Dankbaar vir die donderweer
Verlede week het ons verskriklike donderweer ervaar, donderstorms! Die weerlig het soos
‘n disko-lig in ons kamer geflits. Die honde was in rep en roer, my seuntjie kon nie aan die
slaap raak nie, ek en my man loer kort-kort of daar nie iets buite raak geslaan word nie. Vir
‘n week lank het almal gekla oor die vreeslike nag!
Donderdag oggend kom my huishulp en ag ons gesels so oor alles en dié vreeslike weer. En
sy sê “og mevrou, die mense is darem anders, ons kla as dit nie reën nie, nou reën dit nou
kla ons weer. As dit warm is kla ons, as dit koud is kla ons.” En ek antwoord byna dadelik
terug, “ja nee die mens is net nooit gelukkig nie.”
Die kort gesprekkie tussen ons bly toe heeldag in my kop. Ek bly dink aan wat sy gesê het.
Harde woorde. Eerlike woorde. Woorde wat ek moes hoor.
Ons is so geneig om oor alles te kla wat nie vir ons gemak bied nie. Sonder dat ons besef, kla
ons. In plaas van, “dankie Here vir die reën ten spyte van die donderweer!”
Eintlik gebruik ek dié situasie van die reën metafories vir die lewe self. Tog kla ons oor al die
swaar kry, moeilike tye, “die kinkels en kabels” van die lewe, maar ons sê nooit dankie vir
daardie tye, al het dit ons sterker ander kant uitgebring, maak nou nie saak wat die
omstandighede. Neé. Ons sal eerder kla oor daardie moeilike tyd en heeltemal vergeet dat
die son weer begin skyn en ‘n pragtige reënboog sy verskyning gemaak het. Ons kies om
eerder te klou aan die donderweer.
My eerste liefde is dood aan ‘n beroerte ‘n hele paar jaar terug. Dit het my geleer om nie
bang te wees vir die dood (want ek was altyd). Dit is maar net een van die dinge wat dit my
geleer het. Ten spyte van die seer & massiewe verlies wat ek ervaar het en die hartseer wat
ek steeds doen, is ek tog dankbaar vir die “donderweer,” die moeilike tyd, die situasie, die
ervaring, want God het my in die donderstorm geleer om uit te sien na die reënboog.
Iewers sal die son weer vir jou skyn. ‘n Donderstorm hou nie aan vir ewig. Iewers sal die
reënboog voor jou oë voorskyn.
Tydens jou donderstorm, moenie net oë toe knyp en wag vir beter dae nie. Leer jouself ken,
leer uit jou foute, staar jou swaar kry in die oë, verwerk jou hartseer en verlies.
Alles rondom die lewe is so simbolies met die natuur. Sjoe, ons God het alles haarfyn
beplan. Ek hoop ons kan so mooi na die lewe kyk soos Hy.
‘n Donderstorm kan homself nie uitwoed as daardie massas reën nie val. Dis ‘n gekrabbel en
‘n geraas doer bo tussen die wolke, tot die laaste druppel die grond geraak het. Dan is alles
oor en verby. Die son steek sy kop uit en daardie reënboog kleure lê en loer oor die horison.
Net soos jy my liewe mens, jou storm kan homself nie uitwoed as jou hart bly raas en stoei.
Gee jou hart kans, gee jouself kans om daardie trane te stort, tot jou laaste traan oor jou
wange rol. Jou glimlag sal stadig maar seker sterker word en die sonskyn sal jou hart vul met
vreugde.
Jou hart sal aanhou woed terwyl jou kop vir jou sê knyp oë toe. Luister eerder na jou hart,
dis die seerder keuse, moeiliker uitweg, maar soetse uitkoms.
Plante het reën, sonlig, spasie en voedingstowwe nodig om te groei. Net soos jy as mens,
het ons dinge in die lewe nodig om as mens te groei. Geestelik, emosioneel en fisies.
Daardie moeilike tyd is deel daarvan. Niks kom net van self.
Ek’s dankbaar vir die donderweer. Dié reënboog is nou soveel mooier vir my.