Endo – die “silent-soul killer”
The silent-soul killer. Dit is wat ek dit noem, want dit is presies wat dit vir my is.
Jy sien dit nie van buite, so mense onderskat die siekte en besef nie wat dit is of behels nie. Vrouens praat ook nooit daaroor nie, want dit beïnvloed persoonlike aspekte van hulle lewens wat, of hulle skaam maak of diep hartseer veroorsaak.
Jy voel soms soos ‘n mislukking. Of jy nie vrou is nie. Of jou ligaam jou faal, want jou liggaam kan eenvoudig nie doen wat vir ander vrouens doodnormaal en vanselfsprekend is. Jy voel of jou eie lyf jou in die steek laat. Jy voel vanoggend nog gesond en vanmiddag dan slaan die pyn jou soos ‘n vuishou in die maag.
Ek is einde 2018 gediagnoseer met endometriose, “stage 4.” Ek moet sê op daardie stadium het ek nie veel geweet daarvan nie. Eintlik het ek dit gesien as net nog ‘n “vroue tiepe siekte.” Op daardie stadium het ek nie besef wat vir my lê en wag nie. Ek het konstant blaasontsteking gekry en na baie heen en weer, toetse en biopsies is dit toe wel bevestig. Die eerste keer het dit oor my een nierpyp gegroei (die rede vir al die blaasinfeksies) en ek moes stents in my nierpype kry. Hulle het toe die endometriose verwyder en ek het ‘n paar maande met die stents geloop. Dit was vir my ‘n helse pynvolle tyd, maar ek is daar deur en gedink dank die Vader dit is alles nou verby. Min het ek geweet dit was maar net die begin.
Lang storie kort, van daar af het ek tot dusver jaarliks ‘n laparoskopie gekry om die endo te verwyder. Ek het verlede week weer ‘n laparoskopie gehad en die keér is vir my emosioneel en fisies, erg. Ons vrouens is so geneig om ons “battles” geheim te hou en ons emosies te onderdruk. Ons kies om ons swaar-kry alleen te dra en dit kan ons dikwels so alleen laat voel.
Net soos diabetes en allerhande ander kroniese siektes is endometriose “real.” My hele punt of doel met die skryfstuk is nie bewusmaking of ‘n jammer-kry-lees-storie, dit is bloot eenvoudig vir die een vrou daar buite om te kan sien sy is nie alleen nie. JY IS NIE ALLEEN NIE.
Destyds toe ek gediagnoseer is het ek nie van een vrou geweet wat dit ook gehad het nie, maar soos die tyd aangestap het, hoor ek al meer van vrouens wat daarmee gediagnoseer is. Endometriose beïnvloed vrouens se lewens regoor die wêreld en elke vrou se simptome wissel. Die mees bekendste simptome hiervan is pyn, pynlike maandstondes en infertiliteit.
Na my heel eerste laparoskopie het die dokter na die tyd vir my kom wys hoe die uitsnysels lyk. Dit was sulke swart, walglike goed. Ek kan nie eers aan die regte woord dink van hoe dit gelyk het nie. Ek het nog vir my man gesê ek kan nie glo daardie vieslike goed groei binne my lyf nie. Hoe ironies dat dit so swart is, ek is nie eers seker of dit altyd swart is nie, maar daardie swart simboliseer regtig die diep donkerte wat dit in ‘n vrou se lewe kan bring.
Ek is regtig geen kenner op die gebied nie, so as my terme verkeerd is, moet my nie kruisig nie, ek skryf uit my eie ondervinding en ervarings. So met my geswelde maag wat lyk asof ek ‘n skoenboks ingesluk het en my krom rug om die pyn te verminder, wil ek net vir jou sê, ek sien jou mede endo-vrou. Ek voel jou.
Hulle noem ons nie verniet “endo-warriors” nie!