Ek was ook al daar.
Of nee wag, kom ek skryf nou maar vandag my hart uit... ek is nogsteeds daar.
In my woestyntyd.
Meeste van ons is bang om oor ons woestyne te praat. Ons praat nie oor ons uitdagings, laagte punte, moedverloor se vlaktes en hopelose tye nie.
Ons steek dit iewers agter een van ons duine weg en hoop dat niemand dit sal sien nie. Ons oorreed ons self dat ons okay is, want die wêreld moet ons tog net nie kan oordeel nie.
Elkeen van ons het al 'n woestyntyd gehad. Daai tyd wat dit voel asof die rëen net te lank weg bly. Wanneer jy 'n hoop koester en teleurstelling in die oë kyk. Wanneer jy soms vergeet dat daar twee stelle voetspore in die sand agter jou lê.
Ek het ook al alleen gevoel en was ook al bang.
Ek het ook al gewag op 'n tweede strepie en met 'n negatief in my hand gestaan.
Ek het ook al gehuil totdat my trane droog geloop het en met meer vrae gesit as antwoorde.
Ek het ook al 'n hoop gekoester en teleurstelling ervaar.
Maar ek het ook al geleer dat Yahweh ons nooit alleen los in die woestyn nie.
Hy stuur vir ons genade reën wanneer ons wil moed opgee. Hy les ons dors met geduld en voed ons met krag wanneer ons swak raak. Hy dra ons wanneer die sand ons voete begin brand.
Almal van ons het 'n woestyntyd nodig, want die woestyn het plek vir groei.
Dis in jou woestyn wat Yahweh jou vorm en voorberei vir wat voorlê.
“Ek het jou in die woestyn geken, in die land van droogtes” – Hoséa 13:5
“Hy het die woestyn 'n waterplas gemaak en die dor land waterfonteine” – Psalm 107:35
Gebruik jou tyd in jou woestyn en leer daaruit, want as sade vir die perfekte omstandighede gewag het om te groei, sou daar nooit woestynrose gewees het nie.
Sonder jou woestyntyd sal jy dalk nooit die beloofde land ervaar nie.
Hou moed en vertrou op Yahweh, want selfs in jou woestyntyd het hy reeds jou gebede verhoor.