Altyd Opsoek Na ‘n Antwoord.
Almal hou van antwoorde. Of dit nou vooraf of na die tyd is, ons soek antwoorde. Ons hou van onderskeid tussen reg of verkeerd. Soms meet ons onsself en ons askies of ons ‘next move’ aan die antwoorde wat ons vir die mense om ons vra. Ons hou daarvan om die uitkoms van iets te kan bepaal, want vir een of ander rede maak dit die sprong om iets aan te pak effens makliker. Vanselfsprekend. Dit is maklik om van die een kant van ‘n plaasdam oor te swem na die teenoorgestelde rigting. Daar is ideal nie veel faktore wat jou sal belemmer om aan die ander kant uit te kom nie. Maar spring nou in ‘n rivier, en die uitkoms lyk aansienlik anders en alles behalwe voorspelbaar.
Ons eerste voetfout is om antwoorde van mense te verwag op vrae wat ons eie pad bepaal. Ons kan nie verwag iemand anders moet ‘n antwoord hê vir ‘n pad wat hulle nog nie gestap het of een wat nie uitgelê is vir hulle om in die toekoms te stap nie. Die antwoorde op ons vrae is nie iemand anders se verantwoordelikheid nie.
Soms vergeet ons die impak van ons verlede en hoe uiters belangrik elke fynste detail is in ons ‘testimony’ om die mense om ons leiding te gee. Almal stap nie gelyk deur dieselfde seisoen nie, maar almal van ons ontmoet een of ander tyd die herfs, winter, lente en somer van die lewe en al het jy dalk nie nou self die antwoord vir jou eie seisoen nie, kan iemand anders se raad ‘n bladsy in jou oorlewingsgids deur hierdie seisoen wees.
Die verlede is soos jou eerste soen wat jy soos ‘n deurskynende tattoo vir altyd saam met jou sal dra, of jou eerste hondjie wat jy as kind gehad het en agter in jou ma se tuin begrawe moes begrawe. Dit is jou gunsteling roomys na skool, en jou eerste liefdesteleurstelling. Dit is uitblink in dinge wat jy nooit sou oorweeg as jou juffrou nie aanhou hammer het op jou talente nie, en dit is kanse wat rampspoedig geëindig het want ons het almal al na die verkeerde stemme geluister om ons plek in die samelewing te ‘claim’. Almal se verlede is nie ‘n gebalanseerde kombinasie van soet en sout nie, en in plaas daarvan dat ons die bitter dele daarvan probeer ‘sugarcoat’, speel dit immers sy eie belangrike rol in die mens wat jy vandag is.
Deur seerkry moes jy leer hoe om alleen weer stukkies op te tel. As jy baie bevoorreg is, het jy ‘n handjie vol vriende wat werklik daar was in jou uur van nood, maar hoe jy die stukke weer aanmekaar gesit het was jou eie verantwoordelikheid, iemand anders kon dit nie vir jou gedoen het nie.
In vreugdevolle tye moes jy aanvaar dat selfs die beste oomblikke in die lewe juis net dit is, oomblikke. Vlietend, maar gekoester. Jy moes kies om die mooi uit elke oomblik te gryp en op jou hart se ‘canvas’ te verf en die lappies weg te bêre vir eendag wanneer nostalgie aan jou deur kom klop. Want die kans dat die mense en plekke van daardie oomblik steeds in jou lewe is, is net so skraal.
En uiteindelik, die een waarmee ons elke dag steeds struikel: ons eie persoonlike foute. Die waarheid waarmee ons die heel minste gekonfronteer wil word, en tog die een wat die grootste vraagtekens in ons hart en gedagtes laat. Moes ek hierdie persoon naby my hart toelaat, moes ek dalk harder baklei, het ek te vinnig op gegee, moes ek vroeër wegstap, het ek volgens my eie wil of God s’n opgetree, is my aksies selfs wanneer die situasie nie in my guns voel nie steeds eerbiedig aan dit wat God van my verwag?
