“Ek is jammer”
Deur Anri Basson
Dit is drie eenvoudige woorde. Maar dit kan ook die moeilikste woorde wees.
Dit verg baie om te sê, “Ek is jammer”. Dit verg eintlik baie meer om dit te bedoel.
Maar wat beteken “ek is jammer” nou eintlik?
Van ‘n baie jong tyd af, word ons geleer om verskoning te vra nadat ons iets verkeerd gedoen het -of dit ‘n aaklige daad is of selfs harde woorde is – tot die punt waar verskonings amper as formaliteite voel. Dis asof ons gewoond is om verskoning te vra, maar nie altyd gewoond is aan berou nie.
So lekker as wat dit kan wees, om daardie drie spesiale woorde te kan hoor – “Ek is jammer” – is dit maar uiteindelik net – woorde, as dit nie opreg is nie.
Ons sien dat die woord daagliks om ons gebruik word. Maar mense weet nie dat hierdie woord gebruik word om verskoning te vra nie. Dit het net ‘n gewoonte geword. Maar aan die einde van die dag, hoe ver kan ‘n verskoning gaan, as dit net by ‘n verskoning gebly het? Dan is verskonings eintlik betekenisloos.
Sê ‘n slegte woord, “jammer”. Ek het nie betyds gery nie, “jammer”. As iemand jou vra vir hulp maar jy kan nie, “jammer” - dit vergemaklik alles wanneer ons nee sê vir iemand. Dit word net gebruik en net daar gelos maar dit kompliseer dinge net meer. Dit is asof jy iemand ‘n stywe klap gee sonder enige rede en net jammer sê. Dit word ‘n maklike manier om weg te loop van probleme wat veroorsaak word deur ons foute.
Maar dis die ding van verskonings…
Jy kan nie net sê jy is jammer nie. Jy moet die onderliggende gedrag aanspreek. Maar weereens is dit makliker gesê as gedaan.
Ek het nog altyd gevoel aksies praat harder as woorde. Ek is nog altyd versigtig hoe ek my woorde gebruik. Ek sal alles doen wat ek kan, om dinge weer reg te maak, en my verskonings bedoel ek opreg.
“Ek is jammer” verander nie tyd nie, dit neem nie die foute weg nie, dit verwyder nie die gevoelens wat seergemaak is nie en dit help ook nie met vergifnis nie. Dit is nie ‘n towerstaf wat jy op die ander persoon kan tower om hulle te laat vergeet van alles wat gebeur het nie, of hulle dwing om jou sonder enige gevolge te vergewe nie.
In Engels word die betekenis van jammer baie mooi gestel:
S – sincerely
O – offering
R – right from my heart
R – realizing my mistake and truly apologizing to
Y – you, with a promise to try not to commit that mistake again.
Ek dink die lewe het te meganies geword, ons besef nie hoeveel mense ons in ‘n dag seermaak nie, maar ons is ook mens, en mense maak foute. Dit is nie ‘n slegte ding om jammer te sê nie, maar dan moet mens die ware betekenis van hierdie woord besef, en uit ons foute leer. Dit sal ons harte help om vrede te vind.