Die Regte Goeters
Hierdie tyd van die jaar is ons dagboeke propvol en ons hart se tenke dolleeg. Daar is soveel om te doen en te onthou en te betaal.
In plaas van uitsien na elke kersete, afsluiting en konsert, sien ons op.
Ons sit vas in ’n mentaliteit van ek MOET a, b en c doen.
Ons vergeet egter dat ons bevoorreg is om a, b en c te KAN doen.
Daarom wou iets sinvol skryf. Iets betekenisvol. Iets wat elke vrou daar buite nodig het om te lees. Iets wat elke vrou sal bemoedig en veerkrag gee om die jaar enduit te volhard.
Ek wou by God hoor wat Hý dink. Ek wou by Hóm my tenk gaan volmaak voor ek skryf, want geen kar kan sonder brandstof ry nie. ’n Kar met ’n leë tenk kan ook nie vir iemand anders ‘n rygeleentheid bied na ‘n ander bestemming nie.
“Here práát met my. Gee my iets. ENIGE iets. ’n Gedagte. ’n Teksvers. ’n Halwe woord. Moenie my met ’n mond vol tande (of in die geval – met ’n hand vol vingers) los nie.”
Soos wat ek terugdink oor die laaste paar dae en wat vir my uitdagend was, kom ’n insident by my op wat my laat grinnik en vir God dankie sê. Dankie, dat Hy my reeds laasweek voorberei het vir hierdie week se woorde-stilstand.
Laat ek vertel.
Laas Woensdagoggend het ek net hierdie intense behoefte gehad om buite op die stoep te gaan sit met ’n ekstra groot koppie koffie en behóórlik stiltetyd te hou. Nie die gewone (en deesdae gereelde) skietgebedjie terwyl ek skooltasse pak of my hare kam nie. Daar is dinge waaroor ek met God moet praat.
Na my jongste se 5uur bottel en ek die oggend se “inpak, oppak, regpak en wegpak roetine” afgehandel het, wys die horlosie vir my dat my tyd vinnig uitloop vir stil wees voor die oggendstorm in my huis losbars. Ten spyte vir die tekort aan tyd, ontsê ek my self nie warm melk nie en wag ek geduldig vir die mikrogolfoond om te biep-biep-biep. Ek hou my koppie haastig en versigtig onder die Nespresso-masjien. Hý maak sy kenmerkende zuzzzzzz-geluid en ék maak gereed om my self oor te gee aan die Starbucks Toffee Nut Latte-aroma. Maar die reuk van koffie vul nie die lug nie. Spierwit skuim vul egter die kombuis toonbank en borrel by die masjien uit.
My man kom net betyds in die kombuis om die masjien van my te red en as beloning eien hy homself die 1ste beskikbare koppie koffie – en die koekieblik- toe. Melk warm. POD in. Masjien aan. En met ’n heerlike koppie koffie verdwyn hy na die sitkamer en geniet rustig sy ‘Groot Ontbyt”.
My beurt.
Melk warm. POD in. Masjien aan. Net skuim.
Niks koffie.
Ek probeer weer.
Melk warm. POD in. Masjien aan. Net skuim.
Teen die 4de probeerslag, gryp ek die laaste skoon koppie uit die kas en smyt ek kitskoffie in 5uur se louwarm water en gooi koue melk daarby.
Met ‘n volle 7minute oor voor die kinders moet ontwaak, gaan sit ek dikbek op die stoep en wil by die Here weet hoekom my dag juis só moes begin. “Here, wat probeer U vir my hierdeur sê?”
Nog voor ek met my wankelende damwal vol bekommernisse voor Hom kon breek, nog voor ek kon kla oor my probleme, nog voor ek vir raad en leiding kon vra, het Hy in Sy fluisterstem vir my gesê: “Jy moet die regte goeters insit, as jy die regte goeters wil uitkry.”
Ek het stil-skaam begryp wat Hy bedoel.
Soms is die lewe ’n sukkel-spul en voel alles na een groot borrelende gemors. Ons probeer ons beste, maar dit is meestal te vergeefs. Soms kom ons harde werk tot niks nie. Soms staan ons leë hande en het ons niks om vir ons opofferings te wys nie.
Ons moet die regte goeters insit as ons die regte goeters wil uitkry...
Ons dink as ons 1 uur op ’n Sondag kerk toe gaan, ons geloof sterk genoeg sal wees om die week se uitdagings te oorkom.
Ons dink ons kan verslawing breek deur in dieselfde vriendekringe te bly waar dit gevorm het.
Ons dink ’n koppie koffie in die oggend en ’n bord kos in die aand sal ons lewensmaat gelukkig hou en tevrede stel – die pad na ’n man se hart loop mos deur sy maag.
Ons dink huweliksveryking is net vir mense in gebroke huwelike, maar vergeet dat Noag nie eers die ark begin bou het toe dit reeds reën het nie.
Ons dink om ’n salaris te verdien en ons gesin te dien dieselfde is.
Ons koop duur geskenke vir ons kinders om op te maak vir elke “mamma kan nie nou nie”, “mamma sal nou-nou”, “later”, “môre, ek belowe” en voel dan seergemaak wanneer hul nie saans meer na jóú roep nie en oor ’n paar jaar meer belangstel in hul selfoon as in jou geselsies.
Ons moet die regte goeters insit as ons die regte goeters wil uitkry.
Ons effort moet ooreenstem met die uitkoms wat ons verwag.
Vandag wil ek vir jou ’n lekker koppie koffie maak. Een wat vir jou ’n tweede asem gee. Een wat belaai is met energie en prikkelende geure. Een met die regte goeters in.
Ek wil vir jou ’n koffie maak wat jou dwing om stil te staan, te proe, te besin en beter besluite te neem.
Ek wil vir jou ’n lepeltjie hoop ingooi sodat jy sal vashou aan die belofte dat dit wat voorlê beter is as dit wat verby is.
Ek wil vir jou ’n lepeltjie vrede ingooi sodat jy weet dat jou lewe en gesondheid in God se hand is en dat Hy steeds in beheer is, veral in die tye waar alles buite beheer voel.
Ek wil vir jou geloof ingooi sodat jy gemoedsrus sal hê oor jou toekoms en die toekoms van ons land en ons kinders en ons taal. God sál doen wat Hy belowe het.
Ek wil vir jou groot lepels vergenoegdheid ingooi sodat jy dankbaar en tevrede na jou lewe sal kyk en ophou om die dinge sonder ewigheidswaarde na te jaag en te fokus op wat ontbreek.
En dan wil ek jou koffie op-top, met onderskeidingsvermoë. Onderskei wát en wíé belangrik is en wát en wíé nie. Onderskei wat dringend en noodsaaklik is en wat nie. Onderskei wat jou gelukkig gaan maak en wat nie. Neem dan jou besluite dienooreenkomstig.
Naskrif: Ek voel skaam, maar moreel verplig om ook die volgende met julle te deel:
Sommige Dolce Gusto PODs vereis 2 verskillende PODs om 1 lekker koppie koffie te maak. Die bruin-POD is koffie. Die wit-POD is skuim. Moenie, soos ek, herhaaldelik die skuim-POD in die masjien sit en dan verstom staan dat daar nie koffie uitkom nie.