Mooiste Vrou, vat dit van iemand wat die pad elke dag stap: Kies doelbewus om nie situasies te oordink en jou eie scenarios in jou kop te skep in jou soeke na antwoorde op dinge wat nie nou dadelik antwoorde vereis nie. Om konstant vrae te vra oor die verlede gaan niks aan die verlede verander nie, en om konstant vrae te vra oor die toekoms kan niks wat oor jou pad kom weerhou nie. Vergewe jouself vir jou verlede. Skryf die lesse neer wat dit jou geleer het, want daardie lesse het jou heel waarskynlik voorberei vir die ‘assignment’ wat vorentoe op jou pad lê, maar hou op om jouself te kasty oor dinge wat reeds verby is. Vra om verskoning as jy moet, as jy die geleentheid kry om vrede te maak of om te vergewe, doen dit. Maar moet nie jouself so besig hou om in die tru-spieëltjie te kyk opsoek na antwoorde in stofwolke agter jou, dat jy vergeet om na die pad van eindelose potensiaal en ‘new beginnings’ voor jou te kyk nie.
Self-sabotasie van jou verlede ten koste van jou toekoms is eenvoudig nie die moeite werd nie. Take the lessons and move on, maak net seker dat jy die lesse gebruik om beter besluite in die toekoms te neem. Ek weet dit is makliker gesê as gedaan, maar terwyl jy vasgevang in jou verlede bly, is die oomblik waarin jy jouself nou bevind ook in ‘n oogwink verby. Gaan jy dan hierdie oomblik wat jy gemis het ook op die lysie van die vrae aan die verlede sit?
Ek kan nou vir jou sê maak jou hart oop en leef voluit,ek kan ‘n baie mooi storie oor kanse vat en mense vertrou vertel, maar ongelukkig ken ons almal die storie van die waarheid agter oop harte en mense vertrou. Ek het nogsteeds nie vir jou antwoorde nie. Ek probeer steeds self die ewewig tussen pessimisties, optimisties en realisties vind in ‘n wêreld vol verwronge ideale, maar keer op keer word ek herhinner aan die bybelse waarheid: “Above all else, guard your heart for everything you do flows from it”. – Proverbs 4:23
Is dit my eie ‘defense mechanism’ omdat ek te bang is om iemand naby die modderige dele van my hart toe te laat? Moontlik. Ek bevind myself meer gereeld in ‘n reën seisoen as wat ek dalk mee gemaklik is, maar ons almal ken die gesegde, ‘no rain, no flowers.’
So hoe oorkom ons die konstante soeke na antwoorde wat ander mense nie vir ons kan gee nie? Ons pad is uitgelê vir ons om self te stap, padkaarte vir jou lewenspad is soos sakrekenaars in ‘n wiskunde vraestrel - net relevant vir sekere vrae maar as jy nie die vraag verstaan nie, sal jy nie die som kan doen om die antwoord te kry nie, Die lewe werk ook so. Jy gaan soms met ‘n padkaart in jou hand moet ‘ching, chong, cha’ watter afdraai pad jy nou moet kies, en jy gaan daardie pad moet stap. As dit nie die regte pad was nie, sal Genade intree en jou soos wat ‘n Herder met Sy skape doen, weer op die regte pad lei.
Waar trek ons dan die lyn tussen jou hart, jou kop, wat die wêreld sê en wat die Bybel sê?
1. Gee jouself ‘n breek. Alles wat swaar is, is nie joune om te dra nie.
2. Lê AL jou planne en drome voor God se voete en vra vir Sy leiding. Ek voel persoonlik deur hierdie stap te mis, mis jy die punt. Niks van jou drome is deur jouself in jou hart geplant nie, en niks van jou planne behoort vir jou eie eer te wees nie. Kom terug na die Skepper wat jou hart en jou pad soos die palm van Sy hand ken, Hy het dit immers vir jou uitgelê. Wees intensioneel met jou gebede en vra vir God hoe en waar Hy jou wil gebruik. Onthou dat wanneer jy ‘bold’ gebede bid, jy nie louwarm antwoorde kan verwag nie so maak seker jy is voorbereid vir wat jy vra. Bid met verwagting, en prys Hom terwyl jy wag.
3. Stel Duidelike Doelwitte. Wat is jou eie persoonlike doelwitte. Nie die waar jy reeds ‘n man en kinders in jou planne in reken nie, jou eie persoonlike doelwitte op jou eie persoonlike pad wat jy vandag stap, omdat jy steeds jou eie mens is al is jy ‘n mamma of ‘n vrou? Skryf daardie doelwitte neer en wanneer jy ‘face to face’ met ‘n situasie kom wat jou laat twyfel, meet die situasie en die uitkoms van die besluit wat jy rondom dit wil neem aan jou doelwit. Bring dit jou nader aan jou droom, of gaan dit jou vordering belemmer? Dit is baie belangrik om te verstaan dat deur jou eie doelwitte te kies nie noodwendig die maklikste keuse gaan wees nie. Dit gaan soms ten koste van vriendskappe en verhoudings wees, maar ek hoop jy kies dit ingelkgeval.
