top of page

Die lewe is ‘n uitdaging,maar die uitkoms is onweerstaanbaar!

Die lewe bestaan letterlik net uit een massiewe uitdaging: ‘n Ongelooflike, deurmekaar, opwindende en fantastiese reis op pad na die perfekte lewe waarna ons almal op soek is. Gedurende jou lewensreis as ‘n mens gaan jy egter met verskeie uitdagings langs die pad gekonfronteer word. Elkeen van hierdie struikelblokke sal jou ‘n ander emosie laat ervaar waaroor jy dalk nie eers geweet het dat jy beskik nie. Dit sal dan heel waarskynlik vir jou voel asof dit die einde van die wêreld is, maar eintlik is dit glad nie…


Dit laat my dink, die lewe is amper soos ‘n nimmereindigende stap, met heuwel na berg na heuwel, wat ons elke dag moet klim na die top van die finale berg. Maar die beste nuus is, dat jy self kan bepaal of jy die berg gaan uitklim of nie. Ja, jy het reg gelees. JY, beskik oor die vermoë om die uitslae van jou eie lewensreis te bepaal.


Soos ons elke dag die berg klim, gaan jy uitdagings teëkom, dis die padtekens wat God vir ‘n baie spesifieke rede op ‘n bepaalde tyd en plek in jou lewe geplaas het. Dis egter jou keuse hoe jy daarop gaan reageer en hoe jy dit in jou lewe wil gebruik.


Dit voel dalk nou vir jou asof alles uitmekaar val, asof jy aan die agterspeen van die lewe suig, jy voel verlore, met geen rigting nie, jou geloof word getoets en dit voel net asof jy verder val en nie verder wil klim nie. Weet net: Dit gaan beter word! Hoe werk jy dit uit? Hoor ek jou vra. Wel, die groot geheim is om te besluit wat presies jy daar omtrent gaan doen.


Gaan jy net sit en toelaat dat hierdie uitdagings jou onderkry of gaan jy elkeen van hulle met albei hande aangryp en iets daar omtrent doen?


Die lewe kan soms wreed wees, en gaan ongelukkig nie spesiaal net vir jou stop omdat jy seergekry het nie. Dit hou eenvoudig net aan om met of sonder jou vorentoe te beweeg en dis jou keuse of jy gaan saamry of agterbly.


Elkeen van ons maak foute, ons kry seer en val tydens ons lewensreis. Jy en ek is menslik. Wat tel is, om van jou foute te leer, aan te beweeg na jou seer kry en op te staan nadat jy neergeslaan het. Mense sal soms neersien op jou wat geval en weer opgestaan het. Maar miskien het God hulle die val gespaar, omdat Hy geweet het hulle sal nie weer kan opstaan nie.


Jy as ‘n lewendige menslike wese kan die lewelose padtekens oorwin omdat jy ‘n Almagtige Bestuurder langs jou het, wat jou sal leer hoe jy elkeen behoort te hanteer. Jy sal moet leer om ook vir geslote paaie, ompaaie en padblokkades op jou roete dankbaar te wees, selfs al lyk dit op daardie stadium alles behalwe aangenaam vir jou.


Hierdie struikelblokke kan moontlik help om jou te beskerm teen gevaarlike bestemmings wat jy op jou lewensreis sou aantref indien dit nie op daardie tyd en plek voorgekom het nie. Jou Bestuurder ken jou goed genoeg om te weet dat jy dalk iets ernstigs kan oorkom indien jy daardie bepaalde roetes in jou lewe sou volg. Daar sal altyd ‘n berg wees wat jy moet oor kom, selfs al het jy dit ook hoe goed beplan.

Dinge werk nie altyd uit soos wat jy dit beplan het nie, maar dis die lewe: Een massiewe uitdaging!


Die uitdagings is juis wat die lewe terselfdertyd só opwindend en vreesaanjaend maak, maar ons is geneig om dit te ernstig op te neem en die hele proses daardeur te kompliseer. Almal is ewe nuuskierig oor wat die eindresultaat gaan wees, maar tog bly dit een groot raaisel tot daardie oomblik waarin jy sal besef dat alles tog uiteindelik uitgewerk het soos wat dit moes.


Die lewe mag jou dalk verras met oplossings waaraan jy nooit eers in jou wildste drome self sou kon dink nie. Niemand het belowe dat jou lewensreis maklik gaan maklik wees nie, maar jy kan vrede vind in die wete dat dit alles tog uiteindelik die moeite werd sal wees.


Haal diep asem, voel hoe die wind deur jou hare waai, sing op die maat van die musiek, glo dat die beste nog vir jou voorlê en geniet die onweerstaanbare uitsig.



552 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page