As dit voel of die lewe jou vertrap
Ken jy dié gevoel? Jy weet nie of jy kom of gaan nie. Die lewe druk van alle kante moontlik en dit voel of jy net nie kan kop bo water hou nie. Asof jy amper-amper verdrink in die lewe met al sy curve-balls en wat nóg.
Is dit omdat dit die middel van die jaar is? Is ons moeg en net afgemat? Maak ons nie tyd om na onsself te kyk nie?
Watokal dit mag wees, soos met alles - is daar ñ plan, ñ uitkoms, ñ reënboog na hierdie storm wat tans in jou lewe woed. Dis nie ewig nie, dis aards, maar tog het ons ‘n gesonde verstand om ook te weet wanneer iets jou heeltemal te sleg beïnvloed om dit beter te maak.
Maar, sonder ons Vader , kan ons dit nie alleen vedra of beter maak nie.
“Geen versoeking wat meer is as wat 'n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan.”
1 KORINTIËRS 10:13 AFR83
God se skrif is vir my so duidelik in 1 Korintiërs 10:13. Weereens kom dit daarop neer, God sal ons nie aan ons eie genade oorlaat nie. Hy sal jou nie in die water gooi en kyk of jy gaan verdrink nie. Sy reddingsbootjie is iewers agter jou. Want in hierdie seisoen is daar iets wat jy moet leer - Hy roep na jou, Hy soek jou aandag.
Mooistevrou, of jy hierdie bemoediging nodig het, of iemand wat jy ken. Haal eers asem en word stil, los waarmee jy besig is en besef, jy het hierdie.
Wanneer die lewe jou vetrap, dit voel of niks wil uitwerk nie, word stil en weet - Hy is met jou.
Mag jy in hierdie seer-seisoen groei, en so na Sy stem soek om te weet waarheen jy oppad is en wat Hy van jou verwag. Dalk is dit net om by Sy voete te gaan sit en oor te gee, dalk probeer jy te veel om self alles te doen sonder hulp.
Maak eers weer jou beker vol, dan sal jy weer kan oorloop van Lewende Water.