Bitter pil
deur Chantelle Coetzee
Het jy al ooit gewonder hoekom ’n naar pil so sleg is wanneer jy te lank vat om hom te sluk? Die pil veronderstel is om jou naarheid weg te vat maar los ’n onaangename na smaak .Dit was nog altyd ’n raaisel vir my maar het my laat begin dink.
Dit het my laat dink oor al die slegte dinge waardeur ons soms moet gaan. Dit is nie altyd lekker om daardie pil te sluk nie maar dit gebeur vir ’n rede en ons besef eers na die slegte tye dat dit eintlik ten goede was vir ons. Die lewe is nie altyd maanskyn en rose nie, dit weet ons almal maar as jy die sonskyn in iemand se lewe kan wees , wees dit. Almal is nie altyd regverdig en eerlik met jou nie maar jy kan besluit dat jy altyd regverdig en eerlik sal wees. Almal het nie dieselfde hart en waardes as jy nie maar wees in elk geval ’n omgee mens. Daardie onaangename na smaak van die bitter pil is nie altyd maklik om te vergeet nie maar ons kan vergewe.
Die onaangename na smaak van die pil herinner my ook aan die verlede.Ons kan so gou vasgevang word om net te dink aan die verlede dat ons vergeet om nou te lewe. Jy kan jouself teen die mure dryf deur heeltyd te wonder maar wat as? Ons moenie toelaat dat die verlede ons terug hou vir wat voorlê nie. Moenie dat die verlede se teleurstellings, hartseer en pyn jou weerhou van geluk nie.Net soos die naar pil na ’n rukkie jou beter laat voel sal jou wonde genees met tyd.
Ek was in ’n baie onstabiele verhouding ’n paar jaar gelede. Ek het dag en nag gebid en die Here gevra: “Here, asseblief help my om die perfekte vrou te wees, help my sodat hierdie man lief kan wees vir my.” Ek het gereeld ’n gebeds versoek ook ingedien by die kerk. Dit was nie die Here se plan vir ons om bymekaar te wees nie en dit was vir my ’n bitter pil om te sluk.Vandag besef ek hoekom. Ek het besef dat die Here my hart ken en wat ek in ’n man benodig. Hierdie man het vreeslik baie gedrink, was baie besluitloos en sy waardes was nie in lyn met myne nie. Ek is dankbaar dat die Here my beskerm het. Ek weet vandag dat ek ongelukkig sou wees , daarom vertrou ek die Here ten volle al verstaan ek nie altyd dadelik nie.
Sommige mense is nie bedoel nie, maak nie saak hoeveel ons wens dit was nie. Partykeer werk dinge nie uit soos ons dit wou gehad nie , al het ons nagte om gebid daarvoor. Wanneer ons die Here vra om ’n pad saam ons te stap, moet ons nie verbaas wees as Hy ons in moeilike tye lei nie .Ons geloof word juis getoets in die tye wat alles verkeerd loop en ons voel niks werk uit soos ons dit wou gehad het nie. Onthou net altyd, God is by jou, Hy is goed en Hy het ’n plan vir jou teleurstellings en pyn.
Weet net dit is okay om te laat gaan en dit is okay as dinge nie uitwerk nie. Behou jou geloof maak nie saak wat nie. Eendag sal alles sin maak.