deur Lericia Janse van Rensburg
Die mens is nou maar eenmaal ‘n beplanner. Ons het lysies teen die yskas op, geskeduleerde boodskappe op ons fone en vol geskryfde dagboeke.
Ons leef asof môre aan elkeen van ons belowe is.
Ongelukkig, werk die lewe nie altyd volgens jou beplanner nie en pak donderwolke soms saam op ‘n dag wat volgens die weerburo moes sonnig gewees het.
Wanneer die winde van verandering begin waai en donderwolke begin saam pak in ons lewe is dit maklik om vetroue te verloor.
Ons raak paniekerig en probeer alles in ons menslike vermoë om by ons beplanning te hou. Maar wanneer die storm winde begin waai en daai eerste druppels begin val is daar niks wat jou beplanning aan die storm kan doen nie.
Dit is dan wanneer jou geloof en vertroue getoets word. Dis maklik om in sak en as te gaan sit en op te gee omdat jy nie meer die son kan sien skyn nie.
En so tussen deur al die self bejammering en kwaad vergeet jy dat jou lewenstuin ook die reën nodig het om te groei.
Wanneer jy dan jouself in die middel van 'n onbeplande storm bevind en nie weet hoe jy daar gaan uitkom nie, begin anders na jou storm kyk. Trek dan uit jou skoene en begin dans, terwyl jy besef dat dit Yahweh se genade is wat op jou neer reën. Vertrou op Hom en weet dat jy die reën nou nodiger het as jou beplande sonskyn dag. Glo dat Hy die son weer op Sy tyd- die regte tyd- sal laat skyn, want in die middel van jou storm is dit net by Yahweh waar jy vrede en kalmte sal vind.
“Wees nie bekommerd oor môre nie, want Yahweh is reeds daar.”
Die lewe wag vir niemand nie.
Leer om in die reën te dans, want selfs na die donkerste storm sal die son weer skyn.
Beplan vir môre, maar vetrou dat wat ookal môre mag in hou, deel is van Yahweh se perfekte beplanning vir jou.
