BLY DANKBAAR DEUR ELKE SEISOEN VAN JOU LEWE - CARLI
Elkeen van ons het sonder twyfel die jaar struikelblokke gehad wat ons moes oorkom. Jy het dalk jou werk/besigheid verloor, verhoudings het verbrokkel of jy het selfs ‘n geliefde aan die
dood afgestaan. Hierdie jaar was verseker moeilik op ons almal! Geen van ons het besef dat hierdie massiewe pandemie ons gaan tref toe ons om middernag 2020 “Happy New Year” skree met glase vonkelwyn nie. But oh well, such is life.
‘n Liewe vriendin van my is in Maart net voor die grendeltydperk getroud, hulle moes vroeër terug keer van hulle wittebrood af, kort daarna is haar man se salaris gesny en sy is afgelê by haar werk. Haar man het werk gekry oorsee en hulle het hulle hele huis se goedjies verkoop en elkeen het ‘n tas vol klere waarmee hulle nou spore gaan trap in ‘n nuwe land. Ek staan in absolute verwondering voor hulle as ek sien watse waters hulle huweliksbootjie al gevaar het en steeds is hulle so dankbaar vir alles wat hulle het. Ons elkeen is op ons eie lewensreis. Ons paaie kruis met baie ander s’n, maar dis JY wat elke dag jou eie paadjie stap. Daar gaan tye kom wat jy in diep waters gedompel word en wat jy nie kan verstaan hoekom jy hier is en wat jy dan nou gedoen het om dit te verdien nie.
Dit gaan moeilik wees, jy gaan moed verloor en jy gaan deur ‘n warboel van emosies gaan. Dis natuurlik en menslik, maar in hierdie tye moet jy gegrond bly. Ons moet vashou aan die vrede wat God aan ons belowe het en ons moet dankbaar wees, want deur alles wat hier op aarde gebeur, behoort ons op die ou einde aan Hom. Ons almal het fases waardeur ons in die lewe gaan. Dit is nie altyd moontlik om ten alle tye emosioneel, spiritueel, geestelik en fisies gebalanseerd en voorbereid te wees nie. Jy sal jou weg vind. En onthou ook dat jy nie vir ewig dieselfde mens is nie; elke nuwe fase van jou lewe gaan ‘n ander weergawe van jou verg. Wat wel belangrik is, is dat jy deur alles dankbaar bly vir wie jy is!
Hoe meer jy die vaardigheid van dankbaarheid aanleer, hoe makliker gaan dit vir jou raak. Dit is ‘n wonderbaarlike geneesmiddel wat jou hart, siel en verstand kan gesond hou en sodoende lok jy net nog meer merkwaardige dinge na jou toe aan. ‘n Maklike manier om elke dag dankbaarheid te beoefen is om vir jou ‘n “gratitude journal” aan te skaf. Begin deur om slegs een ding elke dag in jou boekie neer te skryf, daarna drie, vyf, tien en voor jy jou oë uitvee loop jy heeldag met ‘n dankbare hart rond!
As dit goed gaan met jou, wees dankbaar, dank die Here en wees bly. As dit sleg gaan, bly dankbaar, dank die Here en byt vas. Die Here gaan jou nooit deur iets sit wat Hy weet jy nie gaan kan hanteer nie, maar terwyl jy daardeur gaan, doen dit met ‘n dankbare hart. “When it comes to life, the critical thing is whether you take things for granted or take them with
gratitude.”
- G.K Chesterton