Fleksietyd!
Updated: Jun 8
Johané Snyders
Liewe Vrou, dis okay om nogsteeds op pad te wees. Dis okay om nogsteeds te reis en dis okay om nogsteeds te wonder wanneer jou bestemming se horison uiteindelik sy verskyning sal maak.
Ek bevind myself in dae van “tipies-vrouwees-onsekerheid” terwyl ek wag. Ek probeer konstant om my volgende 30 jaar van volwasse wees binne 2023 se oorblywende maande in te druk. Dan besef ek ook hoe gereeld ek deesdae vooruit probeer hardloop – soveel so dat ek God se stem agter my al hoe minder en minder begin hoor. Dis wanneer ek begin afdwaal dat Sy stem verdof en ek sukkel om Sy rigtingaanwysers te verstaan. Op ‘n random Maandagmiddag ry ek moeg, angstig en geïrriteerd van die gym af terug.
Ek twyfel ewe skielik weer in elke lewenskeuse, ek bevraagteken Sy wil en ek berou gister se gister. Dis toe wat my God Sy teenwoordigheid voor my laat dans, my tot die besef laat kom dat dit nie ek alleen is wat regop probeer staan nie, maar dat dit Hy is wat my optel. Die eenvoudige skakerings van ‘n wedwaal-reënboog het my laat vergeet dat die motor agter my ongeduldig raak en dat rooi al lankal na groen oorgeslaan het.
Liewe Vrou, dis okay as jy nie weet wat jy vir aandete gaan maak nie. Dis okay as die hoeveelste blind-date op ‘n ramp afgestuur het en dis okay om nie te weet waarom jy swot wat jy swot nie. My Jesus was tot op ‘n 30 jarige ouderdom ‘n doodnormale, hardwerkende man voordat Hy met sy wonderwerke kon begin. My God skei kaf van koring en my God weet presies WAT en WANNEER Hy doen wat Hy doen. Hy is nie haastig nie, Liewe Vrou, jy is ... dis hoekom jy begin twyfel in wie jy is. Dis hoekom jou asem moeg raak en jou kop heeltemal te veel tyd het vir baklei. As my Jesus nog tot op 30 kon probeer uitfigure wat Sy doel nou eintlik is en wanneer Hy sy werke kon begin uitleef, dan het ek nog baie tyd oor vir trail-and-error.
Liewe Vrou, maak daai koppie koffie met ‘n teelepel kondensmelk. Sit onder jou wolkombersie en hou op skuldig voel. Jy hoef nie nou alles uitgepluis te hê nie. Jy hoef nie al op daardie stadium te wees waar ‘n Jan Blohm song jou nie meer in trane laat uitbars nie. Jy mag ‘n dag afvat en jy mag nog tot 11 uur in jou kamerjas rondloop. Jou krag lê in jou God se naam en jou 2023 is in Sy hande. Meer van Hom, minder van jou, Liewe Vrou. Meer van wat Hy vir jou beplan, minder van jou eie vooropgestelde idees van wie jy teen hierdie tyd al lankal moes wees (‘n geringde vlinder met ‘n kroos kinders wat in die agterplaas baljaar).
Liewe Vrou, lééf omdat Hy lei.
Nader my God by U.
Nog nader by.
Op U tyd.
Want dis okay.