Druk Deur Tot Die Einde
Dit raak nou weer daardie tyd van die jaar. Energievlakke is laag, motivering is min en al waaraan ons kan dink is die feesseisoen en om (hopelik) bietjie met verlof te kan gaan.
Ek ervaar dit self waar ek tyd aan my studies moet spandeer, maar eerder met 'n koppie koffie op die bank wil sit en tuisgebakte koekies vir Kersfees wil beplan.
In ons huisgesin is daar egter nog 'n hele maand voor almal hier met vakansie is. 'n Maand. 4 weke. 30 dae. Tyd is kosbaar en ek dink nie dis wys om hierdie laaste paar weke van die jaar net weg te gooi nie. Ons is mos geneig om enige planne en doelwitte altyd te skuif na volgende Maandag, volgende maand, of sodra die nuwe jaar begin. Maar wat van nou? Hoe kan ons werklik die laaste strek laat tel?
"Wees baie versigtig hoe julle leef. Leef soos mense wat weet wat God van ’n sinvolle lewe verwag en nie soos mense wat niks daarvan weet nie. Moenie jou tyd mors nie. Maak die beste gebruik van elke geleentheid wat jy kry, want ons leef in moeilike en slegte tye." Efesiërs 5:16-17
Elke dag, uur, sekonde wat ons kry, is net genade van Bo. Ons is nie môre verseker nie en ons is beslis ook nie geregtig daarop nie. Ek het 'n vriendin wat altyd as sy praat van môre, sal byvoeg: 'God willing'. As ons net met ander oë na ons tyd kan begin kyk en sien die geskenk van God wat dit aan ons is, sal ons nie anders begin lewe nie?
Minder doellose tyd op sosiale media spandeer. Minder ledig rondsit want ons is nie lus vir enigiets nie want daar is mos môre. Minder ons gedagtes ruimte gee om te tob oor dinge wat ons siel laat skade lei.
Ek sê nie jy moet nou begin oefen vir 'n marathon of besluit om 10kg voor die einde van die jaar te verloor nie, maar wat is daai klein dingetjies wat nog bereikbaar is in hierdie laaste paar weke wat jy heeltyd eenkant toe skuif want dis te veel moeite om te begin? Dalk wil jy jou klerekas uitsorteer en dit wat jy nie meer wil hê nie aan iemand skenk? Daar is dalk 'n vriendin met wie jy nog 'n koffie wil inpas voor almal met vakansie verdwyn? Jy kan begin voorbereiding maak vir die planne wat jy vir volgende jaar het (God willing). Jy kan daai verskoning gaan gee wat al lank uitstaande is of die dankie-sê boodskap stuur. Of jy kan net nou jou tyd gebruik om te beplan vir die feesseisoen sodat als nie op die nippertjie plaasvind en jy jouself onder onnodige druk plaas nie. Selfs om net jou boek klaar te lees is al ‘n beter gebruik van jou tyd.
Laat ons nie nou begin terugsit en net wag vir die jaar om tot ‘n einde te kom nie. Laat ons nie spyt wees oor dit wat ons nog in die laaste oomblikke kon gedoen het nie. Die einde van een ding kan baie maklik die begin van iets nuuts raak. Miskien ervaar jy dat jy wel die selfdisippline het om iets te begin en deur te druk, wat jou motiveer om volgende jaar groter dinge te doen.
Wees net in elke oomblik bewus van jou Godgegewe tyd en vra jouself af of jy Hom behaag in die wyse waarop jy jou tyd gebruik. Maak jy Sy naam groot? Sal Hy tevrede wees met dit waarmee jy jouself besig hou? En jy kan nie verkeerd gaan nie.
Druk deur, Mooistevrou. Die jaar is amper verby, maar jy kan steeds groot dinge bereik. Dis nog nie die einde nie al voel jy miskien dat jou jaar 'n mislukking was. Kom ons hardloop na die eindsteep met fokus, vasberadenheid en ons oë gevestig op Hom