‘Embrace’ Die Seisoen Waarin Jy Jouself Tans Bevind
Elke nuwe mamma het sekerlik in die eerste paar jaar van moederskap iewers terug verlang na die jare waar jou tyd jou eie was, jy darem ‘n paar rand vir jouself gehad het en daar nie iemand was wat konstant na jou aandag gevra het nie. Jy wens dalk, soos ek, dat jy in die jare voor die kleintjie gekom het, jou tyd beter benut het en werklik meer gemaak het van daardie vry oomblikke. As ek nou terugkyk voel dit vir my of ek baie van my seisoen voor moederskap doelloos laat verbygaan het nie – nie werklik besef het wat ek in daardie seisoen van my lewe gehad het nie. Ek dink hierdie is egter maar een voorbeeld en as ons terugkyk oor ons lewe, is dit nie moontlik dat ons in elke seisoen van ons lewe wens ons kon eintlik meer daarvan gemaak het nie?
Hoeveel maal wens ons nie die seisoene in ons lewe verby nie? Om klaar te maak met skool en jou loopbaan te begin, om te trou, om kinders te kry, om dan weer af te tree. Dis asof ons glo dat elke nuwe seisoen meer opwindend gaan wees as die een waarin ons onsself tans vind. Dat wanneer jy in die volgende seisoen is, jou lewe meer sin gaan maak. Maar dis asof jy eers werklik besef wat jy in die vorige seisoen gehad het, wanneer daardie betrokke seisoen reeds verby is.
As ek kyk waar ek nou is en hoe besig my lewe met my seuntjie is, kan ek nie help om soms myself te wil skop oor ek nie meer gedoen met my dae voor ek ‘n mamma geword het nie. My lewe het toe ook besig gevoel, maar ek het nie naastenby besef hoe vol my dag kan wees nie! En dan sien ek hoeveel tyd ek gemors het deur voor die televisie te sit, ure op sosiale media rond te bring sonder om enigiets te bereik en al die idees wat ek gehad het, maar nooit werklik aangepak het nie en nou is daar nie op hierdie oomblik tyd daarvoor nie. Nie dat ek spyt is oor die seisoen waarin ek nou is nie – glad nie! Maar dis juis hierdie wat my aan die dink gesit het. Hierdie seisoen waar my seuntjie nog so klein is – is ek werklik besig om heelhartig teenwoordig te wees? Of wens ek net elke moeilike stadium verby? Ons het sy eerste drie maande omgewens oor ons so gesukkel het met hom wat refluks gehad het en daar aande was wat hy net omgehuil het. Ons frustrasie vlak was baie hoër as ons geduld. Toe kon ons nie wag dat hy begin omrol nie, toe op sy eie sit, toe begin kruip en uiteindelik loop. Nou hardloop hy die wêreld vol en wens ek partydae ek kan net teruggaan na daardie eerste paar weke en weer daai klein lyfie vashou. Dat ek ten volle teenwoordig kan wees en hom net troos terwyl hy huil. Vergeet van al die dinge wat ek moet doen en net daar wees.
Ek wil nie my hele lewe deurgaan en soos ‘n seisoen eindig, wens ek kon meer daarin bereik het nie. Ek besef nou die dag dat ek gaan nooit weer my twintigs sien nie, maar ek is nou nog darem in my vroeë dertigs. Wat wil ek maak in hierdie seisoen van my lewe? Wat wil ek bereik? Wat gaan maak dat as ek eendag vyftig is en terugkyk na hierdie tydperk, ek kan sê dat dit ‘n goeie seisoen was?
‘Embrace’. Die Engelse woord voel of dit soveel meer impak het as die Afrikaanse woord. Ek het nodig om elke seisoen ten volle te ‘embrace’. Dit beteken om die goed en sleg van die seisoen in te neem. Dis om ten volle teenwoordig te wees. Nie te verlang na die verlede of te wens vir die toekoms nie. Maar hier en nou bewustelik te lewe. Om die seisoen te laat wees wat dit is, al is dit nie perfek nie. Let it be.
Of jy nou enkellopend is, verloof, pasgetroud, kinders het of hoop op een, en of jy nou nog studeer, begin werk of selfs werkloos is. Of jy besig is om ‘n droom uit te leef of nog hard werk om jou droom te laat realiseer. Elke seisoen bied iets wat uniek is tot daardie seisoen. In elke seisoen is daar iets om te leer en geleentheid om te groei. Moenie jou dae om wag vir hierdie seisoen om verby te gaan nie. Gaan doen navorsing, lees wat die Bybel sê oor jou betrokke situasie en vind uit wat jy kan doen om hierdie seisoen te laat tel. Jou huidige seisoen berei jou dalk juis voor vir jou volgende seisoen. As jy nodig het om God te vertrou in jou seisoen, laat jou seisoen een wees waarin jou geloof groei. Jou seisoen is dalk nie waar jy jouself in hierdie stadium van jou lewe gesien het nie, maar wat as hierdie seisoen jou juis so kan kom verras as jy ophou kla daaroor en dit eerder ‘embrace’?
Elke seisoen, goed of sleg, gaan tot ‘n einde kom. Wees teenwoordig. Leef ten volle. En ‘embrace’ elke oomblik.

Foto: Emma Dau