top of page

Bang & Braaf kan in dieselfde hart bestaan.

Hoeveel keer het jy al besluit om eerder nie iets te doen nie, want jou vrees in die

oomblik was groter as jou braafheid? Hoeveel keer het jy nie aansoek gedoen vir

daardie werk nie, want jy het jouself gediskwalifiseer? Hoeveel keer het jy nie daardie

afdraai pad gevat nie, want die pad na jou bestemming is op teerpad uitgelê?

Hoeveel keer het jy nie tyd of plek vir liefde in jou hart gemaak nie, want die krake van

ou kneusplekke vul die kamers vir nuwe liefde?


Die Bybel herhinner ons keer op keer dat ons nie bang hoef te wees nie, maar tog is dit

‘n menslike emosie wat ons so gereeld in die gesig moet staar. Wat ons wel oor seker

kan wees, is dat selfs die braafste mense in die geskiedenis van die grootste

gebeurtenisse ook bang was, en tog het ons hulle menslike emosie nodig gehad om

ons die lesse te leer wat ons vandag deur dra.


Stel jou voor jy moet jou pasgebore baba seuntjie in ‘n mandjie toevou en die rivier af

stuur om sy eie veiligheid te virseker. Of om voor ‘n reus te staan te kom en met ‘n paar

klippies in die hand te glo jy sal hom kan verslaan. Wat as jy soos Ester jouself na die

koning toe nooi ter wille van ‘n hele nasie, en moontlik ten koste van jouself? Of om

gebore te word soos daar deur die Engele aan jou ouers gesê is, om as mens te leef en

te weet jy gaan gekruisig word ter wille van daardie einste siele wat jou gaan

verinneweer, vernietig, verneder en verwoes?


“Rig jou oë op na die berge, jou gebede maak jou sterker. Ek weet die dag gaan kom

wat jy terug gaan kyk, en sien hoe maak die Here al jou paaie gelyk. Jou storie is ‘n lied,

leer op die ritmes dans!” – Jo black & Refentse


Die fyn lyn tussen bang en braaf is wanneer ons besluit dat al weet ons nie wat aan die

ander kant van die onbekende lê nie, weet ons Wie alreeds daar wag. Die strome

gaan soms voel of dit te sterk vloei en ons bietjie uit ons eie mandjies gooi of dit gaan

dalk selfs voel of jou mandjie begin sink, maar net voordat dit stroom-af is, sal God die

regte mense oor jou pad stuur om jou uit die water te red of Hy sal jou die krag en

vermoë gee om te leer swem.


As die reus voor ons al groter raak, en die situasie byna onmoontlik lyk – moet mens

braaf genoeg wees om te vertrou dat die klippies in jou hand en mostersaadjie van

geloof in jou hart, groot genoeg is om die Goliat voor jou te verslaan. Soms leef die

Goliat binne ons en worstel ons binne ons eie harte met ons grootste vyand. Hier raak


dinge bietjie moeilik, want hoe verslaan jy die vyand in jou eie verstand? Jy vul dit met

die waarheid van God se Woord, want diep in jou hart, en siel en hele menswees weet

jy presies Wie is werklik aan jou kant.


Ek hoop volgende keer wanneer jy ‘n Goliat binne jouself moet omslaan, begin jy by

die begin – deur jou eie swakpunte te identifiseer, dit te aanvaar en elke dag daaraan

te werk sodat jy die situasie waarmee jy vandag gekonfronteer word, beter sal hanteer

as wat jy gister sou. Dit sal jou vry maak van die kloue van die vyand, want hy kan nie ‘n

swakpunt wat jy aanvaar en pro-aktief aan werk om te verbeter, teen jou gebruik nie.


Dit is om elke gryntjie van jou menswees te aanvaar en te leer lief te hê soos God jou

lief het, want so het Hy jou geskape. Hy ken elke flaw, en Hy kies dit oor en oor, solank

ons nie in die greep val om verskoning vir ons aksies en optredes te maak omdat ons

maar ‘so gemaak en laat staan’ is nie. Kies elke dag om beter te wees, en as jy vandag

sukkel, dan probeer jy more weer – maar moenie die vyand vat-plek gee om jou

swakhede teen jou te gebruik nie.


Volgende keer wanneer jy jou stem vir iemand anders gebruik, hoop ek jou doen dit

met dieselfde vertroue as met ‘n kroon op jou kop – want al kan jy dit nog nie sien nie, is

dit reeds vir jou bestem, maar as jy nie braaf genoeg is om op te daag soos die

“Queen” wat jy is nie, ontneem jy ander mense om God se goedheid deur jou

gehoorsaamheid te ervaar en te beleef - gehoorsaamheid wat jou die pad wys

waarvoor jy gebore is en gehoorsaamheid wat God aan ander openbaar deur vryheid

en tweede kanse.


Moet nie jouself diskwalifiseer omdat jy jouself vergelyk met die wêreld se standaarde

van wat ’n #Queen is nie. Skoonheid vergaan, maar ‘n vrou wie se hart aan die Here

uitverkoop is sal wondere vir Sy Koninkryk hier op aarde verrig. Jy weet in jou hart “you

were called for such a time as this” – moenie jou karakter in die Here se plan afmaak as

‘n ‘ekstra’ toneel wanneer jy geroep is om die hoof-karakter in hierdie seisoen te speel

nie! Die Here beloon die wat gehoorsaam is aan Sy stem. Niemand het gesê

gehoorsaamheid is gemaklik nie, maar dit is by vêr meer werd as al die skatte wat jy op

hierdie aarde bymekaar kan maak!


