Die lewe lê tussenin – hou op hard wees op jou self
Daar is dae wanneer ek pligsgetrou opstaan om te oefen. Wanneer die nuwe rok nie so sleg lyk en styf sit nie. Dae wanneer ek my bottel water op drink. Niks by die huis vergeet nie en vir al die afsprake betyds is. Daar is dae waar ek myself beindruk oor hoe ek 'n moeilike situasies hanteer. En dae wat ek met 'n oormaat endomorfe en 'n goeie gesindheid die dag se uitdagings (geduldig) aanpak. Dae wat my huis in orde is en ek die tyd saam met my kinders vir niks in die wêreld sal verruil nie. Dae wat ek die Here tasbaar naby voel. Daar is selfs dae wat ek dit regkry om my selfoon op die bedkassie te bêre met slegs 16 'unread' whatsapps.
En dan is daar dae wat dae waar ek my humeur verloor, al die verkeerde dinge sê en wens dat ek die dag oor kon begin. Daar is dae waar ek soos 'n hawelose lyk wanneer beurtkrag my onkant vang. Dae wat my hart sink omdat iemand my oordeel op hoorsê en nie op die waardes wat ek uitleef nie. Dae wat ek wens dat ek meer as een enkele sakkie kruideniers vir R600 kon koop. Daar is die dae waar ek met 'n koorsige, huilende baba in die een arm staan terwyl my kleuter in die ander arm onophoudelik oor my en die apteek se vloer opgooi. Dae waar ek 3 uur die oggend die laaste skoon beddegoed oortrek en met inghoue frustasie "gloempies" in toegeklemde mondjies probeer inkry. Dae waar ek al my afsprake moet uitstel en aande wanneer ek tussen vuil skottelgoed, halwe bakkies jogurt en 'toe-crusher' lego met die te-veel-ste koppie koffie 'n pad skoonvee om net na middernag my mees produktiewe werksure in te pas.
Mooistevrou, nie ek of jy of die slank vrou met haar heuning bruin hare en perdeby lyf wat elke oggend vriendelik verby jou huis draf, is perfek nie. Die waarheid is dat ons vir onsself (en vir ander) onregverdige en onhaalbare standaarde stel. Meestal om ander mense te beindruk van wie ons nie eers regtig hou nie. Ons moet die oeroue drang weerstaan om soveel van ons energie en vrede te bestee aan wat ander van ons dink. Meeste mense is nie eers seker wat hulle van hulle self dink nie!
Ons almal het iets in die verlede wat ons uit ons hede wil hou. Ons almal voel op 'n stadium ontevrede met ons voorkoms. Ons almal het al iets gesê of gedoen wat ons nie kan terugvat of regmaak nie. Ons almal het al ons kussing sopnat gehuil en gehunker na iets wat eenvoudig nie vir ons beskore is nie. Elkeen van ons het al gevoel asof ons gebede aan die plafon vasplak. Ons almal is al verraai en verneder en in die steek gelaat. Ons almal wou al op een of ander stadium iewers anders oorbegin. Ons almal het op ons eie manier verlies ervaar. Ons almal het al gevoel soos n slegte ma. En slegte vrou. En slegte vriendin. Asof ons pogings misluk en tevergeefs is.
Moeilike tye vorm ons - dit hoef ons nie te definieer nie. Dit bepaal nie ons waarde nie.
Ons lewe is 'n tydlyn. Dit het 'n onvoorspelbare begin en 'n defnitiewe einde. Dit is versier in opwindende hoogtepunte en verniel deur teleurstellings. Die lewe is nie 'n spesifieke doelwit wat jy behaal of storm wat jy oorleef nie. Die lewe lê tussen in. Die lewe is tussen jou goeie en slegte dae. Tussen jou bordjie slaai en die blokkies sjokolade. Tussen jou wysheid en jou foute. Tussen braaf en spyt wees. Tussen jou gesondheid en diagnose. Tussen verlowing en egskeiding. Tussen bevordering en bankrotskap. Tussen jou vol huis en leë nes. Tussen jou jeug en jou oudag. Tussen vandag se onthou en gister se vergeet. Tussen liefhê en mure bou. Tussen die rondskarrel en rustigheid. Die lewe is tussen in.
Vandag is net 'n slegte dag - dit is nie 'n slegte lewe nie.
Kan ons vir 'n oomblik ophou hard wees op onsself?
Kan ons vir 'n slag weer soos Jesus met sagte oë na ons menswees en lewe kyk? Kan ons ons self toelaat om die emosies te ervaar wat elke dag oplewer - sonder om dit onder die mat in te vee met ons pogings om "sterk" te wees.
Kan ons net weer 'n bietjie grace hê vir onsself en vir ander? Kan ons 'n sagte landing wees? Kan ons ruimte skep waar dit veilig is om kanse te vat, foute te maak, te leer en weer te probeer? Kan ons tyd maak om te voel? Te aanvaar? En te verwerk?
Ons mag dalk nog nie wees wie ons behoort te wees nie. Maar dankie tog ons is nie wie ons gister was nie.
Hou op om so hard te wees op jouself. Jy doen die beste wat jy kan. Daar waar jy is. Met dit wat jy het.