top of page

Die Herfsseisoen in Jou Lewe:

Deur Femke Paul


Daar is iets betowerend aan die herfs: bome wat voor jou oë vlamvat, blare wat onder jou voete knars wanneer jy in die natuur loop en die vuur wat knetter in die kaggel. Daar is iets rustend aan die herfs. Romanties. Iets belowend: die natuur wat homself vernuwe.


Elke seisoen van ‘n mens se lewe het iets moois. Nie net die lente en somer nie, maar die herfs en winter óók. Gedurende ʼn baie moeilike tyd in my lewe, het ʼn dame vir my ʼn boodskap gestuur: “Sterre kan nie skyn sonder duisternis nie.”


Dit is moeilik om so daaraan te dink, maar die duisternis het ook sy skatte. Jes. 43:3 sê: “Ek sal vir jou die skatte van die duisternis gee en die verborge skatte van geheime plekke sodat jy kan weet dat dit ek, die God van Israel is wat jou by jou naam roep.”


Ons het ʼn geneigdheid om duisternis of slegte tye te assosieer met boosheid, maar dit is nie altyd die geval nie. Ek het vir ʼn lang tyd in my lewe deur ʼn vreeslike intense tydperk van “Dark Night of the Soul” gegaan. “Dark night of the Soul” verkry sy naam vanaf ʼn gedig wat geskryf is deur “St. John of the Cross.” Godsdiensleiers, sielkundiges en psigiaters gebruik hierdie term om te verwys na ʼn vreeslike pynlike tydperk in ʼn persoon se lewe. Party beskryf dit as “die verlies van jou siel.” ʼn Mens mag dalk daarna verwys as “die herfs of winter van jou lewe.” Hierdie tydperk versterk ʼn mens in ʼn vreemde sin. Dit is soos wat Angie Weiland-Crosby sê: “Only in darkness can we glimpse the fullest light our soul carries for us.”


Tog, na hierdie tydperk- wanneer die winter sy yskombers afgooi, jy jou wyshede versamel het en die lente begin deurbreek, kyk jy met nuwe oë na die lewe. Die blomme se kleure is vir jou helderder, die reuk van bloeisels is meer treffend (ek is veral lief vir die geur van Jasmyn) en die woorde: “carpe diem,” graveer jy in jou kop. Jy gryp die lewe met beide hande aan, want jy besef jy het net een.


Soek die goud in elke seisoen van jou lewe…en soos die gesegde lui:

“Of all the seasons, autumn carries the most gold in her pockets.”



499 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page