Genesing Begin Met Oorgawe
Daar is hierdie oomblik wat plaasvind, soms eenvoudig en nie nuuswaardig, maar daar is woorde geuiter
wat eerder kon gebly het of optrede teenoor jou wat die wind net so bietjie uit jou seile geblaas het, en
die saadjie is geplant. Soos tyd aanstap word die saadjie onbewustelik water en kos gegee. En voor jy
jou kan keer, het bitterheid ‘n houvas om jou hart gekry.
Maar wat as jy geldige rede het om bitter te wees? Hebreërs 12:15 waarsku: “Moenie dat daar onder
julle ‘n loot van bitterheid opskiet wat moeilikheid veroorsaak en baie aansteek nie.”
Bitterheid begin nooit as bitterheid nie. Jy is ontsteld, kwaad, geskok, teleurgesteld, maar nie bitter nie.
Hierdie is slegs die oorsprong, maar bitterheid gaan soveel dieper. Jy is ontsteld, kwaad, geskok,
teleurgesteld omdat jy glo dat jy onregverdig hanteer is. En dis hierdie gedagte wat dan gevoed word.
Jy speel die scenario oor en oor in jou kop af en ervaar weer al die emosies van daardie oomblik.
Behalwe dat die emosies elke keer meer intens raak en die ongeloof oor wat gebeur het, net groter.
Wat gebeur die dag wanneer jy besef dat daar wel ‘n loot van bitterheid opgeskiet het? Die Bybel het
daarteen gewaarsku so beteken dit dat dit dan te laat is om iets daaraan te doen? En hoe raak jy wel
ontslae van hierdie boeie om jou hart?
Gelukkig is daar ‘n antwoord en oplossing vir bitterheid.
Efesiërs 4:31 vra: “Raak saam met alle ander slegte dinge ontslae van alle bitterheid, woede, wraak,
geskel en gevloek. Die Bybel sal nie vir ons ‘n opdrag gee vir iets indien dit nie vir ons moontlik is om dan
wel te doen nie. Ons krag om die opdrag uit te voer gaan egter net nie uit onsself kom nie.
Vir vier jaar het ek met bitterheid binne my rondgeloop. Ek kon nie glo dat mense doelbewus kon optree
soos hulle opgetree het nie. En dit was alles vir my so onregverdig omdat dit gelyk het of hulle net
wegkom met als. Ek het onsigbaar gevoel en of ek en my gevoelens nie saak maak nie. Dat ek dinge net
moes aanvaar en aangaan met my lewe.
Dit het gevoelens binne my begin vorm waarop ek nie trots was nie. Die gevoel van onregverdigheid en
wrok het my oral gevolg en elke area van my lewe begin affekteer.
Daar was baie gehuil voor die Here. Geskel oor hoe kon Hy, wat almagtig en alwetend is, toelaat dat dit
gebeur het. En gesmeek dat Hy net die swaar gewig van bitterheid in ‘n oogwink sou wegneem want ek
kon nie meer so lewe nie.
Die deurbraak het gekom die dag wat ek besef het ek moet alles oorgee aan die Here: die seer, die
teleurstelling, die vrae, die nie verstaan nie. Ek moes leer verstaan dat om te laat gaan nie beteken dat
wat hulle gedoen het dan oukei is nie, maar dat ek dit vir myself doen sodat ek kan vry raak. Ek moes
God vertrou het dat Sy plan groter is en dat ek ten spyte van als wat gebeur het, Hom nogsteeds kan
vertrou.
Dit was nie maklik nie, want uiteindelik gee jy jou reg op om die slagoffer te wees.
Maar hoe gee mens oor? Jy mag dalk sê dat jy het dit al probeer, maar die gevoelens en die gestoei bly
vasklou. Dis belangrik om te besef dat genesing nie oornag gaan plaasvind nie en dat dit ‘n reis gaan
wees, maar een wat die moeite werd is indien jy besluit om jou alles te gee.
Om oor te gee beteken eerstens om nie meer die oomblik waar die saadjie geplant is, in jou kop oor en
oor te laat speel nie. Jy het nodig om jou denkpatrone te vernuwe soos Romeine 12:2 sê en doelbewus
aan ander dinge te begin dink. Kolossense 3:2 sê ons moet ons gedagtes laat beheer deur hemelse dinge
en nie deur dinge op aarde nie. Wanneer die swaar gedagtes opkom, verskuif jou fokus na Jesus, en vind
iets om oor dankbaar of opgewonde te wees. Verander net jou gedagtes!
Bid vir hulle wat jou te na gekom het. Matteus 5:44 sê ons moet ons vyande liefhê en vir hulle bid. Begin
hulle wat jou seergemaak het te seën en wens hulle net die beste toe. Al voel jy hulle verdien dit nie, is
die moeilik om vir hulle te bid steeds ligter as die wrok wat jy ronddra.
Weet en glo en houvas aan die belofte dat God alles ten goede sal laat meewerk vir die wat Hom liefhet
(Romeine 8:28). Niemand se woorde of optrede kan God se plan vir jou lewe vernietig nie. Maak nie
saak wat hulle aan jou gedoen het of die gevolge wat dit te weeg gebring het nie, God het maniere en
middele om ten spyte van dit alles, vir jou meer en mooier te gee as waarop jy oorspronklik gehoop het.
Bitterheid hoef nie verewig saam met jou te leef nie. Gaan plaas alles by die Here se voete neer. Staan
dan op en begin ‘n nuwe reis van hoop, vrede en vergifnis en beleef hoe bitterheid sy kloue stap vir stap
losmaak en uiteindelik wegval.