Die nonsens van…’n nuwe jaar…’n nuwe EK
Ek is seker jy het dalk, net dalk, 2 keer gelees aan hierdie stuk se opskrif en gedink…is julle nie veronderstel om te inspireer nie? Hoe kan jy nou sê ‘n ‘’nuwe jaar- nuwe ek’’ mentaliteit is nonsens Bernice?
Maar kom ons wees nou eerlik met mekaar, hoeveel van ons stel onrealistiese nuwe jaars voornemens vir onsself wat jou teen week 2 van Januarie soos een groot mislukking laat voel?
Hoeveel van ons stel vir ons doelwitte vir elke nuwe jaar wat strek van verloor 10kg na maak meer tyd vir vriendinne, kyk na jou finansies en werk harder vir daardie bevordering?
Mooistevrou, verandering kan werklik net gebeur wanneer jy daadwerklik ‘n poging gaan aanwend om dit te laat gebeur.
2023 gaan presies net soos 2022 wees as jy nie bereid is om die werk in te sit vir dit om beter te kan wees nie.
Daar is ‘n engelse spreekwoord wat lui- happiness is an inside job. You cannot assign anyone else that much power over your life. Die sleutel tot sukses is JY Mooistevrou! Slegs JY kan jouself kry om gesonder te leef, slegs JY kan vir jouself beter besluite te maak en slegs JY kan besluit om te belê in jou selfverbetering-journey.
Soms moet ons laat gaan van die foefies van nuwejaars voornemens en die perfekte beeld wat dit skep op sosiale media en eerder net die plesier in die hier en nou van ons lewenspad vind. Om selfondersoek in te stel van jou hier en nou en om oor ‘n tydperk klein (maar tog positiewe) veranderinge in jou lewe te maak, het ‘n baie beter uitkoms as wat jy drastiese stappe op 1 Januarie wil maak en dit nie kan volhou nie.
Ek laat julle met die woorde van C.S Lewis- you can’t change the beginning, but you can start where you are now and change the ending…
Mooistevrou, byt vas aan jou ideale self hierdie jaar en werk elke dag stap vir stap aan jou eie meesterstuk wat jy noem JY! Of dit nou 1 Januarie is en of dit nou 1 Oktober is, jy kan enige dag begin!