4. Moenie jou gedagtes jou grootste vyand maak nie. Daar is meer goed as sleg in jou, al dink jy die teenoorgestelde. Daar is meer potensiaal as mislukking in die dinge wat jy wil aanpak. Moenie iets wat moontlik die gelukkige storie in jou lewe kon wees prys gee omdat jy dit versmoor het met gedagtes wat reeds die scenario in jou kop as ‘n hopelose toneel laat afspeel het nie, dan gee jy nie mense, drome of liefde werklik ‘n fair fighting kans nie. Hou vas aan die vertroue dat alles wat vir jou bedoel is sal uitwerk soos dit moet, en alles wat nie vir jou bestem is oor jou pad sal kom ter voorbereiding vir dit wat wag. As jy bang is, dan klou jy vas aan hierdie waarheid, maar take the leap. ‘n Boom groei nie ‘n dag nadat jy die sade geplant het nie, net so gebeur goeie goed ook nie oornag nie en restoration ook nie. Maar ‘n boom kan ook nie groei as jy nie die saad plant nie.
Een antwoord wat ek wel vir jou het, is dat jy dalk meer as een keer die een skaap gaan wees waarvoor Jesus die 99 gaan los om jou te kom haal, en meer as een keer sal Hy dit doen en weer doen en oor doen. As jy nooit probeer nie, sal jy nooit weet nie en as jou hart breuk, wel dan het jy ‘n nuwe pad en ‘n nuwe storie om te deel want jy was braaf genoeg om in die eerste plek te probeer!
Jesaja het nooit vir God gevra vir die besonderhede van sy bestemming voordat hy bereid was om die pad te stap nie, maar hy was braaf genoeg om te bid, “Here, hier is ek. Stuur my!” Soms is dit al wat ons ook nodig het om te doen, sonder die vrae, sonder die padkaarte, sonder die sekerheid of die fynste besonderhede, sonder tydlyne of voordele en of dit maklik en lekker gaan wees – hoe anders sal ons geloof groei as dit nie getoets word nie? Hoe anders sal ons leer om met elke aar wat deur ons liggaam vloei op God te vertrou as ons nie deur seisoene gaan waar geloof en gebed ons eerste en enigste opsie is nie? Is jy bereid om jou eie gedagtes, jou eie wil, jou eie ‘insecurities’, jou hele hart, jou oë en ore, jou hande en voete, elke deel van jou menswees aan God toe te vertrou sodat Hy die pad kan aanwys? Dit is onregverdig om antwoorde by ‘n vervalle en gebroke wêreld te soek vir ‘n pad wat spesifiek vir jou uitgelê is, al antwoord wat jy gaan vind is teleurstelling. Jy gaan nou deur hierdie seisoen stap, jy kan dit net sowel met gebed aanpak.
“Delayed does not mean denied. God is just giving you a moment of silence to prepare for what He’s about to do in your life.”
Bishop T.D. Jakes
Versies van Bemoediging:
“The ones who loves his life loses it, but the one who hates his life in this world will keep it for life eternal. If anyone serves Me, he must follow Me; and wherever I am, there will My servant be also. If anyone serves Me, the Father will honor him.”
John 12:25-26
“And those who know Your name will put their confident trust in You, for You, O Lord, have not abandoned those who seek You.”
Psalm 9:10
“Though the fig tree does not blossom and there is no fruit on the vines, though the yield of the olive fails and the field produce no food, though the flock is cut off from the fold and there are no cattle in the stalls; yet I will rejoice in the Lord; I will shout in exultation in the God of my salvation!”
Habbakuk 3:17-18
Liedjies vir die Week:
Jo Black & Refentse: Rig jou Oë Op Na Die Berge
Lauren Daigle: Love Like This / Rescue / Trust in You
Kari Jobe: The Blessing
Jeremy Camp: Keep Me in the Moment
Need to Breathe: Walking on Water
For King & Country: Fight on, Fighter / Fix My Eyes
Baie liefde,
Rouxnette