Die Krag van Stilte - ♡
Om stil te word is iets wat vir meeste van ons ‘n vreemde konsep geword het. Stil word is so vreemde konsep in ‘n samelewing wat gedryf word deur tegnologie, om ‘n loopbaan te bou, om eerste te wees in dit wat jy doen of om konstant besig te bly sodat jy jou ure van jou dag optimaal kan benut.
Die woord stilte het vir my ‘n nuwe werêld laat oopgaan in die laaste maand of twee. Ek het opnuut besef dat stilte vir ons elke dag die geleentheid bied om God se skepping, myself en my geliefdes meer te waardeer. Stilte het my opnuut laat kyk na die daaglikse uitnodiging wat deur God vir ons gestuur word.
Ons het vergeet hoe om stilte te hanteer omdat ons om elke hoek en draai wag op die volgende ding wat moontlik angs of stres in ons daaglikse lewe mag voort bring. Ons is so oorweldig deur daaglikse bekommernisse dat ons blind is vir die rustige roete wat God daagliks vir ons oopmaak. Ongelukkig moet ‘n mens êrens in jou lewe iets persoonlik beleef wat jou dryf na stilte of jou so oorweldig dat niks anders as stilte jou kan bevry nie. Oomblikke of situasies wat ons dryf na stilte beinvloed of belemmer somtyds ons vermoëom die lewe ten volle te geniet en om ten volle onsself te aanvaar soos God ons aanvaar.
Die vraag wat ek myself so rukkie terug gevra het was – kan ons stilte vind deur geloof te midde van die oorweldigende storm van emosies, onsekerhede en angs wat ons ervaar? Wel kom ek wees eerlik in baie gevalle lyk dit onmoontlik, maar deur geloof, hoop en liefde is daar oorweldigende stilte en vrede wat wag aan die ander kant. Deur stilte het ek geleer dat ek nooit alleen is nie, Hy is saam met ons in elke situasie. Ongeag die situasie waarin ons, onsself daagliks bevind, of ongeag wat jy op ‘n spesifieke oomblik oor jouself dink of voel, nooit sien God jou met negatiewe oë nie. Dit is ons wat moet leer om stil te word en te weet dat ongeag jou situasie, jou swakheid of jou gedagtes ons altyd rustigheid sal ervaar wanneer ons God toelaat om ons te help.
Stilte beteken vir elkeen van ons iets anders. Vir my is stilte om in die natuur tyd te spandeer – sonder tegnologie, sonder die invloed van materialisme. Maar dit is meer is as dit, stilte het vir my ‘n daaglikse uitnodiging geword, vroeg oggend waar ek geleentheid skep om my gevoelens en gedagtes wat my hart en gemoed oorweldig te beheer. Om dit wat my laat twyfel in my eie menswees of vermoëns aan te spreek en dit nie saam met my in my dag in te neem nie. Deur stilte en deur geloof kan ons rustigheid ervaar in ‘n besige lewe.
Mooiste Vrou, ons moet in die gewoonte kom om dit wat ons laat twyfel in onsself, of dit wat ons onrustig maak tydens ons stil tye op te dra aan God. Ons moet glo dat Hy omgee vir ons, dat Hy ons kan help en dat ons saam met Hom rus sal beleef.
Stilte is ‘n geleentheid om vrede te vind tydens onsekerheid. Stilte is ‘n geleentheid om jouself te vergewe vir dinge waarmee jy nie saam stem nie. Stilte is ‘n geleentheid om jou geliefdes op te dra aan God. Stilte is ‘n geleentheid om te besluit wat ons met die daaglikse uitnodigings van ons samelewing gestuur deur God te maak. Stilte gee vir ons die geleentheid om te kies of ek vandag vriendelik gaan wees. En stilte gee vir ons die geleentheid om elke dag opnuut die lewe te geniet.
Skep vir jouself oomblikke van stilte sodat jy die daaglikse uitnodigings kan raaksien, ervaar en uitleef.
- Liefde Charné ♡
