Ek wens vir jou Genoeg.
Op die laaste Maandag van 2020 is dit seker ‘n goeie tyd om die nuwejaars-
voornemens wat al so lank in jou gedagtes rond speel neer te pen. Maar voor jy daardie
mooi boekie nader trek, wil ek jou graag uitdaag om eers te reflekteer oor die wilde
woeste jaar wat amper op sy rug lê.
Elkeen van ons kan saam stem dat geen klas op skool of universiteit of selfs die foute
en lesse waaruit ons ouers altyd wil hê ons moet leer, ons kon voorberei vir die jaar wat
ons moes verduur nie. Ek dink hierdie jaar het ons geleer dat die werklike virusse nie
net in bloedtoetste te vinde is nie. Elkeen van ons moes hierdie jaar ‘n hele paar
onbekende virusses binne ons eie harte in die gesig staar. Virusse van afguns,
swaarkry, verwyt, wanhoop, teleurstelling, woede… Dit is menslik, en presies wat
gebeur wanneer ons in ‘n byna onmoontlike situasie gedompel word – ons menslike
instink reageer instinktief as ‘elke man vir homself’.
Hierdie jaar was waarskynlik een van die moeilikste jare wat ons moes deur maak en as
ek kon, sou ek elkeen wat nog goeie moed hou ‘high five’ want Covid het ons in ‘n
rofstoeigreep gehad wat amper gevoel het soos ‘n nimmereindende geveg. Nietemin, is
ons steeds hier, amper ‘n jaar vandat die virus sy kop uitgesteek het – steeds besig om
te baklei, maar die keer baie sterker as ‘n jaar gelede.
Wanneer dinge moeilk raak en ons nie kan begryp hoekom God sekere dinge toelaat in
ons lewe, of hoekom lyding so lank moet duur nie, is dit baie maklik om te wankel in ons
geloof. Ons vergeet soms die vyand hoor ook die gebede wat ons so desperaat na die
hemele toe stuur. Hy weet van die terugslae, hy weet van die mismoedigheid in ons
hart, hy ken ook die seer, hy ken die woede, en hy floreer want dit is waar hy oortyd
gaan werk om jou verder in jou geloof te pootjie. Presies daar waar dit die seerste is,
wanneer jy die kwaadste is, en wanneer jy die swakste is.
Soms breek ons ons eie harte wanneer ons buite die wil van God wil beweeg omdat
ons wil aanpas by die wêreld se tydlyne vir ons lewe terwyl ons nie die groter prentjie
sien of die doel daarvan ken nie. Sagte harte word hard. Intieme gesprekke met God
word opskiet-gebede teen wit plafonne. Wanhoop floreer en die vyand hou groot
partytjie.
Ons kan nie kies watter houe die lewe vir ons gaan uitdeel nie, maar ons kan wel kies
hoe ons daarop gaan reageer en wat ons gaan toelaat om ons energie op te spandeer.
Al ons gevoelens deur elke seisoen van hierdie jaar was geldig, nes elke ander jaar. Ek
praat namens myself wanneer ek sê ek het dele van my eie menswees ontdek wat ek in
ander omstandighede nooit sou leer ken het nie, alles was nie mooi nie, maar alles was
so nodig.
Ek was paniekerig, maar ek moes leer om ‘n onbekende toekoms toe te vertrou aan ‘n
alom-bekende God wie se planne ALTYD ten goed mee werk vir die wat Hom liefhet, al
is dit nie op my tyd nie. Ek wou altyd alles beheer, maar ek moes leer om te aanvaar
dat dinge uitwerk soos die Here dit beplan – en dit is GOED. Ek hou nie van wag nie,
maar ek moes geduld leer, en is steeds besig om (wat soms voel soos ‘n nimmereinde
kronkelpad) met geduld te stap – wanneer ek voor hardloop, voel dit soms steeds of
geduld dan aspris op ‘n bankie gaan sit en wag. Ek moes weer leer glo soos ‘n kind. Jy
kan nie bid vir een ding en iets anders verwag nie – expect what you pray for. Ek
moes my hardkoppigheid laat staan, ter wille van die mense rondom my se gesondheid.
