top of page

Die vreugde van swangerskap & die gevolg van Ma wees

Niks kan jou voorberei vir dit wat kom nie - daai eerste positiewe swangerskap toets, jou eerste sonar. Hierdie 9 maande is die begin met baie onbekende eerstes.


Hier begin die wonderlike transformasie van jou menswees, jou liggaam, asook jou prioriteite. Gevul met opwinding van jou baba se geslag uitvind, die babakamer se beplanning, jy lees elke stukkie inligting wat jy kan kry. Want, hoekom dan nie? ‘n Eerste mamma wil voorbereid wees op alles, of altans soveel as moontlik. Jy word gebombardeer met opinies en raad terwyl jy self nog hierdie gaan moet bemeester. En die geheim is - JY moet dit bemeester, op JOU tyd en JOU mamma instinkte.

Gou sal jy leer dat geen boek jou kan voorberei op mamma wees nie.


Al die ouerskap boeke, al die toerusting en al die goedbedoelde raad was ewe skielik nie genoeg nie. Hulle kon nog nie oor jou klein lyfie skryf in enige boek nie, want daardie lyfie was nog nooit gewees nie. Op die ou end het ons geleer dat ons eie raad die beste raad is, al was ons soms raadop.


In vandag se samelewing gaan vrouwees gepaard met talle verwagtinge wat dikwels veeleisend kan wees, maar moet nie bekommerd wees nie want die Here het vir jou diensbare hande gegee. Jy is tot alles in staat deur Hom wat jou krag gee. Hou altyd jou fokus op die Here, wanneer jy twyfel of selfs net wanneer die vereistes van vrouwees net eenvoudig teveel raak, draai na Hom want Hy gee jou krag.


Op die ou einde van die dag, as jou hare steeds vuil is, jou sitkamer is omtrent ‘n speelkamer en jou aandete is halfpad gaar. Onthou, dit wat nie gedoen is nie kry môre iewers ‘n gaatjie.


Vir elke negatief, is daar iewers iets positief,

Vir elke traan, is daar ‘n glimlag

Vir elke bekommernis, is daar ‘n belofte

Na elke donker nag, is daar ‘n sonskyn dag

& vir elke gebed, is daar verseker ‘n antwoord!

Noelene Bester

890 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page