Dankie, ‘klippie-uit-die-pad-rol’ mens
Deur Susan Westraadt
Vandag was een van dáái dae. Een van daai waar jy teen son opkoms aanvaar dat dinge eenvoudig nie volgens plan gaan verloop nie. Een van daai waar elke moontlike ding wat kan skeefloop, lélik skeef loop. Ons almal ken daai dae.
Dit is gewoonlik ook op hierdie dae wat ons voel ons staan alleen. Ons teen die wêreld met niemand wat ons hand vashou of staande hou nie. Niemand wat vir ons veg of intree nie. Niemand wat bewus is van die intensiteit van wat ons regtig beleef nie.
Terwyl ek om 19:00 op ’n Donderdagaand die blik formule in my kombuis omhels wat ’n mede mamma (op kort kennisgewing) vir my van die buurdorp saamgebring het, kry Psalm 91:11 vir my nuwe betekenis.
“Hy sal Sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen 'n klip sal stamp nie.”
Mooistevrou, vandag wil ek jou herinner dat God se Woord en Sy beloftes bly staan. Deur die eeue heen. Gister. Vandag en vir altyd. In ons haas, kyk ons soms die praktiese uitvoering van hierdie beloftes in ons lewens mis.
Ons moet besef dat die verhouding wat ons met mense het, belangrik is. God gebruik mense om vir ons geleenthede te skep en uitkoms te bewerkstellig. Hy werk deur mense om vir ons te voorsien, te beskerm en te motiveer. So dikwels maak ons met ons optrede, woorde en gesindheid deure toe waardeur ons in die toekoms sou moes stap.
In hierdie lewe is ons 1 van 2 soorte mense en stap ons die pad saam met 1 van 2 soorte mense: klippie-uit-die-pad-rol-mense en klippie-in-die-skoen-mense.
So dikwels fokus ons al ons aandag en energie op die klippie-in-die-skoen-mense wat die lewe moeilik en onplesierig maak. Ons is nie eers bewus van die klippie-uit-die-pad-rol mense vir wie God strategies op die regte tyd en op die regte plek in ons lewe geplaas het sodat ons nie ons voet teen ‘‘n klip sal stamp nie’.
Vandag wil ek dankie sê vir al die klippie-uit-die-pad-rol-mense in my lewe. Dankie, dat julle stop en help, al stap ons nie noodwendig elke dag saam ‘n pad nie. Dankie, dat jy sensitief, gehoorsaam en beskikbaar is vir God se opdragte. Jy maak die pad draagliker. Meer begaanbaar. Korter. Makliker. Ligter. En meer gelyk.
Dankie, klippie-uit-die-pad-rol-mens wat na ’n lang sport dag en met ‘’n kar vol kinders letterlik uit jou pad gaan om vir my formule van die buurdorp af te bring. Vandag was vir my ’n uitmergelende dag en ek kon nie alles gedoen kry nie.
Dankie, vir jou met jou lang en lenige lyf wat vir my die laaste boksie koffie hoog bo en vêr agter op die winkelrak aangee, my bene is te kort en my rok is nie geskik om so te rek en strek nie.
Dankie, liefste Take-lot-man wat vir mý dankie sê vir al die pakkies wat jý by my huis kan kom aflewer. Jy leer my iets dieper van dankbaar wees en met ander oë na die lewe te kyk.
Dankie, vir jou, juweel en staatmaker vrou wat elke dag ons huishouding bymekaar hou. Al verstaan ek nie aldag hoekom jy met ons Engels praat en met die honde Afrikaans nie, is ek so dankbaar vir dit wat jy elke dag vir ons doen en beteken.
Dankie, vir jou professionele besigheidsman, wat gereed staan met eerlike en kundige advies. Jy het ons oor die jare baie geleer van eerbaar besigheid doen, risiko’s identifiseer en daarvoor voorberei.
Dankie, vir jou, mede mamma, wat ’n boodskap stuur om te hoor hoe dit met my olike kindjie gaan, raad te gee en sterkte te sê, dit help om te weet dat die wêreld nie van ons vergeet het nie.
Dankie, vir jou wat op nommer 99 gereed staan met ‘n platter eetgoed vir nog ‘n funksie, dit haal soveel hooi van my vurk af.
Dankie, vir jou wat my vol skedule akkommodeer, my naels en hare versorg en my hart pamperlang, dit is dikwels die enigste bederf wat ek kry.
