• Noelene Bester

Genees van binne

Hoe sal jy die letsels aan jou lyf beskryf? Vir my is dit bloot ‘n teken van my oorlogswonde. Dit waar deur ek is, wat my gevorm het in wie ek vandag is. Vir my kan dit as ‘n bewys wees dat ek ‘n goeie stryd gestry het en deur God se genade oorwin het. Jou keisersnee het gesond geword, die steke aan jou liggaam het gesond geword, en elke wond het ‘n storie wat net jy ken, maar hierdie liggaamlike genesing het nie ewigheidswaarde nie. Die genesing van sielswonde is vir my belangriker as enige iets anders. Hierin lê ewigheidswaarde, hier lê ‘n dieper jy. Soms is ons te bang om ons sielswonde te genees, want dit bring dalk seer terug, of slegte herinneringe. Die kern van hierdie soort genesing heg ons aan lyding. Is lyding nie ook goed in ‘n mate nie? As jy buite die boks dink, hierdie lyding transformeer jou in ‘n sterker mens, dit verander jou om dalk meer positief te dink en die beste in situasies te probeer sien. Gebruik jou lyding om te groei. Ek dink ons werk daagliks so hard om swaarkry en lyding te vermy. Ons wil verhoed dat ons geliefdes, kinders, familie, vriende en selfs vreemdelinge ly. Want, wie verdien dit? Terwyl ons al hierdie dinge wil vermy en verhoed, vergeet ons watse pad die Here reeds met ons stap wanneer die lewe ons nie mooi behandel nie. Kerm ons net oor ons omstandighede, of vertrou ons steeds op God om die groter prentjie te probeer raak sien? Gedurende slegte tye is ons nader aan God. Wanneer die Here jou optel en jy kyk opnuut neer met engelsvlerke na al jou bekommernisse en sien God se hand daarin, presies wat Hy jou wil leer. Dis hierdie swaarkry wat maak dat ons op ons Vader se skoot klouter of by Sy voete gaan sit, met die onskuld van ‘n kind by Hom huil en al jou vrae vra. Hier ervaar jy die wonder van God se vrede. Jy gaan beter voel na jou trane gestort is, maar dit gaan dalk nie jou lyding laat ophou nie, maar om in Sy teenwoordigheid te wees is van onskatbare waarde. Geneesde sielswonde is ons wapentuig. Dit maak mens groot. Groot en sterk en empaties genoeg om jou eintlike doel op aarde te vervul deur ander van diens te wees. Mag jou sielswonde ‘n vae herinnering word, wat nie meer seer veroorsaak as jy daaraan dink nie. Die rofies is af, geen littetekens wat wys nie. Sielswonde wat gesond word is eintlik wonderlik, jy het nie littetekens hiervan nodig om te bewys wat jy oorwin het nie. Genesing sal wys in sagte hande wat gewillig is om te help, ore wat bereid is om te luister, ‘n hart wat verstaan, raad sal gee sonder oordeel, arms wat vertroos en ‘n mond wat oorloop om te vertel van God se getrouheid, Sy genade… Hierdie genesing is geestelike rypheid.




329 views0 comments

Recent Posts

See All