Doen Wat Jou Siel Vrede Gee
Spyt, skuld, skaamte. Hierdie is nie lekker gevoelens om mee saam te lewe nie. Die gewig kom lê swaar in die diepte van jou siel, veroorsaak slapelose nagte en verhoed dat jy kan aanbeweeg met jou lewe. Alhoewel daar omstandighede is wat onvermybaar is, is dit onsself wat meeste male die oorsaak is dat ons weereens met hierdie gevoelens voor ons staan.
Ek self vind myself op 'n meer gereelde basis as wat ek eintlik wil erken waar ek weer spyt of skuldig is omdat ek te vinnig gepraat het, iets nie gedoen het, of opgetree het in 'n wyse waarop ek nie trots is nie. Die ding is, in die oomblik voel jy dat jy geregverdig is om so op te tree. Mense het jou dalk te nagekom of iets het in die verlede gebeur waaraan jy nog vashou.
Onvergifnis en bitterheid is baie keer die rede waarom ons onsself weer in die bootjie van skuld en spyt vind. Genadiglik het die bootjie nog nie gesink nie. Gewoonlik kom jy tot die besef dat jou gevoelens onredelik is, vra om vergifnis en wanneer jy weer rus in jou siel gevind het en jouself belowe het, volgende keer doen jy dit anders, gaan jy voort met jou lewe.
Die probleem is egter dat dit neem net een 'trigger' - daai een ding wat jou weer in die verlede plaas, jou net weer van die onregverdigheid van die situasie herinner of jou weer bewus maak met wie jy te doen het - en jy het klaar te vinnig gereageer en kruip daardie gevoelens weer jou siel binne.
Dis bloot nie genoeg om te sê dat ek volgende keer anders gaan optree nie. Jy het nodig om jou hele houding en gedagtes aan te pas. Jy gaan al jou emosies moet herfokus in 'n ander rigting.
In plaas van sê, ek gaan nie kwaad / teleurgesteld / geïrriteerd / ontsteld raak nie, moet jy jouself afvra, wat gaan my vrede gee? Wat gaan maak dat ek wegloop van hierdie situasie en vrede in my siel het - selfs al is die situasie nie ideaal of gewensd nie?
Die gevoel van vrede het 'n baie sagter en kalmerende effek op jou lewe as 'n oomblik se hittige reaksie wat jou kortstondig laat beter voel.
God het ons nie Sy Woord gegee sodat Hy ons daardeur kan beheer en al die pret uit die lewe neem nie. Sy Woord is juis daar as 'n riglyn na 'n goeie lewe - 'n lewe met vrede. Die Skrif is vol aanwysings hoe om eerder op te tree in situasies. In 'n wyse wat goed is vir ons.
So die volgende keer as jy jouself weer vind in 'n oomblik wat jy wil oorgee aan jou emosies, vra jouself af: wat gaan my vrede gee? Wat is God se antwoord in hierdie situasie? En doen dít. In die oomblik voel dit dalk nie lekker of regverdig nie. Jy gaan moontlik nie eers beter voel nie. Maar jy gaan vrede hê,want jy het niks om oor sleg of skuldig te voel nie. En om vrede diep in jou siel te hê, het 'n veel treffende effek as enige ander emosie.