Erken en Herken jou emosies - ♡
"God het ons gemaak om emosionele wesens te wees. Om erkenning te gee aan dit wat ons op 'n daaglikse basis ervaar en beleef."
Met hierdie in gedagte het ek besef dat ons daagliks so besig is om te fokus op ander goed soos werk, probleme, ander mense se emosies en gevoelens dat ons somtyds vergeet om erkenning te gee aan dit wat besig is om innerlik met onsself te gebeur. Die laaste maand was vir my en my familie 'n tyd waarin ons moeilike nuus moes verwerk. Met dit gesê het ek ook besef dat die gejaag van die lewe somtyds 'n mens emosioneel blind maak vir die tekens en emosies wat eintlik sê, stop. Stop, haal asem en probeer weer. Stop, vat tyd vir jouself en probeer weer. Stop, rus en probeer weer.
Ons te bang om te se stop want wat as my baas gaan dink ek is te sensitief, of wat as daardie belangrike klient teleurstel word of wat as ek ander wat ook emosioneel uitgeput is afskeep? Ons is bang omdat ons vergeet het wanneer om te herken en te erken ek benodig nou 'n 'time-out'. God het ons gemaak om emosionele wesens te wees, nie robotte wat aanhou sonder enige af knoppie nie.
In elkeen van ons se leeftyd gaan daar verskillende gevoelens en emosies aan die deure van ons harte kom klop. Al die emosies en gevoelens word deur God aan ons geopenbaar sodat ons in elke fase van ons lewens dit kan ervaar, verwerk en daaruit kan leer. Die vraag wat ek vir myself gevra het was, as ek nie kan tyd vat om my emosies wat ek op 'n gegewe oomblik ervaar te herken en erken nie, hoe gaan ek ooit genees en groei? Ons moet leer om te besef dat wanneer ons emosioneel uitgeput is moet ons die emosies erken en inlaat sodat ons vinniger beheer kan neem oor dit wat ons ervaar. Sodat ons vinniger weer effektief en produktief kan wees in ons lewens.
Met die liefde, genade en omgee wat ons ontvang vanaf God kan ons verseker weet dat dit wat ons nou beleef nie verewig gaan agterbly by ons nie. Maar as ons nie herkenning en erkenning gee aan dit wat nou ons aandag nodig het nie, mag die kuier sessie van dit wat jy tans ervaar langer word as verwag.
Ons moet leer om tyd te vat wanneer ons dit nodig het. Wanneer ons emosionele welstand dit nodig het dat ons die besluit maak om 'n "time-out" te neem. Ons moet leer om in die oomblikke van herkenning en erkenning met God tyd te spandeer. God gee om vir ons welstand, ons moet net leer om te herken en te erken wanneer ons nodig het om na ons eie welstand om te sien.
Ek het besef dat as jy 'n dag of twee nodig het om te stop, te herlaai en al die emosies en gevoelens wat jy op daardie oomblik beleef te erken maak dit nie van my 'n swak vrou, vriendin, dogter of kollega nie. Inteendeel, deur te stop, te herlaai en te herken ek het tyd nodig maak van my 'n sterkter vrou, vriendin, dogter en kollega omdat ek kon leer en groei uit dit wat ek op daardie oomblik beleef het.
Ons het een lewe om te leef, God het ons gemaak om dit op 'n gesonde en gebalanseerde manier te leef. As ons leer om te stop, te rus en weer te begin gaan ons beter doen daar waar ons daagliks benodig word deur God, ons familie, vriende en ons daaglikse aktiwiteite.
- Liefde Charne ♡