top of page

Begin Klein, Begin Vandag, Groei Groot

Hoe het jou eerste maand van die jaar gegaan? Is jy sterk opdreef om jou doelwitte te haal of het jy net ‘n paar dae in al opgegee? Dis vreemd hoe ons deur ‘n hele jaar kan beweeg en nie die verwagting het om oornag te verander nie, maar iewers tussen die 31ste Desember en 1 Januarie moet daar bonatuurlike dinge plaasvind. Jy het ‘n ellelange lys van nuwe dinge vir die nuwe jy in die nuwe jaar.


Jy gaan vroeër opstaan in die oggend om Bybel te lees. Jy gaan begin oefen en gesond eet en meer water drink. Jy gaan nie meer kla, skinder of negatief praat nie. Jy gaan jou stokperdjies begin aanpak en daai nuwe idee inwerking sit. En dit alles moet gebeur op die 1ste Januarie. Ok, of die eerste dag van die nuwe week.


G’n wonder ons is skaars ‘n paar dae in dan begin die balle op die vloer land nie. En voor jy jouself kan kry is jy moedeloos en voel soos ‘n mislukking. Hulle sê ‘n gewoonte neem ten minste 21 dae om aan te leer. Om egter al hierdie dinge vir 21 dae aan een na te kom, is ‘n groot en uitputtende taak. Jy het tyd nodig, dissipline en die fokus om net klein stappies elke dag te doen.


Ons probleem is dat ons lewe in ‘n wêreld waar perfeksie verwag word en alles oornag moet gebeur. Maar ‘n jaar is nie 365 dae wat jy perfek moet lewe nie; dis 365 dae om net elke dag bietjie beter te doen as gister sodat jy aan die einde groei en sukses kan ervaar.


Neem opnuut ‘n kykie na jou doelwitte vir die jaar. Begin dit prioritiseer van die mees na die minste belangrikste, en dan kies jy een om vir die volgende 21 dae of maand aan te werk. Ons sukkel met geduld om klein stappies te neem, want die resultaat neem langer, maar verkies jy om eerder alles te probeer net om uiteindelik op te gee want dis te veel? Of om ‘n klein stappie dag vir dag te neem, geduldig en gefokus te bly, en dan daadwerklik groei te sien?


In Sagaria 4:10 sê dit: “Moenie die dag van klein dingetjies gering ag nie.” Om klein en stadig te begin voel dalk vir jou nutteloos en of jy nooit iewers gaan uitkom nie. Maar moet net nie opgee nie. Neem elke dag soos dit kom en druk net deur. Jy gaan eendag terugkyk en sien hoe ver jy gekom het met elke klein treë.


345 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page