Fokus op dié 5 dinge in 2021
Ons kan soms so oorweldig raak deur 'n nuwe jaar. New Year, new me, right? Ons is geneig om ellelange lyste vol nuwe doelwitte te maak vir 'n nuwe jaar, en soms hou ons net by twee of drie, want dit is moeilik om jou lewe sommer van een dag na die volgende handomkeer te verander. Diè jaar was nog meer van 'n uitdaging, want ons is steeds vasgevang in 'n pandemie en dinge voel regtig steeds soos 2020. So hoe kan ons as vrouens steeds haalbare doelwitte vir onsself stel sonder om te veel druk op onsself te sit? Hier is 'n lys van 5 belangrike dinge:
Jou verhouding met die Here
Dis immers die heel belangrikste verhouding wat jy ooit gaan hê, tog is dit soms heel laaste op ons to-do lysies. Maak dit diè jaar jou heel grootste prioriteit. Praat elke liewe dag met die Here. Lees jou bybel. Worship. Praat met jou vriendinne oor die Here. Praat met vreemdelinge oor Hom. Word stil en luister na Hom. Deel jou grootste drome en vrese met Hom. Hoe nader jy aan God leef, hoe meer gaan jy besef hoe dinge in jou lewe in plek val.
Jou geestelike welstand
Om geestelik gesond te wees is net so belangrik soos fisiese gesondheid. En alhoewel die twee soms hand in hand loop, is dit belangrik om proaktief te bly en jou denkpatrone fyn dop te hou, veral gedurende die pandemie. Gesels met iemand wat jy vertrou as jy nie goed voel nie en moet nooit ooit skaam wees om te vra vir hulp nie. Vat gereeld 'n breek en fokus daarop om jou stresvlakke af te bring. Belangrikste van alles: aanvaar wie jy is, waardeer hoe God jou geskape het en omhels al jou wonderlike kwaliteite.
Jou fisiese gesondheid
Oefening is so ontsettend belangrik en is so voordelig vir ons almal. Probeer om elke dag jou liggaam te beweeg. Dit hoef nie 'n strawwe oefen roetine te wees nie en jy hoef nie ure in die gym te spandeer nie. Gaan stap, dans in jou kombuis, doen boksklasse, gaan hike. Die moontlikhede is eindeloos en die voordele ken geen perke nie. Sodra oefening vir jou eentonig raak, raak kreatief, mix it up! Kyk uit vir plaaslike yoga of pilates klasse, doen rock-climbing of gaan slaan 'n paar gholfballe!
Jou verhoudings
Met jou eggenoot, kinders, vriende en familie. As ons een ding geleer het in die pandemie is dit hoe ontsettend belangrik dit is om ons verhoudings te koester. Doen moeite! Al kan jy nie fisies by die persoon uitkom nie, reël 'n koffie date op Zoom. Gesels met mekaar, hoor hoe dit gaan en bied ondersteuning. Ons almal het mekaar nodig. Geen aardse besittings of jou loopbaan gaan ooit so belangrik wees soos die spesiale bande wat jy bou met jou mense nie. Koester dit vir ewig!
Jou vel
Die een mag dalk vreemd klink en ek is geensins 'n velsorg kenner nie, maar ek glo jou vel is een van die belangrikste, tog die mees misgekykte sintuig. Ordentlike velsorg is 'n absolute belegging in enige persoon se toekoms. Sonblok is slegs een produk wat essensieël is vir die instandhouding van 'n gesonde vel. Daar is só baie fantastiese velsorg produkte op die mark. Bepaal jou begroting, boek 'n konsultasie by 'n velsorg spesialis en laat hulle jou help om die regte reeks te kry vir jou behoeftes.
Dis belangrik om een dag op 'n slag te vat. Kom in die gewoonte om elke dag vir jouself klein doelwitte te te stel. Skryf dit neer sodat dit sigbaar is. En onthou, dit maak jou nie 'n slegte persoon as jy nie elke dag alles bereik wat jy wou nie, op die ou einde van die dag bly ons net mense. God het ons só lief met al ons tekortkominge, dis al wat werklik saak maak. Onthou dit altyd!
"Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God."
-Efesiërs 3:18