Ek moes, soos die res van die land, ook by die huis bly, en dit was een van die heel
grootste uitdagings – veral vir ‘n sosiale flinder.
Ten spyte van die uitdagings, was 2020 absoluut ‘n jaar van groei. Hier en daar het die
groeipyne seer gemaak en ons amper onder gekry, maar voor jy jou oë uitgevee het
was die ergste verby.
Hierdie jaar het ek ook die waarde van familie en vriende se teenwoordigheid leer ken.
Hoe lekker dit is om iemand te druk wat jy liefhet, en sommer ‘n rukkie langer vas te
hou. Ek het die natuur weer opnuut leer waardeer, daardie gesing van die einste
voëltjies wat ons elke oggend in die gejaag oppad skool toe en werk toe gemis het.
Daardie een sonneblom langs die pad wat ten spyte van omstandighede wortel geskiet
het, gegroei het, en sonder dat hy dit self eers besef, soveel mense se dag opgehelder
het deur bloot daar te wees.
Ek hoop van harte dat wanneer jy jou lysie van jou nuwejaars-voornemens skryf, jy sal
onthou wat die dinge is wat jy hierdie jaar die meeste gemis het toe dit skielik van ons af
weggeneem is.
Ek hoop hierdie jaar het die prioriteits-volgorde van jou lysie vir die komende jaar
geskommel. Ek hoop ons maak ons Skepper weer die nommer een prioriteit in ons
lewens, want geen een van ons sou dit tot hier kon maak sonder die oordosis genade
en geankerde hoop wat ons in ons Skepper se teenwoordigheid en beloftes het nie. Ek
hoop ons maak meer tyd vir vriende en familie, en sê dit nie net by elke troue en
begrafnis of wanneer jy iemand perongeluk tussen winkel rakke raakloop nie. Ek hoop
ons vat tyd in ons dag om asem te haal in die tuin en die natuur te waardeer – groen
gras en blou lug, of ‘n sterrehemel en ‘n helder maan. Ek hoop wanneer jy die
geleentheid kry om te toer, jy dit met albei hande aangryp – al is dit om af in die straat
te stap om ‘n roomys te gaan koop.
Jy hoef nie miljoene rande in die bank te hê om ‘n verkenner van ons eie pragtige land
te wees nie. Daar is skoonheid reg uit ons Skepper se hand om elke hoek en draai van
ons bestaan – elke keer wanneer jy jou oë knip, is daar iets mooi om te sien, en as jy
sukkel om dit te sien, leer om vir die mooi te soek. Ek hoop jy besef die gras is groener
aan die kant wat jy dit water, en dit is jou eie verantwoordelikheid. Aanvaar die dinge
wat jy nie kan verander en nie, en werk hard om die dinge te verander wat jy kan. Die
kwaliteit van jou lewe lê nie in jou bankbalans nie, maar eerder in jou houding oor hoe jy
die goed en die sleg van die lewe hanteer.
Ek hoop jy gee die drome wat al lank in jou gedagtes dans en lê-plek in jou hart
gemaak het ‘n regverdige kans om te leef. Dit is werklik nooit te laat nie, tensy jy self so
besluit het. Die enigste keer wanneer iets werklik te laat is, is wanneer jy jou laaste
asem saam die wind stuur en jou siel saam met sy Skepper gaan rus.
Wees ten volle teenwoordig in elke oomblik, al is dit nie die oomblik waarvoor jy gehoop
het nie – dit is dalk ‘n oomblik wat jy nodig het om jou toe te rus vir die oomblik
waarvoor jy al so lank wag. Hierdie oomblik nou, is jou lewe. Nie 2021 nie, nie die
volgende week wat voorlê of die volgende Maandag of die volgende maand nie. Hier.