Dankie, vir jou wat aanbied om ’n Saterdag ons kinders te vermaak, sodat ons ons tenke kan gaan vol maak. Ons het die uitkomkans só nodig.
Dankie, vir jou wat die hekkie by die kleuterskool vir my oophou terwyl ek soos ’n pakdonkie my dogter, haar skooltas, beddegoed, doeke en háár ‘baba’ betyds by haar klas probeer besorg.
Dankie, vir jou wat my kinders versorg en leer terwyl ek werk. Ek sien hoe hulle grootword en weet hoe klein my aandeel in hulle vaardighede is. Dankie, dat ek weet hulle is veilig en geliefd en dat ek kan fokus op hul waardes en karakter. Ek beny julle geduld en die ongelooflike gawe wat julle gekry het.
Dankie, vir jou wat vir my komplimenteer oor my hare, grimering of rok, juis op die oggend wat my gemoed soos al die ongestrykte wasgoed voel.
Dankie, vir jou wat ‘n boks druiwe of koekies by my huis kom afgee, ’n lekkerny maak altyd ’n moeilike dag beter.
Dankie, vir jou wat my bederf met my gunsteling sjokolade of bos blomme. Daar lê ‘n ander soort liefde in effort.
Dankie, vir jou wat my eer beskerm en my oordeel op dit wat ek al vir jou gewys het en nie op dit wat ander van my vertel nie.
Dankie, vir jou by die vulstasie wat my motor se voorruit was, ek kon vir ’n geruime tyd nie lekker sien as die son sleg skyn nie.
Dankie, vir jou wat my sakkies by die betaalpunt pak, my aankope veilig in die kattebak besorg en die trollie terugneem winkel toe, dit was die eerste ding waarmee ek nie vandag hoef te gesukkel het nie.
Dankie, vir jou, liefste vriendin wat moeite maak om te kom kuier, voice notes te stuur, regtig te bid en wat in my drome glo. Dankie dat jy deel is van my oorwinnings en teleurstellings. Dankie, dat ons op ’n Saterdagoggend kan gaan Titanic fliek en ons kan huil oor meer as net die werkersklas wat onder in die boot toegesluit word en die reddings bote wat nie wou teruggaan om nog mense te red nie.
Dankie, vir jou wat my wese verstaan, my aanspreeklik hou, die reguit woorde praat en die moeilike gesprekke met my het. Jy hou my op die reguit pad en help my om my beste self te wees.
Dankie, vir oudkollegas wat inloer, vir my die beste toewens en my steeds laat voel soos die beste leier in die wêreld.
Dankie, vir nuwe kollegas wat vertroue in my stel, hulle harte vir my oopmaak (en een van twee prams stoot sodat ek ook kan gaan saam stap).
Dankie, vir jou Mooistevrou, wat hierdie blog lees en deel. Julle skep ’n platform waar God mense op ’n kragtige wyse kan bereik.
Ek is dankbaar vir jou, Klippie-uit-die-pad-rol-mens. Jy is die lafenis op ‘n warm dag. Die skadu waarin ek vir u rukkie kan rus. Jou vriendelikheid en behulpsaamheid mag dalk vir jou gering of onnodig lyk, maar vir my maak dit saak. Vir my beteken dit iets. Vir my maak dit ’n moeilike dag beter. Die wêreld het meer van jou kaliber menswees nodig. Jy inspireer my om ook ‘n Klippie-uit-die-pad-rol-mens vir ander te wees.
Ek bid dat jy wat hier lees se pad besaai sal wees met Klippie-uit-die-pad-rol-mense. Ek bid dat jou geestelike oë wa-wyd wakker sal wees vir die “Engele” wat God op jou pad plaas. Ek bid dat daar sal mense wees wat jou op die hande dra. Wat met jou vriendelik en gaaf sal wees. Wat saam met jou opgewonde is vir jou suksesse en vir jou die beste bedoelings het. Mense wat jou laste minder maak en jou hart ligter maak. Ek bid dat jy nie jou voet teen ‘n klip sal stamp nie. En ek bid dat wanneer die Klippie-in-die-skoen mense jou voete seermaak, jy nie bang sal wees om jou skoene uit te trek en aan te beweeg nie. Dat jy nie sal struikel, sal val of seerkry sonder klippie-uit-die-pad-rol mense naby om jou op te help nie.