top of page

Die kontras van Kersfees


Vir sommige is Kersfees die besigste tyd van die jaar. Ons maak lysies tot ons vingers krom is. Kersinkope-lysies. Geskenk-lysies. Kruideniers-lysies. Aktiwiteite-lysies. Onthou-lysies. Doen-lysies. Maaltyd-lysies. Oefen-lysies. Begrotings-lysies. Die lysies gaan aan. En aan. En aan. 

 

Vir ander is Kersfees die mees eensame tyd van die jaar. Ons wag dalk vir ‘n oproep, maar die foon lui nie. Ons kyk kort-kort vir ‘n boodskap, maar dit verskyn nie. Ons hou die deur dop - hunkerend - maar daardie één persoon daag op nie. Al weer nie. Nog steeds nie. Dalk nooit weer nie.

 

As jy jouself in die eerste kategorie bevind, wil ek jou vra om te stop. 

 

Stop net. 

 

Gaan staan net ‘n oomblik stil. En dink.

 

 

As een van jou geliefdes more te sterwe moes kom, gaan jy wens jy het vir hulle ‘n lekkerder maaltyd voorberei of ‘n groter geskenk gekoop? Gaan jy wens jy het die huis vroliker versier of nog ‘n bietjie tyd spandeer om die kombuisvloer skitterblink te skrop? Gaan jy wens jy het nog ‘n bietjie op Facebook ge-scroll of nog ‘n glasie wyn gedrink voor jy huis toe gaan? Gaan jy wens jy het net vinnig nog ‘n kliënt se epos beantwoord, nog ‘n suksesvolle transaksie beding of nog ‘n besigheidsreis afgelê?

 

Ek twyfel. 

 

Jy gaan wens jy het nog n bietjie langer agter jou man se rug gelê in plaas van vroegoggend in die huis rondskarrel.

 

Jy gaan wens jy het nog ‘n storie vir jou dogtertjie gelees of nog n rukkie wegkruipertjie saam jou seuntjie gespeel.

 

Jy gaan wens jy het saam op die springkasteel gespring, saam geswem, saam sandkastele gebou.

 

Jy gaan wens jy het die afskuwelike liedjie wat jou tiener vir jou gespeel het klaar geluister, of tog maar saam met hulle die verspotte TikTok video gemaak.

 

Jy gaan wens jy het gebel of moeite gedoen om te gaan kuier.

 

Jy gaan wens vir meer stil oomblikke. Meer gesprekke. Meer drukkies. Meer vashou. Meer stilsit en in mekaar se oë kyk. Meer luister en uitvra - selfs al prikkel dit glad nie jou belangstelling nie.

 

Jy gaan wens jy het om verskoning gevra vir jou bitsigheid.

 

Jy gaan wens jy het gesê hoe lief jy hulle het.

 

Jy gaan wens vir meer foto’s om na te kyk wanneer jy alleen in jou bed lê en huil.

Jy gaan wens vir meer tyd. Meer tyd om te doen wat saak maak.

 

Alhoewel dit geensins my bedoeling is om te veralgemeen of kinders se verlore sin vir verantwoordelikheid te regverdig nie, kan ek nie help om te wonder waarmee ons bejaardes in Tehuise en oupas en oumas wat die feesseisoen alleen moet deurbring hulself in hul jonger dae mee besig gehou het nie? Watter take was op hulle lysies? Waaraan het hulle hul tyd toegewy toe hul in die vleuel van hul lewe was?

 

Barbara Johnson het dit so mooi gestel: “To be in your children’s memory tomorrow, you have to be in their lives today.” 

 

Maak seker jy maak van hier af vorentoe die regte soort lysies sodat jy eendag kan terugdink en weet jy het jouself toe gewei aan die regte take. Take met ewigheidswaarde. Take wat in lyn is met jou roeping en waarmee jy tevrede sal wees as jy of jou geliefde hul laaste asem uitblaas.

 

Almal gaan iets van jou onthou. Maak seker jy los herinneringe en ‘n nalatenskap wat jou geliefdes se harte gaan warm maak. Nie bitter nie. 

