Afgebreek * Opgetel * Oorgemaak
In Februarie 2017 het een van my goeie vriendinne vir my vertel van ‘n vrouekamp, en gesê ons moet dit gaan bywoon. Ek moet bieg, ek was in die begin baie skepties daaroor, want dit gaan bietjie vreemd wees, twee dames in hul twintigs tussen dames baie ouer as ons. Ek het ingestem, minwetend dat daardie kamp my lewe gaan verander.
Die dame wat die vrouekamp aangebied het, Maxie Heppel, het ons verskeie aktiwiteite laat doen, saam met mekaar en individueel.
Op die Kamp het ek besef, almal van ons is vasgeknoop, gebroke en bang, selfs die mense wat dit min of meer bymekaar hou. Hulle is baie meer soos jy, as wat jy sou dink.
Elke vrou het hul lewensverhaal met ons gedeel. Elkeen van ons sit met seer in ons lewens. Ons is geneig om so vas te klou daaraan, dat ons, onsself heeltyd daarmee vergelyk en langs die pad jouself verloor.
Daar was wel een storie wat vir my so hartroerend was. Die een dame het vertel hoe sy, op ‘n doodgewone dag, onder normale, veilige omstandighede, haar kind verloor het, weens ‘n fratsongeluk. Om haar pad van hartseer na vrede te kon hoor, het my soveel hoop gegee. Dit maak nie saak wat gebeur nie, jy kan altyd opstaan na dit.
Om te kon sit en luister na elkeen se storie het my hart se snare geroer, dat elkeen so baie selfvertroue en moed bymekaar geskraap het om hul ervarings van die lewe te kon deel.
As daar nou iets was, wat ek op daardie kamp geleer het van elke vrou se storie en ervarings, is die volgende:
Hou op wens dat jy anders was. Maak jou oë oop, en besef daar is skoonheid in daardie spieël, nie ellende nie. Niks oor jou moet fisies verander nie, behalwe die persepsie wat jy van jouself het.
Wie gee om dat jou verlede nie suiwer is nie, wie sin is? Wie gee om dat jou siel bang was, wie sin was nog nie? Net omdat jou verlede beskadig is, beteken nie dat jou toekoms waardeloos moet wees nie. Jy is nie alleen nie. Niemand is perfek nie.
Al wat jy moet wees, is JY. Jou gebroke self. Wees dit. Wees lief vir alles van jou. Waarop jy fokus, is wat jy sal voel. Jy is jou probleem, maar ook jou oplossing. Niks oor jou is nutteloos nie. Ons is almal gebroke in ons eie manier, maar gebroke kryte maak die mooiste kunswerke.
In ons foute en swak oomblikke moet ons vir God raadpleeg. Hoeveel keer grawe ons nie in daardie "ou" kas nie? God het reeds daardie kas toegemaak. Skud die skuld van jou rug af en spog met jou letsels.
Ek was al oorgeloop, afgebreek, deur modder gesleep, met woorde beseer, gesny en askies, beseer ook. Maar hier is ek, opgetel en oorgemaak, sterker as ooit. Ek weet nie wat voorlê nie, maar ek weet ek is reg vir die oorlog met God langs my.
Dit was vir my so inspirerend om elke vrou se storie daardie naweek te kon hoor, ‘n storie van hoop.
Dit gee my hoop vir elke vrou in die wêreld, om almal so bymekaar te kan kom en jou storie te kan deel met vreemdelinge en vriendinne.
Pynlike gebeure is beslis deel van ons verhaal, en hulle was 'n groot invloed in ons lewens, maar hierdie invloed hoef nie nadelig te wees nie. Elke gebeurtenis in ons lewens vorm ons waar ons in die huidige oomblik is. Soos die gewilde skrywer J.K Rowling sê: “We’ve all got both light and dark inside us. What matters is the part we choose to act on. That’s who we really are”.
Al was jou verlede dalk nie die beste nie, daar was dalk ‘n paar gebreekte stukke. Laat jou verlede jou beter maak, en nie bitter nie. En jou toekoms? Wel dis jou keuse, jy kan kies dat dit strale skyn van seer of dit kan helder strale skyn van sukses.
