Die hart van ‘n introvert
‘n Introvert eksternaliseer nie gewoonlik haar/sy emosies of gevoelens nie en daarom registreer dit gewoonlik probleme by die vestiging van sosiale skakels. Hulle energie word gelaai deur alleen-wees by die huis of enige gemaklike plek. Dit word dikwels verwar met skaamheid, maar introversie is ‘n persoonlikheid en word maklik in vandag se samelewing gesien as negatiewe mense.
Daar is ook verskillende vorms van introversie en introverte is nie almal dieselfde nie. Ek is ‘n introvert en ek word maklik gekenmerk as nors, skaam of selfs ongeskik. Vreemde mense intimideer my, groot groepe mense maak my angstig en eerste indrukke maak my senuweeagtig. Ek praat nie maklik met enige iemand nie, ek maak moeilik vriende. Dis nie omdat ek moeilik wil wees nie, dis slegs my persoonlikheid. Wanneer ek wel gemaklik met jou en die omgewing is, raak my hart rustig en kan ek soms te veel praat! Dan is ek die katjie van die baan en kom my menswees regtig uit.
Dis vir my lekker om tyd te spandeer saam my hartsmense, om te gesels, te lag en te kuier is goed vir my siel, maar anders as vir ‘n ekstrovert, het ek dan gewoonlik tyd nodig om by batterye behoorlik te laai in my veilige, gemaklike sone – my huis.
‘n Hart van ‘n introvert is nie altyd maklik nie. Soms wens ek ek het die persoonlikheid van ‘n ekstrovert gehad. Om sommer net met mense te begin gesels, om die eerste stap te neem, om altyd in die bui te wees vir mense, om makliker jou hart oop te maak, om makliker vriende te maak, om minder jou te steur aan mense en om vriendeliker voor te kom al is jy eintlik.
Met die jare pas jy aan en skaaf aan jou introversie, maar jy kan ongelukkig nie jou menswees verander nie. God het jou só gemaak. Ons introverte kastei onsself maklik oor ons persoonlikheid en probeer onsself onnodig druk.
Introverte se batterye word maklik getap en dit skep ook gewoonlik probleme in verhoudinge tussen ‘n ekstrovert en ‘n introvert. Ekstroverte beinvloed mense makliker en trek altyd mense aan. Daar sal altyd ‘n persoon of persone in ‘n gesprek wees waar almal aan hulle lippe hang. Ekstroverte se energie is aansteeklik en soms is dit goed om so ‘n tiepe persoon in jou binnekring te hê, maar dis ook goed om mense rondom jou te hê wie se batterye min of meer dieselfde tyd as joune gelaai moet word. Dan verstaan julle mekaar se golflengtes.
Introverte verkies die stilte van kalmte anders as die hoogtes van geluk. Hulle luister maklik, is baie meér oplettend en passievol. In die besigheids-wêreld is bekende ikone introverte en gewoonlike goeie leiers.
Ek dink die persepsie rondom introverte word nie altyd reg uit gebeeld nie. Introverte word maklik mis gekyk oor hulle nie noodwendig dadelik reageer, praat of opinies lig nie. Onthou dat God jou hart die beste ken en jy die ritme, gebruik dit as jou voordeel.
Die hart van ‘n introvert is nie ‘n straf nie, al sien ons dit soms so, neé sien dit as ‘n seën.