top of page

As ek toe geweet het...

Ek is beslis 'n roetine mens. Soms voel dit of my hele lewe in my dagboek neer geskryf is. Ek begin elke dag op dieselfde wyse. Ses uur kook die ketel, half sewe eet ons en teen nege uur is die vloere gevee en lê my dagboek reg, sodat ek my take vir die dag kan begin afmerk.


Ek weet presies wat elke dag vir my inhou en werk volgens 'n roetine.


Nadat ek my dogtertjie gistermiddag gaan neerlê het vir haar middagslapie, vat ek 'n sluk van my warm koffie en skuif voor my rekenaar in. Ek weet ek het min of meer twee ure om my werk af te handel, want ons het mos 'n vaste roetine.

Met eens gaan die krag af en my moed sak in my skoene. Volgens die rooster, het ons nie beurtkrag nie, ek het mos al gister daarvan seker gemaak. Ek sit terug in my stoel en staar na my swart rekenaarskerm.

As ek maar net geweet het...


Terwyl ek in stilte sit en my koffie drink, dink ek weer na oor hoe anders ek die dag kon aanpak as ek maar net van die krag onderbreuking geweet het.


Skielik tref dit my dat daar 'n rede vir alles is en dat ek nie altyd moét weet wat volgende gaan gebeur nie.


Wat as ek geweet het dat ek my trouman op kampus sou raak loop, sou ek dan nogsteeds vir hom gebid het?

Wat as ek geweet het dat ek twee maande na ons troue swanger sou raak, sou ek dan nogsteeds aansoek gedoen vir my nuwe werk?

Wat as ek geweet het dat die laaste twee jaar glad nie sou verloop soos wat ons gedink het nie, sou ek dan nogsteeds elke dag met nuwe hoop opgestaan het?

Wat as ek geweet het dat ek ook 'n miskraam sou kry, sou ek dan nogsteeds probeer het?

Wat as ek geweet het hoe perfek elke dag volgens volgens Yahweh se plan verloop, sou ek dan nogsteeds afhanklik gewees het van Hom?


As ek toe geweet het, wat ek nou weet, sou ek niks geleer het nie.


Ek het geleer dat daar krag in gebed is en dat Yahweh se tyd altyd reg is. Ek het geleer wat vrede is en dat alles met 'n rede gebeur. Ek het geleer om ten volle oor te gee en op Yahweh te vertrou en al my vrese en angs by Sy voete te los.


As ek toe geweet het, wat ek nou weet, sou ek alles presies net so wou oor hê, want die Pottebakker weet wat die klei nodig het. Ons word elke dag gevorm en gemaak volgens Sy wil.


“Want Ek weet watter gedagtes Ek aangaande julle koester, spreek Yahweh, gedagtes van vrede en nie van onheil nie, om julle 'n hoopvolle toekoms te gee. ” -Jeremia 29:11


Wees dankbaar vir die lesse wat jy leer en die genade wat daarmee saam gaan.


As ek toe geweet het, wat ek nou weet, sou ek nie gister 'n ekstra twee ure langs my dogtertjie kon lê en vir Yahweh dankie sê vir elke dag se volmaaktheid nie.


708 views1 comment

Related Posts

See All
bottom of page