AANVAAR DIE DAAGLIKSE UITNODIGING WAT VIR JOU GEGEE WORD. - ♡ - CHARNE

Kry jy ooit ‘n gevoel van ontevredenheid met jou lewe of met die huidiglike situasie waarin jy jouself bevind? Daai gevoel of soeke na iets groter en beter as wat jy tans in jou lewe ervaar. Wel ek kan beslis myself met hierdie stelling vereenselwig. Somtyds is dit moeilik om tevrede te wees met ons lewens omdat meeste van ons dae so “normaal” of “kleurloos” voel. Dit is beslis nie baie glansryk om heeldag agter ‘n tafel te sit of by die huis te kom net om nog ‘n koffie vlek uit jou wit hemp te wat jy seker is het jy gister ook gewas nie.  Maar die werklikheid van dit alles is, dat vir meeste van ons is dit hoe ons daaglikse lewens lyk en nog gaan lyk vir grootste deel van ons toekoms.   Ons het so verkeerde idee begin ontwikkel van wat die lewe moet wees omdat ons konstant vaskyk in lewens wat geskep word vir sosiale media. Ons begin ons eie lewe te meet aan dit wat voorgehou word as die “perfekte” lewe.  Ons vergeet vinnig dat niemand in werklikheid konstant “perfek”, uitgerus en op een of ander avontuur kan wees nie. In die regte lewe is meeste van ons se lewens gevul met alledaagse en vervelige oomblikke.  Ons is besig om ons eie geluk te steel op ‘n daaglikse basis omdat ons konstant voel dat ons in ‘n seisoen van onvrugbaarheid of ontevredenheid is. Maar ek is van die opinie dat as ons anders begin kyk na ons daaglikse lewens ons moontlik ‘n ander uitkyk sal hê op dit wat ons daagliks verrig.  Elkeen van ons word daagliks uitgenooi deur God om die dag positief aan te pak. Ons word uitgenooi met die reuk van vars koffie. Ons word uitgenooi deur die gefluit van die voëls van vroegoggend af. Ons word uitgenooi deur die vriendelike koerantman by die stopstraat. Ons word uitgenooi deur die daaglikse boodskap wat jy ontvang in jou stiltetyd. Ons word uitgenooi deur die handdruk van jou klient. Ons word uitgenooi deur die helder kleure langs die pad van die veldblomme as jy vêr ry. Ons word uitgenooi deur jou kollega wat jou vertel van sy dag of ondervinding. Ons word uitgenooi deur die in-diepte gesprek met jou medemens. Ons word uitgenooi deur die kospakkie wat jy van vergeet het en teen middagete weer oopmaak. Op die ou end van die dag moet ons besluit wat ons met die daaglikse uitnodigings gaan maak wat vir ons deur die genade en onvoorwaardelike liefde van God gegee word. Ons het elke dag die geleentheid om dit waarmee ons, onsself besig hou spesiaal te maak. Ons moet ons daaglikse lewens vul met dinge waarvoor ons lief is. Ons moet leer om die klein goed wat ons as deel sien van ons alledaaglikse lewe werklik te raak te sien as klein oomblikke van genade en geleenthede vir ‘n positiewe uitkoms. Ons moet God se genade vind in elke situasie.  Om geluk te kies, is om doelbewus jou lewe te skep rondom dinge wat regtig saak maak. Ons kan daagliks kies om gelukkig te wees en om tevrede te wees maak nie saak wat in ons daaglikse lewens gebeur nie. Die lewe gaan altyd gevul wees met “kleurlose” oomblikke. Ons gaan altyd dinge moet doen en ervaar wat gesien word as vervelig want dit is deel van grootmens wees. Maar dit beteken nie dat ons lewens as gewoon of alledaags gesien moet word nie. Jou lewe is wat jy kies om daagliks daarvan te maak. Ons het ‘n daaglikse uitnodiging om te soek vir ‘n rede om positief te lewe.  Die geheim is om goed in die oomblikke van uitnodigings te vind. Om die meeste te maak van elke liewe dag ongeag jou situasie. Om te kies om te lewe vir nou en nie konstant te wag vir die volgende groot gebeurtenis nie.  “Sê daagliks jy is lus vir die lewe” - Liefde Charné ♡


  • POST FOOTER

“Attitude is a choice. Happiness is a choice. Optimism is a choice. Kindness is a choice. Giving is a choice. Respect is a choice. Whatever choice you make makes you. Choose wisely.”
― Roy T. Bennett

Cape Town

All rights reserved © 2020 by Mooistevrou

  • Black Instagram Icon
  • Black Pinterest Icon
  • Black Facebook Icon