top of page

Bou die legkaart van jou lewe soos die bittereinder wat jy is.


Die lewe is soos n legkaart.


Soms is dinge eenvoudig en kan ons maklik die stukkies in mekaar pas.


Ander kere is ons besig met 'n 10 000 stuk legkaart, wat ons oorweldig met die hoeveelheid blou lug en see.


Hoe meer gekondisioneer ons oor ons leeftyd raak, hoe meer kompleks raak die legkaarte wat ons aanpak.


Ons is nie meer tevrede met die 100 of 1 000 stuk legkaart wat ons al toe oë kan bou nie. Ons soek na 'n groter legkaart.


As jy dalk weet van iemand wat wil handoek ingooi met hul legkaart (of as jy dalk self nie meer kans sien nie), deel die volgende legkaart-lesse vir die lewe:


Elke legkaart waarmee jy tans sukkel gee jou die vermoëns en vaardighede wat jy gaan nodig hê om die volgende legkaart aan te pak. Moenie na iets groter beweeg voordat jy gereed is nie. Maak klaar waarmee jy begin het.

Moet nooit na jou legkaart kyk en dink dit gaan nie so mooi wees soos die prentjie op die boks nie. Ons almal se legkaarte is uniek en 'n geskenk uit God se hand - al kan jy nog geen ooreenkoms tussen die stukke op die tafel en die prentjie op die boks sien nie. Bou jou legkaart, al lyk die persoon langs jou sin meer indrukwekkend.

Maak seker dat die legkaart wat jy aanpak, van God af kom. Niemand wil hul toewy aan 'n legkaart waarvan die stukke nie saam hoort of lyk soos verwag nie.

Komplekse legkaarte in lyn met God se wil geniet guns en beskerming, veral in die swaarkry tye. Jy bou nie alleen nie. Wees sensitief vir God se stem. Hy is daar wanneer jy maklik bou en wanneer die bouwerk moeilik.

Wees versigtig om nie soveel van jou tyd en energie te spandeer aan 'n ander persoon se legkaart, dat jou legkaart nie sy volle potensiaal bereik nie.

Moenie aan 'n ander persoon se legkaart krap met jou idee van hoe hul prentjie moet lyk nie. Beskerm eerder die stukkies van jou legkaart intensioneel en met erns teen invloede van buite. Meeste mense sien jou potensiaal. Meeste mense wil jou ook sien faal en jou laat glo dat jy nie jou legkaart suksesvol sal kan klaar maak nie.

Moenie moedeloos raak net omdat iemand anders se legkaart nader aan klaar is as joune nie. Jy weet nie hoe lank dit hul geneem het en hoeveel uithou en aanhou dit geverg het om dit klaar te kry nie.


Moenie dink dat daai stukkie wat op hierdie tydstip nêrens inpas nie, nie n unieke plek in die prentjie gaan hê of dat dit nie daar hoort nie. Bou jou legkaart, self al voel dit bo jou vuurmaakplek.


Moenie dink dat jy elke stukkie wat jy optel met die 1ste probeerslag op die regte plek gaan neersit nie. Jy gaan moet aanhou probeer totdat die prentjie voltooi is. Jy gaan foute maak. Moenie dat dit jou vordering belemmer nie. Leer daar uit, en bou voort.


Bou jou legkaart saam met mense wat ken van legkaart bou. Observeer. Onderskei. Vra vir hulp. Ons hoef nie alleen te sukkel nie.

Mooistevrou, jy kan op baie dinge in hierdie lewe opgee, maar jy gee nie op in jóú nie. Jy het reeds soveel legkaart-bou-ervaring, al bou jy dalk nou aan iets nuut en onbekend. Bou met effort en ywer. Bou met die wete dat dit nie altyd maklik sal wees nie. Bou met die oortuiging dat jou legkaart die moeite werd is en dat jy aan die einde trots en tevrede sal wees. Hou aan bou. Bou soos die bittereinder wat jy is.



523 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page