doen moeite om na jou binne kring se woorde te luister, en meer moeite om hulle harte te hoor.
As jy oor iets wonder, maak 'effort' om eerstehands uit te vind. Moenie bespiegel of jou eie afleidings maak nie.
Die waarheid kom altyd uit en die eerbares stap as wenners uit die stryd. Moenie moed opgee nie.
Om gerespekteerd te wees, dra veel meer waarde as om populêr te wees.
Die Here hoor gesprekke wat jy nie hoor nie. Vertrou daai stem in jou kop wat jou waarsku dat jou hart nie by sekere mense en plekke veilig is nie.
Solank jy niemand doelbewustelik skade berokken nie, het jy nie nodig om jouself aan enige iemand te verduidelik nie. Soek God se wil - nie mense se goedkeuring nie.
Daar is mense wat in ‘n kort tydjie vir jou beter dinge gun as mense saam met wie jy al vir jare ‘n pad stap. Wees dankbaar vir hierdie mense.
As jy opstaan vir wat reg is, gaan jy soms alleen staan. Staan in elk geval.
God het nie gesê die wapen gaan nie vorm nie, Hy het gesê dit gaan nie slaag nie. Jou vyande kan doen en sê net wat hulle wil, jy sal nogsteeds geseënd wees en sukses behaal.
Wanneer jy ‘n nuwe reis aanpak, moenie raad vat van iemand wat nog nooit die grense van hul huis verlaat het nie.
In hierdie lewe is daar mense wat jou sal oordeel omdat jy van besluit en mening verander. En dan is daar mense wat jou sal eer omdat jy groei. Kies jou mense oordeelkundig.
Selde van ons is so goed soos wat ons dink ons is. Niemand van ons is so goed soos wat ons kan wees nie. Moenie bang wees vir foute maak nie.
Luister na goeie raad en leer by die beste.
As jy n plek bereik het waar jy nie enige verwagtinge het nie, maar ‘n lys ononderhandelbare vereistes, is jy op 'n goeie plek.
Jy is waar jy is oor die besluite wat jy geneem het. As jy nie is waar jy wil wees nie, neem ander besluite.
Jou ‘triggers’ is jou eie verantwoordelikheid. Dit is nie regverdig dat die wêreld rondom jou op eiers moet loop nie.
As jy konstant ‘n beer met ‘n seer poot is, kry hulp. Maak jou wond gesond. Moenie ander se koppe afbyt omdat jy pyn ervaar nie.
Om meer gedoen te kry behoort nie die doelwit te wees nie. Om minder te hê om te doen behoort te wees.
Wanneer jy hoë standaarde stel sal die ‘high performers’ beter presteer en die ‘under performers’ sal die eerste uitkom kans vat wat hul kan kry. In ieder geval, sal die uitkoms en die kaliber mense om jou verbeter. Stel hoë standaarde en hou jouself en die mense rondom jou daarby.
Moenie bang wees om iets nuut te probeer nie. ‘n Amateur het die Ark gebou. Professionele skeepingenieurs het die Titanic gebou.
Wanneer God jou vir iets roep, sal Hy jou daarvoor toerus. Wees braaf.
Soms maak God eers die uitkoms bekend nadat jy gehoorsaam was aan die opdrag. Wees gehoorsaam.
Disrespek is nie 'n bevestiging van die ontvanger se waarde nie. Dit is ‘n bevestiging van die gewer se karakter. Jy is waardig en God het jou só lief - irrelevant van hoe mense jou behandel.
Moenie ooit smeek vir ‘n plek aan iemand se tafel wanneer jy in staat is om jou eie tafel te bou nie. Glo in jouself en in jou vermoëns.
Wanneer jy swak gedrag en afbrekende woorde duld, word dit die norm.
Goeie leiers gee om oor WAT reg is - nie oor WIE reg is nie.
Nie elke plek waar jy inpas, is waar jy hoort nie. Onthou wat jou Ouma jou geleer het van met semels meng en jou pêrels vir varke gooi.
Dit is beter om vir een enkele dag 'n leeu te wees as 'n skaap vir jou hele lewe.
Bly naby aan mense wat meer VIR jou wil hê en nie meer VAN jou wil hê nie.
Besluit watter lewe jy wil hê en sê nee vir alles wat nie dit is nie.
Gemiddelde spelers wil hoor hoe goed hulle is. Uitstekende spelers wil hoor hoe hulle kan aanhou beter word. Besluit watter speler jy is.
As jy ‘n eerlike persoon wil kwaad maak, vertel ‘n leuen. As jy ‘n oneerlike persoon wil kwaad maak, vertel die waarheid.
Probeer om nooit die slimste persoon in die vertrek te wees nie. As jy is, nooi wyser mense of soek ’n ander vertrek.
Moenie jou standaarde laat sak vir mense wat weier om hulle sin te verhoog nie.
Jou optrede is nie aanvaarbaar net omdat jou seerkry verstaanbaar is nie.
Niemand was jammer toe jy nie daarvan geweet het nie. Mense is gewoonlik spyt dat jy die waarheid uitgevind het, hulle is selde spyt oor hul optrede.
Elke woord dra gevolge. Elke stilswye ook.
Geduld is nie die vermoë om te wag nie. Dit is die vermoë om n goeie gesindheid te hê terwyl jy wag.
Sonder mededinging is daar nie vooruitgang nie.
Stap weg van mense wat jou foute uitwys terwyl jy hulle sin oorsien.
Wanneer jy beter vir jouself kies, tel dit gewoonlik nie in ander se guns nie. Die mense wat nie meer sal voordeel trek nie, is gewoonlik die mense wat nie vir jou beter gun nie.
Net omdat iemand met jou verskil, beteken dit nie hulle is jou vyand nie.
Soms sal mense eers die waarde van jou maaltyd besef wanneer jy dit by ‘n ander tafel bedien.
Jy is vry om te kies wat jy wil, maar nie vry van die gevolge daarvan nie.
Mooistevrou, die nuwe jaar lê skitterblink en roep jou naam.