Wanneer dit kom by die allerdaagse dinge in die lewe, hoop ek jy is braaf genoeg om

van vriendskappe weg te stap wat nie ‘n positiewe inspraak in jou lewe maak of jou

toelaat om 500% jou opregte, unieke self te wees nie – selfs al lyk daardie self soms

bang, soms eensaam en alleen, soms verward en onseker, soms op wolk nommer 9,

soms reg om die wêreld te verander, en soms braaf genoeg om werklik te glo jy kan dit

doen!


Ek hoop ook jy is braaf genoeg om jou eie potensiaal raak te sien, al doen die res van

die wêreld rondom jou ook hulle eie ding. Jy is besig om in jouself te twyfel, terwyl ander

mense na jou kyk en geintimideerd voel deur jou potensiaal. Ek hoop jy is braaf genoeg

om te weet wat jy na die tafel toe bring, en nie bang sal wees om alleen te sit nie. Ek

hoop jy dra jou kroon, en ek hoop jy skroom nie om ‘n ander vrou op jou pad te help

om haar kroon reg te maak, sonder om dit aan die hele wêreld te verkondig nie.


Ek hoop jy laat liefde toe. Ek hoop jy laat die Heilig Gees toe om die krake in jou te vul

van iets wat vir jou bekend gelyk het, iets wat vir jou gelyk het soos wat aardse liefde

lyk. Ek hoop jy hou nooit op bid vir jou sielsgenoot nie. Jy kan nie kosbare tyd verlore

laat gaan om jou toekomstige man ‘fully covered’ te hou in gebed vir wanneer jou tyd

wel reg is om lief te hê, bloot omdat die wêreld jou juis die dinge van die wêreld kom

wys het nie. Hou aan bid, al voel jy nie so nie. Hou aan bid vir jou man, al is trou die heel

laaste ding waaraan jy nou dink. Die proses gaan jou hart verander om die vrou te

word wat jy eendag gaan moet wees, en sy gaan vir die jonger jy dankie sê vir alles

wat sy langs die pad geleer het.


Hulle sê niks wat die moeite werd is kom maklik nie, ek glo ook niks wat die moeite werd

is kom sonder bang en braaf wees nie. Soms lê die geheim in die 5 sekondes wat ons

neem om ‘n besluit te maak, ander kere moet jy soos op Ballade vir ‘n Enkeling skree,

“Moenie dink nie, doen net!” Maar ten alle tye moet al hierdie emosie en watter

strategie jy ook al kies om te volg toegevou wees in gebed sodat jy op koers bly.


Dinge gaan nie altyd uitwerk soos jy verwag nie, die stroom gaan jou dalk vinniger vat

as wat jy dink of jy gaan harder moet roei om by jou bestemming uit te kom, die klippies

gaan soms te klein en te min voel om ‘n reus te verslaan en jy gaan nie altyd

gekwalifiseerd voel om ‘n taak uit te voer wat vir jou uitgelê is nie, maar jou gebede sal

die vangnet wees wanneer jou braafheid en bang wees nie in lyn is met die pad wat

God vir jou beplan het nie. Tog is dit die keuse wat jy moet maak – jy moet beweeg

sodat God kan beweeg. God kan nie die volgende deur vir jou oopmaak as jy te bang

aan die ander kant staan om na die deur toe te loop nie. Net so kan Hy jou nie laat

vlieg as jou voete op die vloer bly nie.


Spring, vlieg of val. Gryp die geleenthede wat jou kant toe kom met albei hande aan,

jy het net een lewe – ons kom nie terug om dit oor te doen nie, maak net seker dat die

landingstrook toegegooi is met ‘n kombers van gebede.


“Wat my die seerste maak word krag, ek hoor die sterkste hart is sagter, en braaf

genoeg om te breek.” – Spoegwolf


Versies van bemoediging:

“Blessed is the one whose delight is in the Lord. That person is like a tree planted by

streams of water, whatever they do prospers.”

- Psalm 1:1,3


“You will show me the path of life, in Your presence, there is fullness of joy in Your right

hand there are pleasures forevermore.”

Psalm 16:11


“Not that I speak from need, for I have learned to be content regardless of my

circumstances. I know how to get along and live humbly, and I also know how to enjoy

abundance and live in prosperity. In any and every circumstance I have learned the

secret, whether well fed or going hungry, whether having an abundance or going in

need.”

Philippians 4:11-12


“Your Word is a lamp for my feet and a light on my path.”

Psalms 119:105


Liedjies vir die Week:

For King and Country: Fix My Eyes

Rachel Morley: Preference

Elevation Worship: Jireh

Jeremy Camp: Keep Me In The Moment

Kim Walker Smith: Just Be

Bernice West: Chrome Clouded

Need To Breathe: Walking On Water

Jo Black & Refentse: Rig Jou Oë Op Na Die Berge


Baie liefde,

Rouxnette

767 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page