Vandag. Nou. This is your life. Elke dag gaan nie ‘n groot gebeurtenis oplewer nie, maar
geniet dit inelkgeval. Leer om te rus, leer om teenwoordig te wees, leer om tyd saam
met jouself te spandeer en jouself te vind – wie jy is, wat jy wil hê in die lewe, waarvoor
gaan jy settle, wat jou boundaries is, want dit alles gaan bepaal hoe die mense rondom
jou, jou gaan hanteer en watter energie jy in jou lewe gaan toelaat. Kies om op die
positiewe te fokus, al skree die wêreld kliphard dat alles negatief is.
Soms is dit ons teen die wêreld, soms is dit ons teen mekaar, maar meeste van die kere
is dit ons teen onsself. Watter oorlog jy ook al nou baklei, weet net dat die oorlog nooit
tussen ons en God is nie, dit is teen ons en die vyand. God is altyd vir ons, selfs
wanneer ons nie vir onsself of ons naastes is nie. God ken die virusse in ons hart en
siel, en Hy kies ons nogsteeds. Hy ken die goggas van afguns of mismoedigheid in ons
gedagtes, maar Sy genade sal altyd die dettol bly wat ons skoon maak. Sy liefde sal
altyd ‘n pleister wees wanneer ons wonde langer vat om te genees, en selfs al moet ons
eers soutwater op ‘n oop wond gooi, vang Hy elke traan op om ons beddings water te
gee.
Tyd is nie jou vriend nie. Ek hoop jy maak tyd vir jouself, jou geliefdes, jou passies en
jou Skepper. En ek hoop jy is lief. Lief vir jouself en jou naastes. Ek hoop jy is braaf
genoeg om liefde toe te laat wanneer hy aan jou deur kom klop, ons is nie gemaak om
die lewe alleen te doen nie. Om liefde toe te laat is dapper en braaf, dit steel nie jou
onafhanklikheid nie. Dit vul ‘n stukkie in jou hart en siel wat God spesiaal gemaak het –
dit is die ekstra halwe lepel suiker in jou koffie, of die kersie op jou gunsteling kleur
kolwyntjie. Dit is die trane afvee wanneer jy alleen voel of die opgewondenheid wanneer
God jou seën wanneer jy met afwagting bid en jy dit met jou persoon wil deel. Liefde is
‘n bederf so reg uit die hemel. Ek hoop jy is braaf genoeg om dit toe te laat, en dit te laat
gaan wanneer jy weet dit nie van God af kom nie!
Ek wens vir jou genoeg vir 2021. Genoeg goedheid en guns. Genoeg liefde, vrede, vreugde en geluk. Genoeg goeie gesondheid en voorspoed. Genoeg tyd, passie en ambisie. Ek wens vir jou net genoeg, en ek hoop jy ontvang alles wat in 2021 voorlê met oop hande en oop vingers, sodat die dinge waarvan jy teveel het, kan oorspoel om vir die volgende een op jou pad ook net genoeg te wees!
Versies van bemoediging:
John 13:7
Jesus replied, “You do not understand now what I am doing, but afterward you will
understand.”
1 Peter 1:7-9
“These trials are only to test your faith, to see wether or not it is strong and pure. It is
being tested as fire tests gold and purifies it – and your faith is far more precious to God
than mere gold; so if your faith remains strong after being tried in the test tube of fiery
trials, it will bring you much praise and glory and honor on the daty of His return. You
love Him even though you have never seen Him; though not seeing him; you trust Him;
and even now you are happy with the inexpressible joy that comes from heaven itself.
And your further reward for trusting Him will be the salvation of your souls.”
Liedjies vir die Week:
Elvis Blue – Mooi
Lauren Daigle – Trust in You
Elevation Church – Won’t Stop Now
Riana Nel – Jy Sal Weet
Appel – Hande Bak
Geseënde & Voorspoedige Nuwe Jaar!
Baie liefde,
Rouxnette ��