 

Alles is n gejaag na wind. Die wêreld, jou familie, jou gesin, jou man en jou kinders het nie hierdie feesseisoen ‘n weghol veldbrand nodig nie. Hulle het nodig dat jy teenwoordig en betrokke is. In liggaam en in gees.

 

Studies het bewys dat die gemiddelde mens se voete en gedagtes 47% van die tyd nie op dieselfde plek is nie. Dus is ons amper die helfte van ons lewe iewers teenwoordig, maar nie betrokke nie.

 

Ons is teenwoordig in die geselskap, maar met ‘n selfoon in die hand, is ons nie betrokke by die geselskap nie.

 

Ons is teenwoordig op die mat, maar met die TV aan, is ons nie betrokke by ons kinders se speel ervaring nie.

 

Ons is teenwoordig in die slaapkamer, maar met ons gedagtes by die werk, is ons nie betrokke in die intieme proses nie.

 

As jy jouself dalk in die 2de kategorie bevind is ek jammer. 

 

Ek is jammer dat jy opregte en lojale vriendskap aanbied en jou ‘vriende’ jou nie saam genooi het see toe nie. Ek is jammer dat hulle nie meer moeite gedoen het om jou Kerspartytjie by te woon nie. Mag God jou hierdie Kersfees seën met hartsvriende.

 

Ek is jammer vir jou wie se lewensmaat ontrou was en jou jare lange liefde verruil het vir kortstondige geluk. Jy het dit nie verdien nie. Mense met karakter doen nie dit aan ander mense nie. Ek bid dat jou hart gesond en heel sal word en dat jy nooit óóit sal twyfel in jou waarde as vrou en mens nie. 

 

Ek is jammer vir jóú wat jou sente moet om draai en al weer met Jan Tuisbly se karretjie moet ry. Ek weet dit is swaar om die kerkmuis te wees en van die hand tot die mond te moet leef. Mag jou skip spoedig met God se guns en genade inkom.

 

Ek is jammer, Tannie, dat jy op jou oudag alleen en vergete voel. Eks jammer dat jou kinders en kleinkinders nie kom kuier nie. En nie bel nie. En nie vra hoe dit met jou gaan of aanbied om jou te kom haal nie. Jy het jou mooiste jare vir hulle gegee. Hulle gaan eendag met die berou moet saamleef omdat hul jou stief behandel het. En hulle gaan verlang. Weet dat Tannie soveel lewens geraak en die lewe ’n beter plek gemaak het. Mag Tannie se laaste tyd op aarde gevul wees met gesondheid en opwinding en geluk uit ander oorde. En mag Tannie uitsien om vir Jesus te ontmoet.

 

Ek is so innig jammer vir jóú wat jou geliefde so skielik en onverwags moes verloor. Ek weet daar was nog soveel wat julle saam wou doen en dat jou hart nog lank nie reg was vir híérdie eensaamheid en seer wat deur jou siel sny nie. Ek weet jy weet nie hoe om met hierdie lewe aan te gaan nie - nie eers te praat van die feesseisoen vier nie. Jy is nie alleen nie. Jy huil nie alleen nie. God sien jou hartseer en Hy huil saam. Jy sal weer eendag lag.

 

Kersfees.

 

Kersfees is ‘n tyd van wonderwerke en verdriet. ‘n Tyd van hoop en moed opgee. ‘n Tyd van lag en van huil. ‘n Tyd van saam wees en alleen wees. ‘n Tyd van oorvloed en tekort. Maar genadiglik het ons een konstante deur dit alles en Sy naam is Jesus. 

 

“Want 'n Kind is vir ons gebore, 'n Seun is aan ons gegee; en die heerskappy is op sy skouer, en Hy word genoem: Wonderbaar, Raadsman, Sterke God, Ewige Vader, Vredevors.”

 

Geseënde Kersfees, Mooistevrou. Alles wat jy kort, is by Jesus.

227 views0 comments
bottom of page