top of page

Die kat en muis teorie:

Van Dixie&Pixie tot ons immergewilde Tom&Jerry, ja, ons almal ken 'n vorm van 'n kat wat

al ewig 'n muis jaag en vaal en 'n muis wat al ewig moet weghardloop en wen. Nou ek dink jy

kan saam stem, of dit nou 'n tekenprentjie is of 'n idioom, die kat en muis teorie is 'n metafoor

wat toegepas kan word op ons alledaagse lewens.


“Wat is die teorie?” vra jy. Die teorie, vereenvoudig deur wikipedia , behels iemand wat

iets of iemand najaag, amper kry, maar dan ontsnap die iets of persoon wat later verander in

'n eindelose en geslote sirkel van gebeure. Die kat kan 'n metafoor wees vir jou baas, 'n mede

werker, 'n onderwyser, 'n skoolmaat of dalk iemand in jou familie. Ons almal het een of ander

kat in ons lewens wat konstant daarop uit is om ons lewens moeilik te maak. Die muis kan 'n

metafoor vir jou wees. Jy voel dalk klein en hulpeloos aan die begin, met geen idee hoe jy jou

struikelblok gaan oorwin nie, maar dan gebeur dit! Jy oorleef en oorwin, net om jou volgende

struikelblok te vind.


Eindelose en geslote sirkel van gebeure.

Met hierdie teorie in gedagte, het ek onbewustelik gegryp na my Bybel, wat geduldig op my

bedkassie lê en wag, en maak dit oop op 2 Konings 6 – die storie van Elisa en die Arameërs.

Ek was verbysterd en geïntreseerd oor hoekom die Bybel juis hiér oop gemaak het, en na 'n

paar minute, kon ek verstaan hoekom.


Gedurende hiérdie tyd, was Arameë in oorlog teen Isreal. Die Arameëse koning het planne

beraam en sy weermag opdrag gegee oor hoe om Isreal te beveg en waar om kamp op te

slaan. Tog, elke plan het gevaal en Isreal het hom bly ontwyk soveel dat die koning 'n

verraaier begin soek het. Die “verraaier” was Elisa, die man van God. Nou hy was nie deel

van die koning se raad nie, maar hy het van die planne geweet en Isreal elke keer betyds

gewaarsku. Woedend, het die koning daardie selfde aand sy weermag gestuur om Elisa te

gaan haal in Danton. Elisa was saam met sy dienaar in die huis toe die weermag sy huis

omsingel. Die dienaar was benoud oor die oormag, maar Elisa was kalm, want “daar is meer

aan ons kant as aan hulle kant”. En werklik, toe die dienaar se oë oopgaan, was daar engele

en perdewaens van vuur bokant die weermag. Elisa het gebid tot die Here om hulle blind te


maak terwyl hy hulle oortuig dat hulle op die verkeerde plek is en hulle lei na Samaria toe –

waar Isreal se leër rus.

Ek weet nie van jou nie, maar hierdie voel soos 'n gepaste storie en net om weer daaroor te

kan dink en skryf gee my hoendervleis. Dink jouself net in, hoe moet dit nie voel om voor die

vyandsmag te staan en hulle om die bos te lei nie? Jy en God teen die wêreld!

Terug by die teorie, om te sê dis 'n eindelose sirkel van gebeure, ek sê dit nie om jou

depressief te maak nie. Struikelblokke is deel van die lewe en dis juis hierdie moeilikhede

wat aan ons karakter en eienskappe bou. Struikelblokke maak ons lewe interessant en

daarsonder sou ons almal seker maar dieselfde ou vaal bruin sokkies gebly het. Wat is die

punt van die lewe dan? As ons nie wil lewe nie, dan kon ons almal net so wel in die Hemel

gebly het. Tog, wanneer ons wil lewe en groei, is daar struikelblokke wat soms dreig om ons

te verdrink.


Die enigste raad wat ek hierop kan bied is, wees soos Elisa, hê vertroue en

deursettingsvermoë in God dat Hy daar sal wees vir jou en jou sal help wanneer jy dit nodig

het. Net soos Elisa, moenie bang wees vir die kat in jou lewe nie, hy/sy/dit kan jou nie

seermaak of leed aandoen nie, nie met God se beskerming nie.


As jy meer prakties daaroor wil dink, dink so daaraan. Jy het 'n keuse. Daar gaan altyd

iemand wees wat jaloers is, jou wil seermaak en onderkry. Selfs jy kan partykeer jou eie kat

wees. Daar gaan tye wees waar jy nie van jouself gaan hou nie, onseker is, in jouself en jou

waarde twyfel, maar jy het 'n keuse wie jy wil wees. Wil jy die kat of die muis wees? Wil jy

heeltyd iets arrogant najaag net om dit heeltyd te verloor of heeltyd die ‘nee’ woordtjie te

hoor of wil jy die muis wees? Ja, die muis is die prooi en moet wegkruip en weghardloop,

maar jy hoef net na Tom&Jerry te kyk om te verstaan hoekom dié nie 'n probleem is nie.


Ter afsluiting, vanoggend wil ek jou net weer bewus maak oor al die antwoorde en pêrels wat

in die Bybel lê en wag vir jou, ja, net vir jou. Ek wil jou bewus maak oor die katte in jou lewe

en dat niks onoorkombaar is nie. Ek wil jou laat besef dat ons almal 'n Elisa kan wees wat ons

Arameëse weermag kan verslaan deur God se genade en liefde alleen.


Tot sover en met alle suider-liefde,


Marianne.

138 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page