top of page

Gee, sonder om terug te verwag




Hoe moeilik is dié nie eintlik nie? Maar, hoe maklik sal dit nie word as ons vrylik gee sonder om te verwag nie. As dit deel van ons menswees kan word, kan ek nie myself eers indink watse innerlike geluk ons meer sal kan beleef nie.


Ek praat nie van aardse dinge nie - iets doodeenvoudig soos ‘n opregte glimlag, ‘n ekstra 10 minute vir nog ‘n koppie koffie saam ‘n vriendin. Hoe lekker is dit om iemand se gesig te sien ophelder met ‘n geplukte blom uit die tuin? ‘n Tuis gebakte muffin as iemand oorkom vir koffie? Veel eerder as ‘n gekoopte dis ten duurste.


“Giving isn’t about what you have in your hands - it’s what you have in your heart.”


Ons meisiekind het onlangs 3 geword en ek het myself amper dood gebak en partytjie sakkies gepak. Toe ek klaar is en my kombuis ‘n kyk gee, het ‘n gevoel van absolute dankbaarheid my oorspoel. Ek kon SELF vir my dogtertjie al haar cupcakes bak, elke pakkie vul met klomp lekkernye wat ons skool toe stuur. Die middag bekyk ek die kindertjies wat buite speel - elkeen nog met sy sakkie lekkergoed. Pure vreugde.


Ek het uit my hart uit gegee, ek het nie die beste gaan koop nie, my cupcakes het verseker nie soos die van ‘n professionele bakster gelyk nie, maar dit het vanuit ‘n plek in my hart gekom wat net bloot uit liefde bestaan.


Soos ek hierdie agter die rug het, besef ek weereens hoe belangrik en hoe bevoorreg ons is om te kan gee. Dit mag dalk nie vir ons soos die beste lyk nie, maar die wat ontvang het dit dalk nog nie gehad nie. Onskuldige kinders wat elke klein ding geniet en waardeer asof daar nie beter is nie, hoe mooi is dit nie?


Mag ons altyd onthou, dat wanneer ons gee, dat dit met ‘n opregte hart gedoen sal word. En die een wat aan die anderkant staan om dit te ontvang, dit dalk meer nodig het as jy. Want, eendag staan ek en jy ook dalk aan die ander kant om te ontvang.


Gee sonder om terug te verwag. Leef in liefde saam mekaar. Bou mekaar op, en help waar jy kan. Jy gaan meer terug kry.




191 views0 comments

Related Posts

See All
bottom of page