A Quarter-Life Crisis
Ek lag soos ek hierdie titel tik… Is dit dan nie ’n midlife crisis nie? Dit wat party ooms in hulle 40’s of 50’s kry? Nou het ek dit. Eks nie 50 of ’n oom nie, maar ek dink wel dat ek net dalk vir die eerste keer bietjie begrip het met dit waardeur hulle gaan.
Ek is ongetroud en het geen afhanklikes nie, so ek dink my quarter life crisis gaan nie oor of ek die regte lewensmaat gekies het en ek wroeg ook nie oor of ek ’n goed genoeg ma is nie. Dit kom uit ’n ander plek. ’n Plek waar ek wonder of ek die regte beroepskeuses maak en as ek doen wonder ek of ek dit reg doen? Ten volle doen? En as ek die verkeerde keuse gemaak het, wat dan? Dit stop nie by beroepskeuses nie, maar meeste van ons is vir die grootste deel van ons dae besig met werk.
Die woord krisis is nie normaalweg iets waaraan ek positiewe konneksies sal bind nie, maar vandag is dit. Vandag is ‘krisis’ iets wat my tot stilstand dwing. Iets wat my binnetoe laat kyk.
Ek het nou die dag ’n artikel gelees oor hoe om beter te skryf. Punt is: Ons moet skryf soos ons praat. Hierdie is nie ’n skryfstuk wat ’n Grammy gaan wen nie, maar ek hoop daar is nog van julle daar buite, wat vandag, soos jy die lees, saam met my binnetoe kyk.
Soos ek nou praat, of skryf, besef ek dat die titel seker bietjie dramaties is, maar kom ons gaan met dit. Hier is ’n paar vrae wat jy vir jouself kan vra om uit te figure hoe dit lyk as jy binnetoe kyk. Ek wil ook klem daarop plaas dat jy hierdie vrae kan aanpas om te pas by vriendskappe en jou verhoudings ook. Alles gaan nie net oor werk nie, maar dit is definitief ’n groot beginpunt:
Hou jy van wat jy doen? Indien ja, lees aan. Indien nee, lees ook aan.
Vervul dit wat jy doen jou? Daar is ’n groot verskil tussen van iets hou en deur iets vervul te word. Wat is die verskil? Vervulling bring ’n tevredenheid. As jy bloot net van iets hou sal jy jouself dalk vang waar jy dagdroom oor iets anders of bloot net nie tenvolle ‘pleased’ is nie.
Bring dit wat jy doen vryheid of vrees?
Is dit vir jou maklik om in die oggende op te staan?
Doen jy dit wat jy tans doen omdat jy moet of omdat jy wil?
Maak dit wat jou doen jou beter? Of bring dit jou af?
Beïnvloed dit waarmee jy besig is jou verhoudinge/vriendskappe positief of negatief?
Voel jy trots op dit waarmee jy besig is of bereik?
En dan BAIE BELANGRIK: Geniet jy dit?
Ek weet dit is ’n mondvol, maar ons skuld dit aan onsself. Hierdie een lewe wat jy het verdien om voluit gelewe te word. Dit verdien jou heel beste. Jy verdien jou heel beste.
Ek los jou met die volgende woorde van Jim Carry - “You can fail at something you don’t love, so why not take a chance on that which you do”.