top of page

Beurtkrag


Beurtkrag. Ons almal is al so bekend met hierdie term, dit kom nie eers meer as ‘n verassing vir ons wanneer die aankondigings gemaak word nie. Inteendeel is dit nie onwaarskynlik dat sommige van ons tans in beurtkrag sit nie. Nie net die een waar ons ligte afgeskakel word en ons nie ‘n warm koppie koffie kan maak om ‘n nuwe week aan te pak nie, die tipe beurtkrag waar ons persoonlike welstand ook afgeskakel word, volgens skedule, al dan nie!


Aanvanklik gaan loer ek op Google om doodseker te maak hoe ‘beurtkrag’ gespel word, en kom ek af op hierdie eenvoudige verduideliking van die betekenis: “Die geskeduleerde afskakel van elektrisiteit na bepaalde gebiede as daar te min krag opgewerk word sodat die hele netwerk nie ineen stort nie.” Onmiddelik vind ek aanklank by hierdie eenvoudige stelling – is my netwerk nie naby ineenstort nie?


Vrouens is so geneig om altyd alles vir almal te wil wees. Ons wil almal se laste dra, ons wil almal se trane afvee, ons wil drukkies uitdeel om soos gom al die bereekte plekkies weer heel te maak, ons wil die vrede bewaar en seker maak almal anders leef ‘n ‘onderskeiding’ tipe lewe, jy weet, ten minste bo 75% kapasiteit. Niemand is ooit op 100% nie, maar ons wil altyd seker maak dat niemand onder die wêreld se standaarde van ‘okay’ wees is nie.


Ons is besig om ‘generators’ vir almal in ons lewens te wees, en hoewel dit ‘n baie goeie eienskap is, moet ons pasop dat ons eie netwerk nie ineen stort nie. Ek weet God verwag van Sy kinders om mekaar te dien, en ek weet dit is soms uitputtend en soms voel mens net eenvoudig nie ‘equipped’ genoeg om ‘n spesifieke taak wat God op jou hart druk uit te voer nie, of ander kere is jou ‘generator’ se tank net so duskant leeg – maar om alles vir almal te wees weeg altyd vir ‘n vrou meer, en dit help ons geestelike en emosionele ‘generators’ al minder.


Alles rondom beurtkrag kom op ‘n baie eenvoudige punt neer. Ons almal gaan een of ander tyd deur ‘n persoonlike fase van beurtkrag. Die vraag is eerstens, hoe het ons hier gekom? Ons weet hoekom ons land sukkel met beurtkrag, maar hoekom sukkel ek en jy met beurtkrag? Is ons besig om teveel tyd te spandeer om op minder belangrike dinge te fokus, of is daar mense in ons lewe wat ons ‘generator’ jippo en net van ons krag kom steel?


Ons weet waar ons krag vandaan kom, so as ons tanks op rooi-liggie-leeg hardloop, is dit nie omdat ons dalk vêr van God af leef nie. Dalk nie intensioneel nie, die lewe is binne ‘n oogwink verby en ons almal is in so ‘n gejaag om net alles gedoen te kry voordat die volgende petrol prys verhoging aangekondig word, of voordat die volgende Bokke game plaasvind en jou hele huis eers oorgedoen moet word voordat jy iemand wil oornooi vir ‘n braai want netnou oordeel hulle die potplant op die vensterbank in jou kombuis, of voordat die volgende skool kwartaal weer afskop en mamma weer 100% by die werk en by die skool moet gee of die volgende vriendin se kombuistee gereël moet word of voordat die winter amper verby is en jy drie maande agter is met jou somerlyfie, soos al die fitness coaches op Instagram ons graag herhinner of voordat jou tannie weer vra wanneer kry jy ook nou ‘n man by die volgende familie ete. ‘n Gejaag na alles en niks gelyk, en net soos mense verby mekaar leef is ons besig om dalk verby God te leef. Hoe meer ons jaag, hoe vinniger hardloop die tank leeg en hoe duurder is die prys wat jy betaal om weer jouself emosioneel, geestelik en fisies vol te kry!


Is die mense in jou lewe besig om jou ‘generator’ te jippo, of sal hulle vir jou kerse bring wanneer jy in die donker sit? Sal hulle selfs bewus wees dat jy in die donker sit?


Hierdie is so belangrike vraag wat ons nie noodwendig hard-op wil vra nie, maar dit is een van die duurste lesse wat jy gaan leer as jy aanhou om tyd te maak vir mense wat net hier is vir jou krag en nie bereid is om ‘n bietjie in die donker saam met jou te sit nie. Met die bygesê is dit ook ‘n persoonlike vraag wat ons onsself moet vra - ons raak soms so besig dat ons self nie agter kom wanneer ons ons vriendinne se ‘generators’ jippo of te besig raak om net vir ‘n oomblik saam met hulle in die donker te sit nie!


As ek na die dinge kyk wat om ons aangaan elke dag, sien mens so maklik raak hoe nie net kragstasies nie, maar huishoudings, vriendskappe en verhoudings, werksplekke, menslike optrede en ons human factor besig is om ineen te stort en ek kan nie help om te dink is dit omdat die mensdom nie bereid is om kersies vir mekaar aan te steek nie, of is ons besig om God as ‘n ‘generator’ te gebruik? Wanneer alles goed gaan vergeet ons om dankie te sê, maar sodra bomme ontplof en netwerke ineen stort val ons eers op ons knieë en besef on sweer opnuut God is nie die ‘generator’ in ons lewe nie, Hy is die kragstasie. Die Een wat nooit ontplof wanneer ons verkeerde goed doen nie, die Een wat nooit foutief verklaar word of onder konstruksie is nie, die Een waar daar nooit ‘n besering plaasvind nie want Hy is die enigste kragstasie wat altyd uitkyk vir Sy kinders. God is ons kragstasie, nie ons ‘generator’ nie.


Soos Jo Black se nuwe liedjie lui, “Genade het geen prys.” Moet nie jou emosionele en geestelike ‘generator’ kans gee om eers in te skop wanneer jou netwerk ineen stort nie. God wag geduldig om vir jou nuwe krag te gee vir die seisoen waarin jy ook al nou staan. Hy het jou geroep en jou pakkie krag en genade het jou naam op, uit Sy Vaderhand is daar genoeg krag en genade vir my en jou en almal anders. Dank die liewe Vader dat genade nie op ‘n ‘first come, first serve’ basis werk nie!

Kies die mense wat vir jou ‘n kersie sal aansteek wanneer jy in die donker sit en maak seker dat jy gereed staan met ‘n kersie vir die hartsmense om jou.


Liedjie vir die Week:

  • Jo Black: Lyn in die Sand


Versie vir die Week:

“Carry each other’s burdens, and in this way, you will fulfil the law of Christ.”

  • Galatians 6:2


Baie liefde,

Rouxnette


875 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page